Betekenisvolle kontraksies behoort gereeld te wees en tussen 20 & 60 sekondes te duur
VRAAG: Sal ek weet wanneer ek regtig besig is om te kraam? Ek wil nie hospitaal toe storm en almal op hol jaag en dan is dit 'n vals alarm nie.
DR. JP DU BUISSON ANTWOORD: Kom ons kyk na die tekens wat definitief vir jou sê dat jy hospitaal toe moet gaan.
As jou water breek, is dit belangrik om in te gaan. Dis onwaarskynlik dat hulle jou dan huis toe sal stuur. Onthou, jy sal nie noodwendig dadelik met kontraksies begin nie.
Natuurlik is dit ook belangrik om hospitaal toe te gaan as jy bloei.
'n Kraamteken soos slymerige vaginale afskeiding, wat soms met bloed gemeng kan wees, is 'n aanduiding dat daar besig is om veranderinge by die baarmoedermond plaas te vind ter voorbereiding van die bevalling. Dit beteken egter nie dat jy begin kraam het nie. Dit kan tot selfs twee weke voor jy begin kraam teenwoordig wees. Kontak eerder jou dokter as jy onseker is.
Laastens is daar kontraksies, en dis soms die moeilikste om te evalueer. Ek sê altyd as jy wonder of dit 'n kontraksie is, is dit waarskynlik nie een nie. Kontraksies is baie seer! Betekenisvolle kontraksies behoort gereeld te wees en tussen 20 en 60 sekondes te duur.
Dan word daar ook onderskei tussen die latente en aktiewe fase van kraam. Die baarmoedermond behoort 3 cm of verder ontsluit te wees voor jy in die aktiewe fase is. In die aktiewe fase behoort jy teen 1 cm per uur te vorder.
In die latente fase is dit egter 'n heel ander storie. Soms kan jy dus ingaan met pynlike en gereelde kontraksies en ontsluiting van minder as 3 cm en dan hou die kontraksies op - dit is vals kraam. Al wat dit dan beteken, is dat jy nog nie gereed vir die bevalling is nie en dan doen die hospitaal die regte ding as hulle jou huis toe stuur.




















