Ouerskap

Kenner: Wat moet ek oor water weet?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

VRAAG:

Ek het onlangs uitgevind dat my nuwe bure se een kind verdrink het. Hulle het 'n heining om die swembad gehad, maar nie 'n net nie en die kind het oorgeklouter. Dis so hartseer en het my laat dink aan wat ek kan doen om my eie kinders te beskerm. Wat moet ek oor waterveiligheid weet? My kinders kan al amper swem.

SKAKEL 082 911 vir hulp. As daar iemand by jou is, vra hulle om 082 911 te skakel of bel 112 vanaf jou selfoon terwyl jy onmiddellik na jou kind omsien.

ANTWOORD:

René antwoord: Baie kinders wat elke jaar verdrink, kan eintlik swem. Al kan jou kinders swem, bly die gevaar daar dat hulle kan verdrink. Moet nooit aanneem dat jou kind veilig is nie. Kinders verdrink vinnig en nie veel water is nodig nie; 'n kind kan selfs in net 2 cm water verdrink. Hou altyd 'n ogie oor jou kind as julle naby water is.

Kinders verdrink nie net in swembaddens nie; 'n vlak poel of fontein hou ook 'n risiko in. Selfs 'n toilet of emmer water kan gevaarlik wees. Moet nooit 'n kind alleen laat naby 'n swembad of in die water nie, selfs al het hy swemvlerkies of 'n ander dryftoestel aan. Swembaddens moet omhein word en kinderbestande slotte hê. Moet nooit die swembadhek laat oopstaan nie en maak seker dit swaai agter jou toe. Dammetjies, baddens en emmers hou ook verdrinkingsgevaar in.

Visdamme, waterversierings en alle waterareas behoort met veiligheidsnette bedek te word. Gebruik altyd 'n behoorlik geïnstalleerde veiligheidsbedekking op jou swembad. Oorweeg dit om deuralarms aan te skaf wat lui wanneer 'n deur oop is, en laat installeer dit by jou swembadhek. Dryftoestelle red nie lewens nie - dink net daaraan as oefentoestelle. Moenie speelgoed in en om die swembad los nie, want dit lok kinders wat dan daarna uitreik en kan inval.

RED 'N KIND WAT VERDRINK Só

  • As 'n kind in die water in die moeilikheid is, beweeg versigtig van agter nader aan hom. As hy oud genoeg is om te verstaan, kan jy met hom praat en vinnig nader beweeg.
  • Sê vir hom, as hy kan verstaan, om sy arms weg van jou uit te strek.
  • Gryp 'n stuk van sy klere of maak jou hand bak onder sy ken.
  • Trek hom terug na die oewer of kant van die waterpoel.
  • Begin onmiddellik met KPR en ontbied die nooddiens - sê vir hulle jy is besig met KPR - as die kind nie asemhaal nie.
  • Draai hom op sy sy indien hy asemhaal en bly by hom tot die nooddiens opdaag.

SEKONDêRE VERDRINKING

Dis baie belangrik om te weet dat 'n kind wat byna verdrink het, dadelik deur 'n dokter ondersoek moet word, selfs al is sy lewe nie meer in gevaar nie.

Sekondêre verdrinking ontstaan wanneer 'n kind wat amper verdrink, of in die water geworstel het, 'n klein hoeveelheid water inasem wat in die longe opbou. Dit kan 'n kind se dood veroorsaak, maar dit kan ook 'n hele ruk duur voor die simptome raakgesien word. Veral by jong kinders sal jy dalk nie weet nie. Iemand wat water ingeasem het, sal sukkel om asem te haal en kan borspyn hê of hoes. Hulle kan ook skielik heeltemal anders begin optree en buitengewoon moeg voorkom.

Sekondêre verdrinking word met suurstof behandel of met ventilasie in die hospitaal. As daar dus 'n voorval was waar jou kind byna verdrink het, maar gered is, moet julle nog steeds dadelik hospitaal toe gaan.

Nog wenke vir waterveiligheid

  • Moet nooit kinders alleen in die bad laat nie. Ignoreer die telefoon en deurklokkie, of neem jou kind saam.
  • Gebruik 'n glyvrye matjie in die bad.
  • Toilette moet met 'n veiligheidsknippie toe gehou word.
  • Maak baddens, emmers en plasswembadjies leeg as julle klaar is en moet dit nie laat rondstaan nie.
  • Sorg dat jou visdammetjie ook beveilig is.
  • Sorg dat kinders nie toegang tot die jacuzzi het nie.
  • As julle naby 'n rivier, vlei of dam woon, moet die tuin omhein wees.
  • Gebruik altyd reddingsbaadjies op 'n boot.
  • Hou jou kinders dop op die strand en moenie swem waar daar nie lewensredders is nie.
  • As jou kinders bedags by 'n oppasser bly, moet sy kan swem, die veiligheidsmaatreëls verstaan en in KPR opgelei wees.
  • Leer jou kind om nooit in onbekende water te duik of spring nie, of wanneer daar mense in die pad is nie.
René Grobler

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM