Foto's (tensy anders vermeld): Louis du Preez
Wat bedreig paddas?
Paddas neem water en suurstof deur hulle velle op. Wanneer die water waarin hulle woon vuil of vergiftig is, vrek die paddas.
Sodra die paddas in 'n gebied begin minder word, kan jy weet: Die gebied word besoedel!
Hulle habitat word al hoe kleiner namate dorpe en stede al hoe groter word.
Die osoonlaag om die aarde wat dunner word, laat meer ultravioletbestraling deur wat die padda-eiers doodmaak. Paddas beland ook gereeld voor motors.
Só kan jy help
Sluit aan by inaturalist.org. Daar is drie groepe waar jy jou foto's van bedreigde paddas - saam met inligting oor waar jy hulle gesien het - kan deel: Leopard Toads of the Overberg, Herps of Southern Africa en AfriHerps.

Dís nou oulik!
In Suid-Afrika het ons vier posseëls met bedreigde paddaspesies!
Kyk of jy dié bedreigde paddas iewers sien

Pickersgill se rietpadda kom slegs aan die KwaZulu-Natalse kus voor. Volgroei is hy maar omtrent so groot soos 'n blokkie sjokolade! Kyk mooi, die padda het 'n liggeel strepie van die snoet tot op die agterlyf.

Die kloofpadda woon ook aan die kus van KwaZulu-Natal en in die Oos-Kaap se woude. Hy is grysbruin met 'n ligter streep oor sy rug.

Met ander woorde kloofpaddas en rietpaddas het klewerige toonpunte om goed aan nat klippe en plante te kan vasklou.
Skurwepaddas se velle is korrelrig en agter die oë het hulle groot kliere wat soos vratjies lyk.

Die Tafelberg-spookpadda woon slegs in sewe standhoudende stroompies teen Tafelberg. Hy is groen met rooierige vlekke en sy pote is aangepas om stewig aan gladde klippe te kan vasklou.

Die meeste paddas se pupil sit dwars in die oog. Die spookpadda s'n sit regop.
Elke toon het 'n T-vormige, klewerige suiertjie aan die punt.

Die westelike luiperdskurwepadda broei in diep water in die fynbos van die Kaapse Skiereiland en die Overstrand. Sy vel is roomkleurig met simmetriese rooibruin kolle en daar is 'n dun roomkleur lyntjie oor sy rug. Dié paddas word gróót - tot 15 cm lank!

Die Amatola-skurwepadda kom slegs in die Amatolaberg in die Oos-Kaap voor. Sy vel is gryswit en korrelrig en hy het kort tone. Dié padda broei in holtetjies waar reënwater vir 'n ruk staan.

Rose se bergskurwepadda sal jy slegs in vlak poele tussen bergfynbos in die Tafelberg- nasionale park vind. Sy oog het 'n goue iris rondom die swart pupil. Anders as ander skurwepaddas het hy nie vratte nie, maar 'n gladde vel. Dis die enigste Suid-Afrikaanse padda wat doof is en glad nie roep nie.

Die noordelike mospadda kry 'n mens net in die Groot-Winterhoek-wildernisgebied. Daar is nie webbe tussen sy tone nie en volgroei is dié paddatjie maar so groot soos 'n jellieboonlekkertjie.

Die mikropadda kry 'n mens net in die suidweste van die Wes-Kaap. Hy het ook verskillende kleure, maar sy pensie is swart-en-wit gespikkel en daar loop altyd 'n fyn strepie oor sy rug. Dis 'n klein padda - so groot soos 'n Super C-suiglekker.
Mospaddas en mikropaddas kom slegs in die Wes-Kaap voor.

Hulle pensies is glad en wit met vlekkies. Die tone het nie suiertjies nie.






