Vraag: My kleuter van vier jaar drink omtrent twee keer gedurende die dag en party nagte twee tot drie keer aan my bors. Ek weet hy soek nie regtig meer melk nie, maar wil hom nie emosionele skade berokken deur my bors te weier nie. Hy gaan slaap ook nie in die aand sonder sy voeding nie. Ek is raadop. Hoe kan ek hom van die bors af kry?
Lisanne du Plessis antwoord: Dit maak nie saak of dit die ma of kind se besluit is om borsvoeding te staak nie, maar geleidelike spening is vir albei makliker en beter.
As 'n ma onmiddellik moet ophou borsvoed, byvoorbeeld as sy chemoterapie moet ondergaan, is dit 'n goeie plan om 'n laktasiekonsultant te raadpleeg om die beste raad vir haar spesifieke omstandighede te gee.
As 'n ma besluit om geleidelik op te hou, kan sy begin deur een voeding per dag of elke tweede dag te probeer oorslaan. Dit sal help dat borsmelkproduksie stadig afneem en dat 'n mens se borste nie onnodig vol en ongemaklik word nie.
Die "moenie aanbied, moenie weier nie"-tegniek is 'n veilige en doeltreffende benadering tot spening. Ma borsvoed wanneer die kleuter vra, maar bied nie haar bors aan as dit nie gevra word nie.
Daar is geen manier om te skat hoe lank spening met net hierdie tegniek sal duur nie, maar dit kan versnel word as dit saam met ander metodes gebruik word.
Die beplande spening van 'n kleuter kan 'n positiewe ervaring wees as 'n mens in staat is om wedersyds aanvaarbare alternatiewe vir borsvoeding te vind.
Dit kan insluit 'n verandering in roetine of om, wanneer 'n voeding verwag word, te beplan om dit te omseil met die aanbieding van vervangers en afleidings.
Begin byvoorbeeld met 'n aktiwiteit waarvan jou kleuter baie hou net voor die tyd dat hy gewoonlik sou borsvoed:
Pak sy gunsteling-legkaart of lees sy gunsteling-storiereeks, maak 'n jogurt- en-vrugte-gladdejantjie en verduidelik dat dit help om sy bene en tande sterk te maak, net soos borsmelk.
Wat aandvoedings betref, kan dit help om 'n nefie of niggie te nooi om oor te slaap en so die slaaproetine te verander.
Maak seker dat jy ekstra tyd saam met jou kleuter deurbring terwyl jy besig is om hom geleidelik te speen. Dit sal help dat hy nie afgeskeep voel nie en dat jy nie onnodig skuldig voel nie.

















