Vraag: Ek het ingestulpte tepels. Ek wil baie graag borsvoed en ek weet daar is verskeie produkte op die mark wat borsvoe-ding vir vroue met ingestulpte tepels makliker maak. Sal ek suksesvol kan borsvoed en wat beveel jy aan om borsvoeding makliker te maak?
Prof. Lisanne du Plessis antwoord: Dit is belangrik om te onthou dat 'n baba borsvoed en nie tepelvoed nie. Jou bors is vir jou baba die eerste "ontmoeting" met 'n bors, en hy sal dus nie weet hoe lyk 'n "gemiddelde bors" of 'n "gemiddelde tepel" nie.
Solank die baba 'n groot genoeg deel van die bors in sy mondjie neem, sal die meeste plat of ingestulpte tepels nie 'n probleem wees nie. Indien die vashou en posisionering van die baba asook die aanhegting aan die bors met genoeg sorg en aandag hanteer word, behoort borsvoeding 'n goeie afskop te kry.
In die algemeenste vashou-posisie moet jou baba op sy sy gedraai word sodat hy na jou bors kyk, met sy magie teen jou maag. Jy kielie dan jou baba se bolip met die tepel. Wanneer die mondjie wyd oop is, kan jy jou bors aanbied sodat jou baba nie net aan die tepel drink nie, maar 'n groot deel van die donkerder deel van die tepel-area (areola) in sy mondjie neem. Indien jy sukkel met aanhegting, kan jy die rugbyposisie beproef, waar baba se kop onderdeur jou arm pas en hy met die boudjies na agter vasgehou word.
Moenie vir jou baba fopspene of bottels gee nie, aangesien dit tepelverwarring kan veroorsaak, wat in die geval van ingestulpte tepels beslis 'n probleem kan wees. 'n Borspomp kan help om die tepel voor borsvoeding te vorm en uit te trek. Kenners verskil daaroor of dit enigsins help om die bors of tepels voor te berei.
Hormoonveranderinge tydens swangerskap kan jou tepel soepeler maak en ingestulpte tepels verdwyn soms tydens swangerskap en borsvoeding.
Indien jou tepels so groot is dat jou baba sukkel om aan die bors te heg, moet jy eers probeer om jou baba sover te kry dat hy sy mondjie wyd oopmaak voor jy die bors aanbied. Soms wanneer die bors te vol is, kan die tepel te styf wees en kan die baba nie goed aanheg nie. Dis 'n goeie plan om dan 'n bietjie uit te melk tot die bors sagter en meer gemaklik is en dan weer die bors vir jou baba aan te bied. As dit steeds 'n stryd afgee, kan jy meer uitmelk en die borsmelk in 'n koppie vir jou baba gee.
Dit is noodsaaklik dat jy vel-teen-vel- kontak met jou baba behou. Trek vir hom net 'n doek aan en lê hom op jou bors neer. Namate hy groter word, sal hy wel die groter tepel baasraak.

















