KENNERRAAD | My melk word te min

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Vraag: Ek borsvoed al 10 maande lank, maar my melk is deesdae min. Ek kry maar so 50 tot 60 ml op 'n slag uitgepers wanneer ek soggens en saans uitmelk. My dogtertjie eet en slaap goed. Sy eet Nestum-pap wat ek met borsmelk aanmaak, want sy het uitgeslaan van Cerelac-pap, wat met kookwater aangemaak word. Dit voel asof ek nie genoeg melk uitpomp vir 'n voeding soggens by haar oppasser sowel as vir haar pap nie. Moet ek aanhou, of kan ek haar pap met formulemelk aanmaak?

Lisanne du Plessis antwoord: Nestum en Cerelac word van koring en/of rys gemaak, afhangend van die spesifieke formule, maar Cerelac bevat melkpoeier (afkomstig van koeimelk) en Nestum nie.

Die uitslag wat jy dus gesien het nadat jy Cerelac gegee het, kan beteken jou kind is óf onverdraagsaam teenoor koeimelk, óf allergies daarvoor.

Kos-onverdraagsaamheid kom baie meer algemeen voor as ware kosallergieë.

Wêreldwyd is net sowat 2 tot 3 persent van mense werklik vir koeimelk allergies. Die allergie word dus dikwels oorskat en oorgediagnoseer.

Babas wat borsmelk drink, se kans om 'n koeimelk-allergie op te doen is kleiner.

As die allergie egter bevestig word, sal 'n uitskakelingsdieet aanbeveel word om te verseker dat daar nie koeimelkproteïen in haar dieet is nie. 'n Dieetkundige is die beste gesondheidswerker om hiermee te help.

As 'n baba wat formulemelk drink 'n koeimelk-allergie ontwikkel, word 'n uitsluitlik gehidroliseerde formule (terapeutiese formule) asook 'n koeimelkvrye dieet vir die baba aanbeveel.

Vroeër is ouers aangeraai om die sterkste voedselallergene (koeimelk, vis, grondbone, eierwit, soja en gluten) eers ná 'n jaar by hul baba se dieet in te sluit.

Deesdae wys navorsing dat dit wel van ses maande af (wanneer vaste stowwe bekendgestel word) ingesluit kan word. 'n Praktiese riglyn is om vir 'n baba ná ses maande se eksklusiewe borsvoeding een keer per dag 'n teelepeltjie pap of graankos (behalwe vir ryspap bevat die meeste graankosse gluten) te gee saam met voortgesette borsvoeding.

Ná drie dae kan 'n teelepel fyn gedrukte eier gemeng met die pap of borsmelk gegee word.

'n Verskeidenheid groente en vrugte kan ook op dieselfde manier bekendgestel word.

Nog later kan 'n klein bietjie gepasteuriseerde koeimelk by die baba se pap geroer word.

Van net so voor sewe maande af kan baie fyn vis sonder grate en ander soorte vleis gegee word.

Daar is nie streng reëls oor wat die eerste voedsel behoort te wees nie, maar daar is onlangs bevind dat babas wat met groente begin, later meer van groente hou.

Die volume moontlike voedselallergene wat jou baba inkry, is baie belangrik en daarom moet dit aanvanklik net in klein hoeveelhede gegee word saam met voortgesette borsvoeding.

Die beste beskerming teen die ontwikkeling van voedselallergieë bly voortgesette borsvoeding, terwyl die baba aan vaste kos blootgestel word.

In die geval van jou 10 maande oue dogtertjie kan jy dus probeer om eers net 'n teelepel koeimelk en 'n teelepel pap te meng en dié klein hoeveelheid oor 'n tydperk van drie dae vir haar te gee om te kyk of sy weer uitslaan.

As dit wel gebeur, moet jy dadelik 'n dokter en 'n dieetkundige raadpleeg.

Om jou melkproduksie te vermeerder kan jy probeer om, indien moontlik, deur die dag ook uit te melk.

So nie, kan jy probeer om in die aand en oor naweke meer te borsvoed en meer kontaktyd met jou baba te hê. Die vel-tot-vel-kontak stel hormone vry wat jou liggaam help om meer melk te produseer.

Prof. Lisanne du Plessis, Borsvoedingskonsultant

SPELETJIES VANDAG

CTA