Vraag: Ek het pas my tweede kind gehad en ons wil nie nou dadelik weer swanger raak nie. Die ginekoloog het verskeie metodes van voorbehoeding met ons bespreek. Een daarvan was die koperstangetjie. Wat is die voor- en nadele daarvan?
Dr. JP du Buisson antwoord: Die intrauteriene apparaat (IUA) van koper is 'n baie doeltreffende voorbehoedmiddel. Die mislukkingsyfers daarvan is een uit 200 gebruikers. Dis omtrent net so goed as om jou te laat steriliseer, met die voordeel dat dit omkeerbaar is.
Nog 'n voordeel is dat wanneer dit ingeplaas is, dit dadelik werk. Jy hoef dus nie te onthou om iets te doen soos om 'n pil te drink nie. Daar is 'n klein kans dat 'n gaatjie in die baarmoeder gesteek word wanneer dit ingeplaas word, en as jy borsvoed is dit dus beter om daarmee te wag tot agt weke ná jou baba se geboorte.
Dit word sommer gewoonlik in die dokter se spreekkamer ingeplaas en dus hoef jy nie teater toe te gaan nie.
Jy kan verwag dat jou maandstonde 'n bietjie swaarder sal wees.
As jy reeds baie swaar menstrueer, is die koper-IUA dus waarskynlik nie die beste keuse vir jou nie. Dan kan jy die Mirena-IUA oorweeg, wat in die meeste gevalle 'n ligter maandstonde tot gevolg het - in sekere gevalle kan pasiënte met die Mirena heeltemal ophou vloei.
In die 1970's het die koper-IUA weens infeksie 'n slegte naam gekry, maar dis opgelos deurdat die apparaat se toutjie na 'n monofilament verander is. Die voorkoms van ektopiese swangerskappe (buite die baarmoeder) is in die algemene bevolking maar sowat 20 uit 1 000.
As jy wel swanger raak terwyl jy die koper-apparaat dra, is die kans groter dat dit 'n buisswangerskap kan wees.
Laastens werk die koper-IUA tussen vyf en 10 jaar lank doeltreffend. Maar jy kan dit natuurlik vroeër laat verwyder as jy kans sien vir die derde enetjie!

















