
Kleurryke blomblaarkrans
BENODIGDHEDE
- stukkie karton en 'n potlood
- skuimkransvorm
- papier in verskillende skakering van een kleur. Ons het pienk gekies
- gom

GAAN SO TE WERK
1. Trek die vorm van 'n blaar op die karton af. Knip dit uit en kyk of jy gelukkig is met die skaal en dat dit goed by die grootte van die skuimkrans pas. Dis die patroon wat jy vir die blare gebruik.
2. Gebruik die kartonblaar om blare uit die papiervelle te sny. Mik vir altesaam 80 blare. Vou elke blaar in die helfte om dit 'n blaarvorm te gee.
3. Begin die blare effens oormekaar op die skuimkrans plak. Plak sowat agt blare voor jy met die volgende skakering voortgaan.
4. Herhaal tot die krans vol is.
5. Laat die krans droog word voor jy dit ophang.

Pakkies vol plesier
BENODIGDHEDE
- syfers (by Typo, PNA of Crazy Store te koop of maak jou eie)
- 24 klein bruinpapiersakkies (by West Pack Lifestyle te kry)
- gom
- klein houtpennetjies
- piepklein bederfies vir die pakkies
- wondergom
- mooi ster om die boom mee af te rond

GAAN SO TE WERK
1. Plak syfers van 1 tot 24 met gom op die sakkies vas. Vir die pret kan jy van die pakkies syferloos laat en op daardie dag jou kind enige pakkie laat kies.
2. Pak 'n klein geskenkie in elke sakkie met 'n mooi nota of grappie by.
3. Vou die sakkie toe en knip die pennetjie vas.
4. Plak die pakkies met wondergom aan die muur vas in die vorm van 'n boom. Die ster is natuurlik heel bo.
5. Dis meer pret as jou kind die dag se pakkie moet soek; moet dit dus nie in volgorde rangskik nie.
6. Op 1 Desember kan jou kind begin oopmaak, en dan is daar een vir elke dag tot en met Oukersdag.



















