Ouerskap

Kiemvrye bottels vir baba

Getty/Gallo Images
Getty/Gallo Images

Jou pasgebore bondeltjie is kwesbaar omdat sy immuunstelsel nog onderontwikkel is, wat dit makliker maak vir infeksies of siektes om 'n houvas te kry. Die beste manier om jou baba teen infeksies te beskerm is met borsvoeding, maar as dit nie moontlik is nie of jy moet teruggaan werk toe en jou baba moet bottel drink, is die deeglike sterilisasie van al sy voedingstoerusting een van die belangrikste maniere waarop jy hom kan beskerm, veral teen siektes soos gastroënteritis.

Tot wanneer moet ek steriliseer?

Kenners verskil oor presies hoe lank jy jou baba se bottels en ander voedingstoerusting moet aanhou steriliseer, maar die meeste is dit eens dat dit minstens in die eerste ses maande altyd gesteriliseer moet word. Ander kenners beveel aan dat jy aanhou tot jou baba 'n jaar oud is, omdat hy dan genoeg van sy eie teenliggaampies kan maak om infeksies beter te beveg, terwyl nog 'n groep aanbeveel dat jy aanhou steriliseer tot jou baba nie meer bottel drink nie. As jy wel ná ses maande ophou om jou baba se bottels te steriliseer, moet jy baie seker maak dat jy steeds al sy voedingstoerusting baie deeglik met warm water en seep was.

Wat moet ek steriliseer?

Alle voedingstoerusting moet in die eerste ses maande gesteriliseer word. Dit sluit in bottels, tiete, botteldoppies en -skyfies, fopspene, tepelskerms as jy dit gebruik, en jou borspomp, asook die tangetjie waarmee jy die bottels en tiete hanteer. As jy byvoorbeeld jou baba se formulemelk met 'n metaalmes afskraap, behoort jy die mes ook te steriliseer.

ONTHOU OOK

Hitte kan veroorsaak dat bottels en tiete verweer. Gaan gereeld jou bottels en tiete na en gooi dié weg wat gekraak of erg gekrap is, aangesien bakterieë maklik daarin kan vassit.

STERILISERING STAP VIR STAP

Stap 1 Was jou hande deeglik met warm water en seep en droog dit af.

Stap 2 Was die bottels en tiete deeglik met warm water en seep, verkieslik so gou moontlik ná 'n voeding. Gebruik 'n groot bottelborsel om seker te maak die bottel is deeglik skoon, en 'n kleintjie om die tiet binne goed skoon te maak. Spuit water deur die tiet om seker te maak daar is nie melk wat iewers vassit nie. Spoel dit goed af in skoon water.

Stap 3 Steriliseer die bottels en tiete deeglik deur 'n kouewatersterilisasie-oplossing te gebruik, dit te kook, dit in die mikrogolf te steriliseer of 'n spesiale elektriese steriliseerder in te span. Volg die aanwysings van die metode wat jy kies nougeset.

Stap 4 Haal ná sterilisasie die bottels uit met 'n tangetjie, plaas die doppies op met die tiete na binne en bêre dit op 'n skoon plek soos in 'n plastiekhouer met 'n deksel op. Met sommige steriliseerders kan jy dit in die houer hou. Bottels bly nie lank steriel nadat dit gesteriliseer is nie. Sterilisasie moet dus verkieslik plaasvind net voor jy die bottels wil gebruik. Steriliseer bottels wat meer as 24 uur tevore laas gesteriliseer is, weer voor gebruik. Maak seker jou hande is altyd deeglik gewas voor jy die gesteriliseerde bottels hanteer.

HET JY GEWEET?

As jy water 10 minute lank teen 100 grade Celsius by seevlak kook, sal dit byna alle kieme doodmaak, maar hoe hoër jy bo seevlak is, hoe laer is kookpunt. By 4 000 meter bo seevlak is kookpunt byvoorbeeld 86 grade Celsius en moet jy dit dus langer kook (20 minute) om dieselfde vlak van sterilisasie te bewerkstellig.

Jou sterilisasie-opsies

  • CHEMIESE VLOEISTOF

Chemiese middels soos Milton en Sterilon is maklik om te gebruik. Al wat jy nodig het, is 'n klein emmertjie met 'n deksel, 'n dryfplaat om die bottels onder water te help hou, water en die chemiese oplossing. Milton moet jy elke 24 uur vervang terwyl Sterilon elke sewe dae vervang moet word. Sterilisasie met Milton duur 30 minute, en met Sterilon 10 minute. Maak seker daar is nie lugborrels in die bottels nie en dat dit volledig onder die water is sodat dit oral met die sterilisasie-oplossing in aanraking kom. Was die houer deeglik met seep en water elke keer wanneer jy die oplossing vervang.

Voordele Jy kan dit op enige plek gebruik en het nie elektrisiteit nodig nie - dit is dus ideaal vir kampeer. Jy kan dit ook gebruik vir dele van borspompe wat dalk nie in die mikrogolf gesteriliseer mag word nie. Jy kan die bottels daarin laat lê tot net voor jy dit gebruik. Dit verniel nie die bottels en tiete soveel as hitte nie.

Nadele Sommige babas kry sproei van sekere chemiese steriliseerders. Dis 'n voortdurende uitgawe omdat jy gereeld nuwe sterilisasiemiddel moet koop. Sommige oplossings verkleur die tiete effens as jy dit te lank daarin laat lê. Jy kan nie metaal so steriliseer nie.

  • MIKROGOLF-STERILISEERDER

Tap 'n bietjie water onder in die mikrogolfsteriliseerder, pak die bottels in volgens die vervaardiger se aanwysings en plaas dit vir die aanbevole tyd in die mikrogolfoond. Moet dit nie oorlaai nie en maak seker die eenheid kan dig toemaak. Sterilisasie duur drie tot agt minute. Stoom kan uit die steriliseerder ontsnap en jou brand as jy dit oopmaak voor dit klaar afgekoel het; wees dus versigtig.

Voordele Dis vinnig en maklik om te gebruik en 'n betreklik goedkoop opsie, want ná jou aanvanklike aankoop betaal jy net vir krag.

Nadele Daar is 'n risiko van Bisfenol A (BPA) by sekere plastiekbottels. Maak dus altyd seker jou bottels is BPA-vry voor jy dit in die mikrogolf steriliseer. Sommige mikrogolf-steriliseerders is handelsnaam-spesifiek, wat dit moeilik maak om dit vir ander bottels te gebruik.

  • SELFSTERILISASIE-BOTTELS

Hierdie opsie behels dat jy 'n bietjie water onderin die basis van die bottel tap, die tiet bo-op plaas, die bottel bo met 'n doppie seël en dit 'n paar minute in die mikrogolf plaas - lees die vervaardiger se aanwy- sings vir die aanbevole tyd per bottel. Die tyd kan verskil afhangende van die krag van jou mikrogolfoond. Soms kan jy ook 'n fopspeen daarin sit.

Voordele Jy kan die bottel gou steriliseer net voor jy dit moet gebruik. Jy het geen ander sterilisasietoerusting nodig vir bottels nie en kan dus maklik die bottel op enige ander plek soos by vriende se huis steriliseer.

Nadele Jy kan net die bottels so steriliseer en sal steeds 'n ander opsie moet vind vir jou borspomp of ander voedingstoerusting.

  • ELEKTRONIESE STOOMSTERILISEERDER

'n Losstaande elektriese stoomsteriliseerder kan gewoonlik ses tot agt bottels en tiete steriliseer. Maak seker jy pak dit volgens die vervaardiger se aanwysings en dat die bottels met die opening na onder gepak is. Die eenheid behoort dit binne agt tot 20 minute te steriliseer.

Voordele Jy kan gewoonlik die bottels in die steriliseerder bêre. Dis altyd beskikbaar omdat dit al is waarvoor jy dit gebruik.

Nadele Dis duur en net geskik vir waar jy elektrisiteit het. Dis soms handelsnaam-spesifiek en dan kan jy nie ander bottels daarin steriliseer nie. Nie alle dele van sommige borspompe kan so gesteriliseer word nie.

  • KOOK

Plaas 'n groot kastrol op die stoof en pak al die bottels, tiete en ander voedingsapparate daarin. Bedek dit met koue water en maak seker daar is geen lugborrels in die bottels nie. Sit 'n deksel op en bring tot kookpunt. Kook minstens vyf minute. Laat die water afkoel voor jy die bottels met 'n gesteriliseerde tangetjie uithaal.

Voordele Dit word deeglik gesteriliseer en jy kan dit op bykans enige plek doen, selfs oor 'n oop kampvuur. Dis die maklikste manier om metaalvoorwerpe te steriliseer.

Nadele Dis omslagtig en moeite. Daar is die gevaar dat jy jou kan brand. Dit kan die lewensduur van bottels en tiete verkort.

  • EN DIE SKOTTELGOEDWASSER?

Al was jy kleinding se bottels in die skottelgoedwasser, moet jy dit steeds agterna steriliseer omdat die meeste skottelgoedwassers nie die hittegraad bereik wat vir sterilisasie nodig is nie.

WITWARM DEBAT

'n Ruk gelede was daar 'n taamlike debat in Australië omdat sommige privaat hospitale aan ma's gesê het dis nie meer nodig om bababottels te steriliseer nie, maar genoeg om dit deeglik te was.

Die staatshospitale het egter steeds sterilisasie aanbeveel volgens die riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie.

Sekere Amerikaanse mediese internetbronne sê ook sterilisasie is nie meer nodig solank die water skoon is nie.

Maar prof. Wilma de Witt, hoof van die neonatale eenheid by Steve Biko-Akademiese Hospitaal in Pretoria, sê in Suid-Afrika is die sterilisasie van bababottels nie onderhandelbaar nie. Baie babas sterf nog aan maagdermsiektes en baie daarvan word teruggevoer na vuil bottels en voedingsbesmetting.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM