Klasdraf voor baba kom

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Hoe beter jy voor die geboorte van jou baba ingelig is, hoe groter is die kans dat jou bevalling glad sal verloop. Tog woon net vyf persent van Suid-Afrikaanse ouers ooit voorgeboorteklasse by, sê Lynne Bluff, nasionale koördineerder van die Professionele Forum vir Kindergeboorte-opvoeders.

Navorsing het al oor en oor die voordele van voorgeboortelike opvoeding bewys, sê sy. Dit verlaag jou stres en gee jou selfvertroue 'n hupstoot voor, tydens, en ná die geboorte.

Jy weet meer van babasorg, het 'n beter kans op suksesvolle borsvoeding en die gevaar dat jy nageboortelike depressie sal opdoen, is kleiner. Voorgeboorteklasse verhoog ook pa's se betrokkenheid.

JY IS MEER IN BEHEER

Voorgeboorteklasse verander ouers van passiewe ontvangers van gesondheidsorg in aktiewe deelnemers aan die besluitnemingsproses, sê Hettie Grové van die Grove Academy of Health Education. Hettie is 'n verpleegkundige en laktasiekonsultant en bied sedert 1988 al voorgeboorteklasse aan.

"Sodra 'n mens weet wat om te verwag, verdwyn jou vrees vir die onbekende. Jy voel meer in beheer en jou ervaring is outomaties meer positief."

As jy jou storie ken, gaan jy ook vir die mediese personeel die regte vrae kan vra, meen Christél Jordaan, ervare vroedvrou van Pretoria. "Die ideaal is dat julle saam met jul ginekoloog of vroedvrou besluite neem eerder as dat hulle dit namens julle doen."

Volgens navorsingstudies is ma's gelukkiger met hul geboorte-ervaring as hulle aan die besluitnemingsproses kon deelneem. Hulle verwerk ongewenste ingrypings makliker as hulle 'n mate van beheer gehad het. 'n Bevredigende geboorte-ervaring is bemagtigend: Dit verhoog 'n ma se selfvertroue en bevorder haar verhouding met haar baba.

KAN DR. GOOGLE NIE HELP NIE?

Inligting is deesdae net 'n muis-klik ver. Sommige amper-ouers reken voorgeboorteklasse is 'n mors van tyd en geld, want alles wat hulle wil weet, is iewers op die internet beskikbaar. Maar is dit? Die spreekwoord lui dat papier geduldig is en die kuberruim is selfs geduldiger. Verouderde, misleidende of doodgewoon verkeerde inligting is ewe geredelik beskikbaar as navorsingsgebaseerde kundigheid.

Enigeen kan op die internet haar opinie lug - of bangmaakstories vertel. Hoewel voorgeboortelike opvoeders ook mense met hul eie vooroordele is, is hulle darem kundiges wat opgelei is om so objektief moontlik te dink. Die meeste woon gereeld werksessies by om op hoogte te bly van die nuutste navorsing, juis sodat ouers nie hul pad deur berge internet-inligting hoef te baan nie.

Sodra jy weet wat om te verwag, verdwyn jou vrees vir die onbekende.

VERRASSENDE VOORDELE

Voorgeboorteklasse gaan daarby oor meer as inligting. Dit gaan oor mense. Verhoudings. Met jouself as ma-in-wording, jou baba, jou lewensmaat en ander. "Die klas moet 'n ruimte wees waar ouers bemagtig en ondersteun word en waar hulle eerlik kan wees," glo Hettie.

"Hier kan hulle nuwe bande smee met mense met dieselfde doelwit: om die beste ouers moontlik te wees. Van die mense wat in my klasse was, het regdeur hul kinders se skooljare en daarna vriende gebly." Een van die verrassendste voordele van voorgeboorteklasse is dat dit vir ouers die geleentheid gee om met hul baba en met mekaar te bind, sê Sharon Kloppers, 'n fisioterapeut en aanbieder van Just Engage, 'n aanlyn-voorgeboortekursus.

"Dit gee julle die geleentheid om oor mekaar se verwagtings en vrese te gesels. In ons moderne wêreld glip babas nie meer moeiteloos en gerieflik by ons lewe in nie. Ouers het tyd en ruimte nodig om hulle intellektueel, emosioneel, geestelik en fisiek voor te berei."

"Voorgeboorteklasse is meer as 'n luukse. Nes jy vir 'n eksamen of 'n wedloop voorberei, is dit belangrik dat jy voorberei vir geboorte en ouerskap," sê Christél.

HIPNOGEBOORTE: DIE KUNS VAN ONTSPAN

Hierdie program is dekades gelede deur die Amerikaanse hipnoterapeut Marie Mongan ontwikkel. Dis gegrond op die werk van dr. Grantly Dick-Read, 'n Britse verloskundige wat opgemerk het dat vroue wat minder angstig oor die geboorte is, ook minder pyn ervaar. Vrees bemoeilik die kraamproses.

Dit veroorsaak spierspanning en adrenalien werk teen die geboortehormone asook die liggaam se natuurlike pynstillers. "Hipnogeboorte klink dalk vreemd, maar eintlik leer ons ouers net hoe om ontspanningstegnieke toe te pas," sê Kim Young van My Birthing Kit.

"Ons plaas niemand in 'n vreemde beswyming nie; jy bly die hele tyd in beheer en by jou volle positiewe.

"Met die korrekte asemhalings- en ontspanningstegnieke kan kraam baie gemakliker wees as wat 'n mens in die media sien. Die meeste hipnogeboorte-ma's het nie pynmiddels nodig terwyl hulle kraam nie." Vind meer uit by www.mybirthingkit.com

OP SOEK NA IETS ANDERS?

Behalwe vir tradisionele voorgeboorteklasse is daar deesdae talle nis-programme beskikbaar. Oorweeg hipnogeboorte, Birthing from Within, of Mama Bamba as jy sterk voel oor 'n natuurlike geboorte. Hoewel daar filosofiese asook praktiese verskille tussen hierdie kursusse is, het hulle heelwat gemeen.

Al drie volg 'n holistiese eerder as intellektuele benadering en streef dieselfde doelwit na: om ma's te help om hul vrese te oorkom sodat hulle - en hul baba - die beste moontlike geboorte-ervaring kan hê.

Vind meer uit by www.mamabamba.com.

GEBOORTE MET BEWUSTHEID

As tuisgeboorte-vroedvrou het die Amerikaner Pam England geglo dat vroue drie dinge nodig het om natuurlik te kraam: inligting, 'n positiewe ingesteldheid en 'n geboorteplan. Haar filosofie het handomkeer verander met die geboorte van haar eersteling.

Tydens die noodkeisersnee wat sy tot elke prys wou vermy, het sy besef dat haar intellektuele kennis van verloskunde haar net mooi niks in die praktyk gehelp het nie. Watter ander soort kennis het 'n mens nodig? het sy gewonder. Sy het jare lank met hierdie vraag bly stoei en selfs 'n meestersgraad voltooi in geboortelike sielkunde en hipnose.

Met haar tweede swangerskap het sy haar nuwe insig ingespan om haar grootste "geboortetier", die vrees vir nog 'n keisersnee, te tem. Haar seuntjie is ná 'n vinnige, maklike bevalling tuis gebore.

Talle ander belangrike onderwerpe word bespreek, soos dieet tydens swangerskap, waarskuwingstekens van komplikasies, asook hoe om na jou, jou baba en jou huwelik om te sien ná die geboorte.

Kort daarna het Pam voorgeboorteklasse begin gee en Birthing from Within geskryf. Deesdae lei sy voorgeboorte-opvoeders oor die wêreld heen op. Sally Baker, 'n maatskaplike werker en kindergeboorte-opvoeder, gee Birthing from Within-klasse in Johannesburg.

"Ouers leer hoe die geboorteproses werk," vertel sy, "maar veral hoe om dit te omarm presies soos dit ontvou, sonder om dit te oordeel. Hulle oefen praktiese tegnieke om die intensiteit en uitdagings van kraam te hanteer, en tem hul geboortetiere, oftewel vrese. In die proses herontwaak hul instinktiewe vermoë om die lewe te skenk".

MAMA BAMBA: SIELVOLLE GEBOORTE

"Mama Bamba" beteken in Zoeloe en Xhosa "moederlike omhelsing". Dié voorgeboortekursus is die breinkind van Robyn Sheldon, 'n vroedvrou, doula, integrasieterapeut en meditasie-instrukteur van Maun, Botswana. Robyn glo geboorte is 'n heilige gebeurtenis. Sy streef daarna om ouers nie net liggaamlik en intellektueel nie, maar ook op geestesvlak vir baba se koms voor te berei. Haar klasse is 'n versnit van feitelike inligting en leer deur ervaring.

Ouers het eersgenoemde nodig om te verstaan hoe ontspanning en emosionele ondersteuning die kraamproses fisiologies aanhelp, asook om ingeligte geboortekeuses te maak. Laasgenoemde behels ontspanningsoefeninge, visualisering, meditasie en beweging soos ekspressiewe dans.

Volgens Robyn leer dit ma's pynhanteringstegnieke en bevorder dit binding met baba. As ma's in voeling kom met hul liggaam, glo sy, herwin hulle hul vertroue daarin en kan hulle makliker van hul vrese afstand doen. Vind meer uit op haar Instagram-blad: @robynsheldonauthor.

AS ALMAL VER IS ...

Bly jy in die middel van nêrens? Registreer vir 'n aanlynkursus, maak springmielies en kyk saam met jou maat die klasvideo's.

Voorgeboorteklasse moet 'n positiewe, persoonlike ervaring wees. Eerder as om jou bang te praat of met teoretiese kennis te oorweldig, moet dit jou selfvertroue gee.

‘EK GAAN 'N KEISERSNEE Hê. SAL VOORGEBOORTEKLASSE HELP?

Beslis. Hoewel sekere werksessies uitsluitend op natuurlike geboorte fokus, berei algemene kursusse ouers voor op alle moontlike scenario's. Verskillende geboorte-opsies word bespreek en ontspanningsoefeninge en natuurlike pynverligtingstegnieke maak maar 'n breukdeel van die leerplanne uit.

Talle ander belangrike onderwerpe word bespreek, soos dieet tydens swangerskap, waarskuwingstekens van komplikasies, asook hoe om na jou, jou baba en jou huwelik om te sien ná die geboorte.

KIES Só 'N KURSUS

"Besluit vooraf wat jul behoeftes is," sê Christél. "As jy 'n natuurlike geboorte beplan, is 'n praktiese klas met hanteringstegnieke voordelig. As jy 'n meer mediese roete wil volg, is 'n kursus wat genoeg inligting verskaf oor verskillende opsies ideaal. As die hospitaal waarheen jy vir die geboorte gaan klasse aanbied, maak seker dat dit nie net 'n oriënteringsprogram is nie, maar 'n volledige kursus. Voorgeboorteklasse moet 'n positiewe, persoonlike ervaring wees. Eerder as om jou bang te praat of met teoretiese kennis te oorweldig, moet dit jou selfvertroue gee."

Hettie beklemtoon hoe belangrik die regte opvoeder is.

"Kies iemand met dieselfde waardestelsel met wie julle 'n pad kan stap." Vind uit oor kursusse in jul omgewing deur met vriende en familie, jou dokter of vroedvrou en ma's op sosiale netwerke te gesels. Maak 'n lys van moontlikhede en besoek die betrokke webtuistes.

LET OP NA:

Praktiese besonderhede. Waar en wanneer word klasse aangebied? Hoe lank duur die kursus? Wat is die koste en wat word daarby ingesluit? Kan julle dit van jul mediese fonds terugeis?

Die opvoeder se kwalifikasies, ervaring en filosofie oor geboorte en ouerskap.

Die kurrikulum. Dek dit verskillende geboorte-opsies? Kry borsvoeding en babasorg genoeg aandag?

Hoe word pa's betrek?

Hoe groot is die groepe?

Is daar enige nageboortelike ondersteuning? As jy hou van wat jy lees, kan jy die opvoeder per e-pos vra wanneer sy beskikbaar is vir 'n vinnige telefoongesprek. Jy behoort daaruit te kan aflei of julle gaan kliek.

HOSPITAALKLASSE OF PRIVAAT KURSUS?

Dit kan gerieflik wees om voorgeboorteklasse by te woon by die hospitaal waar jy gaan kraam. Gewoonlik sal die opvoeder julle rondneem in die kraamkamers en postnatale saal, wat julle vertroud sal maak met die omgewing.

Julle sal waarskynlik ook heelwat uitvind oor die hospitaalroetine en -praktyke, soos of jy baba onmiddellik na geboorte vel-teen-vel kan vashou en of hy snags in die babakamer of by jou sal slaap.

Aan die ander kant word die kurrikulum dalk beperk tot opsies wat daar beskikbaar is. Indien jy belangstel in alternatiewe geboortekeuses soos tuis- of watergeboorte, of dit oorweeg om 'n vroedvrou en/of doula aan te stel, sal jy moontlik meer waarde put uit klasse by 'n opvoeder in privaat praktyk.

WAT VAN 'N KITSKURSUS?

Eendag-werksessies word ál gewilder. Ouers se programme is druk, hulle is moeg ná werk, en dis onveilig om saans uit te gaan. Kitskursusse is gewoonlik ook goedkoper.

En die nadele? Paartjies het nie tyd om vriende te maak of 'n vertrouensverhouding met die opvoeder te vestig nie.

Inligting-oorlading is ook 'n probleem. Dis waarom Hettie nie meer kitskursusse aanbied nie. "Ouers word oorweldig," verduidelik sy. "Hulle het geen tyd om inligting te verwerk voor ons aanbeweeg nie. In my ervaring maak dit hulle banger eerder as dat dit hulle gerusstel.

Voorgeboortelike opvoeding is soos 'n ui: Ons skil dit laag vir laag af om by baba uit te kom."

HOE GROOT MOET DIE KLASSE WEES?

Navorsing wys dat ouers kleiner voorgeboorteklasse meer bevredigend vind. Swangerskap en geboorte is sensitiewe onderwerpe wat makliker in 'n intieme omgewing bespreek kan word. Ideaal gesproke moet elke mens die geleentheid kry om vrae te vra en aan die groepsgesprek deel te neem.

Dit word moeilik sodra daar meer as vyf of agt paartjies is, die tyd beperk is soos met kitskursusse, of die aanbieder 'n rigiede opvoedingstyl het.

MARIE-LOUISE STEYN

SPELETJIES VANDAG

CTA