TOP-IDEE vir partytjies
Wil jy 'n onvergeetlike partytjie hou? Gaan museum toe! Ditsong Museums of South Africa kan kinderdrome help bewaarheid, soos met 'n nag by die museum saam met dinosourusse. Van die museums het ook trekkerritte en plaasdiere. Al die museumpersele is regtig pragtig en die personeel staan gereed om jou te help om jul partytjie te bespreek. Stuur 'n e-pos na info@ditsong.org.za. Oorweeg sommer 'n uitstappie na die een naaste aan julle, al is dit nie vir 'n partytjie nie.

Al wippende fiks en gesond
ReboundSA het pas 'n kinderprogram bekendgestel om die kleingoed aan die bons te kry! Dis regtig oulik. Twee karaktertjies, Igg en Oogi Noo, verskyn in die liedjies en op die video's en is die giminstrukteurs vir die bonssessies. Op 'n baie prettige manier sal jou kind se koördinasie, selfvertroue, selfbeeld, konsentrasie, motoriese vaardighede, balans en spiertonus verbeter sonder dat dit soos werk voel. As jy nuuskierig is oor hoe dit werk, kyk gerus by ReboundSATV YouTube of volg @Rebound SA op sosiale media.

Kan jou kleuter goed sien?
Die enigste manier om te weet, is om daardie ogies te laat toets. Van ses jaar oud af behoort julle dit elke twee jaar te laat doen, maar gaan vroeër as jy vermoed daar skort iets met jou kind se sig.
Hier is tekens:
- Jou kind draai sy kop of maak een oog toe wanneer hy TV kyk of deur 'n boek blaai.
- Hy verloor sy plek maklik as julle lees of moet sy vinger gebruik om sy oog te lei.
- Jou kind sit altyd besonder na aan die skerm of boek.
- Hy vermy aktiwiteite wat naby sien verg, soos lees of sekere sportsoorte.
- Ligsensitiwiteit, hoofpyn of oë wat gereeld gevryf word is nog tekens.
- 'n Ogie kyk dalk effens skeel.
- 'n Foto wys 'n wit refleks in die oog. Dis ernstig - maak onmiddellik 'n afspraak. Gaan na specsavers.co.za vir nog inligting.
VIND MY KIND!
Natuurlik doen jy alles wat jy kan om te keer dat jou kind ontvoer word of wegraak. Maar jy behoort ook 'n plan van aksie gereed te hê ingeval die ergste gebeur.
Eerste stap: Laai die Kidz1stProtector-toep op jou foon af. Dis deur Missing Children SA goedgekeur. Hoe dit werk: Jy skep 'n profiel vir jou kind wat 'n foto en beskrywing insluit. As jou kind wegraak, kan jy dadelik alarm maak deur die "Find child"-knoppie te druk om die boodskap die wêreld in te stuur.
As 'n ander gebruiker op die netwerk jou kind vind, word jy in kennis gestel.
Lees meer by kids1st.co.za. Gaan ook na missingchildren.org.za en bêre die noodnommer 072 647 7464 op jou foon. onthou jy hoef nie 24 uur te wag om 'n vermiste kind by die owerheid aan te meld nie. Dis 'n mite. Jy kan 'n vermiste kind onmiddellik aanmeld. Hoe gouer, hoe beter.




















