Terwyl 'n baba voed - of dit nou aan die bors of met 'n bottel is - sluk hy dikwels 'n bietjie wind. Hierdie lug kan jou baba uiters ongemaklik laat voel, tot windjies boontoe en ondertoe lei, krampe veroorsaak en jou baba na trane dryf.
Sommige babas is gelukkig en lyk asof hulle die windjies nie eens voel nie, terwyl ander baie swaarkry.
As jou baba 'n wind gesluk het, sal hy waarskynlik ophou drink omdat die vasgekeerde lug in sy magie hom versadig laat voel voor hy werklik genoeg gedrink het om sy dors te les. Hy kan ook huil, sy gesiggie vertrek asof hy pyn het, of begin kriewel - veral as jy hom ná die voeding wil neerlê. Gelukkig is daar heelwat wat jy kan doen om jou kleinding die stryd teen winde te help wen. Tydens voeding Die regte posisie tydens voeding kan help keer dat jou baba onnodig winde sluk. Of jy nou bottel- of borsvoed, probeer om jou baba se kop altyd 'n bietjie hoër as sy maag te hou terwyl hy drink. Dit sorg dat die melk na die onderkant van die maag loop sodat die lug makliker aan die bokant kan ontsnap as hy 'n windjie breek.
WENK
Troos jou daaraan dat die meeste babas maar winderig is - 'n mens word soms verstom deur die harde geluide wat deur so 'n klein lyfie voortgebring kan word!
Ná die voeding
Ná elke voeding kan jy jou baba help om van lastige winde ontslae te raak deur dit uit te vryf. Daar is 'n verskeidenheid posisies wat jy kan uittoets; kies die een wat die beste vir julle werk.
- Oor jou skouer: Hou jou baba met sy lyfie regop teen jou bolyf sodat sy koppie op jou skouer rus en sy boudjies deur jou arm ondersteun word. Tik of vryf sy rug dan sagkens met jou ander hand. Dit is dikwels die maklikste posisie om 'n wind uit te kry, aangesien jou baba se lyf reguit en regop is.
- Regop sit: Laat jou baba op jou skoot sit sodat sy gesig sywaarts kyk. Sy lyf moet effens vorentoe leun en sy kop moet teen jou voorarm gestut wees, terwyl jou hand hom onder sy skouer weg van jou vashou. Vryf ferm, maar sagkens opwaarts of tik sy rug liggies met jou ander hand. Jy kan ook baba se ken in jou hand laat rus as hy nog baie klein is en sy lyfie met die onderkant van jou palm ondersteun.
- Gesig na onder: Laat jou baba met sy gesig na onder op jou voorarm lê, met sy bolyf hoër as sy beentjies. Vryf sy rug met ferm opwaartse bewegings met jou ander hand. Moenie haastig word as jy winde uitvryf nie - dit kan dalk 'n paar minute duur voor die winde begin uitkom. Magietyd op die vloer kan jou kleinding ook help om van sy winde ontslae te raak, so ook die speletjies waar jy liggies met sy beentjies fietsry. Is daar iets ergers fout? Die meeste van die tyd hoef jy jou nie oor krampe en winde te bekommer nie en moet jy net uitwerk hoe om jou baba te help om daarvan ontslae te raak. Soms kan winde en maagkrampe egter 'n teken van spysverteringsprobleme wees. As jou baba enige van die volgende simp- tome het, is dit beter om hom dokter toe te neem.
- Diarree: Hoewel babas taamlik algemeen diarree kry, kan dit op 'n onderliggende probleem dui. Wees op die uitkyk vir skielike veranderinge aan jou baba se stoelgang, soos as die tekstuur skielik verander of as hy skielik baie meer of baie minder vuil doeke as voorheen het.
- Hardlywigheid: Babas is soms hardlywig en dis beter om maar jou dokter daaroor te vra. Onthou egter dat bloot die feit dat jou baba rooi in die gesiggie raak as hy druk of dat sy vuil doeke ver uitmekaar is, nie beteken hy is hardlywig nie. Sommige borsbabas het slegs elke 10 dae 'n vuil doek! 'n Teken dat jou baba hardlywig is, is as sy stoelgang klein, harde balletjies vorm.
- Emosionele verandering: As jou gewoonlik rustige, tevrede baba skielik baie moeilik raak en nie wil eet of slaap nie, is daar waarskynlik fout. Gaan liewer dokter toe as jy dink jou baba het koliek (lees hieronder) sodat hy ander oorsake vir baba se gehuil of gedrag kan uitskakel.
- Ander simptome: Koors by jou klein baba asook bloed in die stoelgang is nie normaal nie en moet so gou moontlik ondersoek word.
WENK
Pa's is dikwels uitstekend met die uitvryf van winde ná 'n voeding. Dit is boonop uitstekende bindingstyd vir jou pienkvoet en sy pa.
Is dit koliek?
As jou andersins gesonde baba elke dag ontroosbaar huil, is daar 'n kans dat dit koliek kan wees. Tipies begin koliek binne die eerste vier weke ná baba se geboorte en klaar dan weer teen so 16 weke op. Dit word gekenmerk deur 'n gehuil wat minstens drie of meer uur per dag aanhou, minstens drie keer per week voorkom en minstens drie weke duur. Natuurlik is dit genoeg om enige ma teen die muur uit te dryf!
'n Koliekbaba ...
- Huil hard, intens en ontroosbaar. Dit begin gewoonlik laat in die middag of vroeg in die aand en kan ure lank aanhou.
- Trek dikwels sy knieë op tot teen sy bors en maak sy ruggie krom.
- Se magie voel hard en lyk effens opgeswel.
- Hou sy asem op of word rooi in die gesig.
Dokters en kenners meen koliek is nie naastenby so algemeen as wat ma's glo nie. Moet dus nie net aanneem 'n baba met dié simptome het koliek nie - laat die dokter liewer daaroor besluit.
Die presiese oorsaak van koliek is nog onbekend, maar wetenskaplikes reken dat daar 'n verskeidenheid oorsake is wat van baba tot baba kan verskil. 'n Artikel in Acta Paediactrica, 'n joernaal oor pediatriese medikasie, identifiseer die volgende moontlike oorsake van koliek:
- Laktose-intoleransie of allergieë
- Spysverteringsprobleme
- Hormone
- Voedingsprobleme
- Sielkundige faktore Dokters besef ál meer dat spysverteringsprobleme nie noodwendig die hoofoorsaak van koliek is nie, en dat temperament, omgewing en 'n onvolwasse immuunstelsel alles 'n rol kan speel.
Koliek is taamlik seldsaam - moet dus nie aanneem dis jou baba se probleem nie.
ONTHOU
Koliek word nie deur 'n siekte veroorsaak nie; ook nie deur iets wat jy doen nie. Die goeie nuus is dat dit in 'n stadium ophou. Sien om na jouself en kry 'n goeie ondersteuningstelsel sodat jy soms tyd sonder jou baba kan deurbring.
Werk so met koliek
- Styf toegedraai As jy jou baba knus toedraai in 'n dun kombersie, boots dit die warm, bekende omgewing van die baarmoeder na sodat jou baba veilig voel.
- Sy-streling As jy jou baba op sy sy neerlê, help dit die Moro-refleks (skrikrefleks) keer en help dit so jou baba rustig hou.
- Klank Witgeraas soos dié van 'n haardroër, tuimeldroër, in die kar of langs die see, is vir jou baba strelend en kan hom help bedaar.
- Swaai Dra jou baba in 'n drasak of abbasak. Die ritmiese bewegings van jou lyf hou hom rustiger.
- Suig Hou jou baba besig met 'n fopspeen. Om aan die bors of 'n bottel te suig help om baba te laat bedaar.





















