Ouerskap

Kweek so groen vingertjies

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Dit het eintlik begin toe ek en my tuinman mekaar verkeerd verstaan het. Ek het bedoel hy moet 'n paar plantjies bymekaarplant sodat die fyn wit blommetjies later in blomtyd 'n mooier, dramatieser vertoning kan lewer. Toe plant hy die saailinge in netjiese, klein sirkeltjies.

Feetjieteaters, het ek my twee japsnoete oortuig. Sodat elke feetjie op 'n plantjie kan sit en mooi kan sien wanneer hul feetjiemaatjies snags in die maanlig dans en konsert hou in die sirkel in die middel.

Vóór die feetjiesirkels al was my twee dol oor ons posseël van 'n voortuin. Daarvoor het die malse geure van die laventel, ment, rose en jasmyn gesorg - ook die sagte groen gras, voëlbadjie en die witklippie-en-baksteenpaadjie wat ek en die oudste een middag self ontwerp en gepak het.

Tuine is magiese plekke vir die kleinvolk. Dis plekke om te ondersoek, te pluk, te ruik, te voel, te sien. En veral om te speel en te ontspan.

Tuinmaak leer 'n kind boonop geduld - saadjies wat ontkiem laat hulle immers deur niemand aanjaag nie. En natuurlik leer min dinge 'n kind so baie van die natuur as juis 'n tuin - behalwe vir die wonder van lewe ('n droë, lelike saadjie wat ontkiem en 'n pragtige groen plant word) is daar ook in elke tuin 'n hele klein mikrokosmos van insekte, wurms en voëls wat dopgehou kan word.

Wat leer 'n kind nog deur tuin te maak? Dat 'n plant sekere dinge nodig het om te groei: sonlig, water, grond. 'n Jong plantjie moet beskerm word teen ryp of te veel sonlig. Verduidelik dat 'n mens ook sekere dinge nodig het om te kan oorleef, soos kos, water en 'n blyplek.

Laat hulle saam onkruid uittrek en verduidelik dat die lewe net so werk: Slegte goed moet verwyder word voor hulle die goeie goed toegroei.

Kortom, 'n tuin is die ideale plek om gesinsbande te versterk en terselfdertyd baie pret te hê.

Plant dít

  • Sonneblomme: Dit groei vinnig en lok baie voëls wanneer die blomme droog word.
  • Aarbeie: Min dinge verskaf soveel genot as om elke dag ryp aarbeie te gaan soek. Dit is ook maklike meerjarige groeiers wat self vermeerder.
  • Groente: Dis heerlik om jou eie groente te eet. Plante wat min plek nodig het (en dus ook in potte goed werk) en betreklik gou groei, sluit in kruie, radyse, blaarslaai, groen- rissies, kool en tamaties. Vir uie, aartappels, wortels en patats het jy baie meer plek nodig. As jy nie plek het vir 'n aparte groentetuin nie, laat jou kind sommer groenteplantjies tussen ander plante in jul tuin plant. Tamatie, pampoen, waatlemoen en groenrissies sal lekker groei.
  • Sintuiglike plante: Plant vir al die sintuie - voel (wasagtige blaartjies teenoor fyn, sysagte blare), sien (kies helder kleure soos pienk, pers, rooi en geel), ruik (kruie en ander lekkerruikplante) en hoor (bome en struike met blare wat kan ritsel in die wind, soos bamboes). Plant eerder plantjies as sade; so kan jou kind vinniger vordering sien. Vra die kwekery wat wanneer geplant moet word.

'n Tuin is 'n plek vir ondersoek, pluk, ruik, voel en kyk. En veral vir speel en ontspan.

Leer spit-spit so

  • Sonneblomme is ideaal vir 'n kindervriendelike tuin. Dit groei vinnig en hoog, en kan ook sorg vir 'n lekker speletjie. As die plant lekker hoog is, laat jou kleuter hom teen die sonneblom se stam meet. Bind 'n lintjie om die plek en laat hy hom gereeld meet. Dis groot pret wanneer hy besef die sonneblom groei baie vinniger as hy.
  • Gee vir jou kind 'n eie bedding om in te woel. Bêre maar jou perfeksionisme. Jou kind gaan waarskynlik wil plant, herplant, uitgrawe, begrawe, slote maak, damme bou ... Byt maar op jou tande, want jy is besig om 'n ywerige tuinier te kweek.
  • Hou maar die sessies kort as julle saam in die tuin werk. Kleuters het 'n kort aandagspan. Gee takies wat gepas is vir hul ouderdom. Onkruid uittrek is dalk nie 'n goeie idee nie - netnou waai jou saailinge ook. Laat hy eerder dooie blomkoppe afsny met 'n stomppunt-tuinskêr of dooie blare bymekaarhark met 'n kindergrootte hark. En onthou, natspuit is die heel lekkerste!
  • Spel jou naam op die gras! Laat elkeen sy voorletters op 'n groot stuk karton uitsny (maak lekker vet, ronde letters). Pak die kartonletters op die gras uit en pak met klippies vas. Los dit 'n paar dae. Die gras onder die letter sal geel word - nou kan jy vir jou kinders verduidelik dat plante groen is omdat die chlorofil in hul blare sonlig benodig om kos vir die plant te vervaardig. As die blare nie son kry nie, kry die plant nie kos nie en sal dit uiteindelik doodgaan. (Toemaar, dit sal nie permanente skade aan die gras aanrig nie - as die letters opgelig word, word die gras binne 'n paar dae weer groen!)

Nog lekker tuindinge

  • Ontwerp 'n feetjietuin! Onthou, feetjies hou van 'n stil hoekie met fyn blommetjies, varings, 'n bietjie water ... al wat jy nodig het, is 'n goeie verbeelding.
  • Lê op die gras en bekyk wolke.
  • Voer voëltjies met saad, ou brood en vars vrugte soos lemoene en appels wat in die helfte deurgesny is. Dit sal sorg dat 'n groot verskeidenheid voëls in jul tuin kom kuier. Kwikstertjies hou weer van 'n bietjie rou maalvleis of klein stukkies kaas.
  • Hou piekniek. Onthou 'n mooi kombers, mandjie en lekker kos.
  • Hou 'n skattejag. Vra die kinders om iets in die tuin te soek, in al die kleure van die reënboog, of iets wat met 'n sekere letter begin (as hulle al kan spel). Of laat hulle soek na blommetjies wat dieselfde kleur is as hul klere, 'n blaartjie met gladde rande, 'n roosblaartjie, 'n blommetjie met 10 blaartjies.
  • Soek paaseiers. Maak net seker jy onthou waar jy dit weggesteek het en sorg dat die honde dit nie kry voor die kinders wakker word nie.
Getty Images
Getty Images

Kompos

Maak jou eie kompos en laat die kinders help. Gooi al die tuinknipsels, gesnyde gras en groente- en vrugteskille in 'n groot drom. Wissel die lae plantmateriaal af met 'n lagie grond en 'n hand vol kalk. Geskeurde stukkies koerantpapier is ook 'n goeie idee. Hou klam, meng en spit voor die plantseisoen in jou beddings in.

En as jy nie 'n tuin het nie?

Jou kind kan steeds die wonder leer van sade wat ontkiem en plante wat groei.

  • Spruite is van die heel vinnigste maniere om binne 'n paar dae iets eetbaars te kweek. Boontjie-, alfalfa- en lensiesade werk goed. Plaas die sade in 'n skoon glasbottel en bind 'n skoon stuk sykous met 'n rekkie oor die bottel se bek. Die materiaal moet water en lug kan deurlaat, maar nie die sade nie. Week die sade oornag in water. Dreineer en plaas die bottel op sy kant in 'n sonnige vertrek naby 'n venster. Die sade moet 'n paar keer per dag natgemaak en gedreineer word en in die sonkol teruggeplaas word. Binne 'n paar dae kan julle jul eie spruite in slaai eet.
  • 'n Plastiekkoeldrankbottel (2 liter) is 'n ideale miniatuur-kweekhuis. Was skoon en sny die een kant met 'n skerp mes oop. Dwing oop en vul die onderste helfte met potgrond. Plant die saadjies en maak nat. Seël die oopgesnyde kant met breë kleefband en hou die bottel op 'n sonnige plek. Binne twee tot vier weke sal jou plantjies gereed wees om in groter potte uitgeplant te word.
  • Tuin-in-'n-sak: Kweek 'n groentetuin in 'n ou mieliemeelsak. Jy kan dieselfde doen met jou kleuter, sommer net daar op die balkon van jou woonstel. Vul 'n ou mieliemeelsak met komposryke grond, of, nog vinniger, koop eenvoudig 'n sak potgrond. Druk elke paar sentimeter 'n gat deur die sak met 'n mes en boor 'n gaatjie met jou vinger waarin jy groenteplantjies plant wat nie 'n diep wortelstelsel het nie. Kruie, blaarslaai en kersietamaties is ideaal. (Koop die plantjies by jou kwekery.) Gooi een keer 'n week nat, sommer met 'n koeldrankbottel. Omdat die grond in 'n sak verseël is, is daar nie onkruid nie, en die grond behou vog ook baie beter. 'n Mens kry ook deesdae baie mooi plantsakke in allerhande vrolike kleure by winkels waarin julle groente kan plant. Binne 'n paar weke sal julle van jul eie oes kan eet.
  • Maak 'n grasmonster! Jy benodig 'n ou sokkie of sykous. Werk twee knope aan vir ogies en borduur 'n glimlag op jou monster se bakkies. Meng 'n bietjie potgrond met grasperksaad. Stop die sokkie lekker styf en knoop toe. Gooi die sokkie gereeld nat of plaas die opgestopte deel bo-op 'n glas of beker met water en laat die geknoopte punt in die water hang. Dié punt sal die water opsuig. Plaas jou graskop op 'n sonnige plek en binne 'n paar dae sal grasgroen monsterhare begin uitgroei. Ná 'n paar weke sal dit selfs nodig wees vir 'n "haarsny".
  • Al ooit 'n patat in jou groentemandjie vergeet? Maak gerus weer so en laat die kinders die groei van die klein blaartjies uit die uitloopsels dophou. As dit goed uitgeloop het, gee dit vir iemand met 'n tuin om vir hulle te plant. Oor 'n paar weke kan julle die eerste oes deel.
  • Sny 'n aartappel met ogies in stukke - sorg dat elke stuk 'n ogie het - en plant in 'n jogurthouer met grond. Die ogie moet na bo wys. Binne 'n paar dae sal dit begin uitloop. Verplant later na 'n groter plek as jy wil.
  • Jy kan ook 'n ui so plant, maar maak seker dat 'n stukkie van die kroon nog uitsteek.

Veiligheid eerste!

  • Organiese tuinmaak is die heel beste, maar as jy kunsmis en gifstowwe in jou tuin gebruik, maak seker dis agter slot en grendel en op hoë rakke gebêre.
  • Kry kindergrootte gereedskap, of laat hulle sommer met ou opskeplepels en tafelvurke in die grond woel.
  • Pasop vir emmers water wat rondstaan. 'n Peuter kan daarin verdrink. Dieselfde geld visdammetjies en voëlbadjies. Leer kinders om nie daaruit te drink nie.
  • Selonsrose is dodelik, terwyl ander plante jou kind kan laat uitslaan of siek kan maak. Raadpleeg 'n plantgids of jou kwekery. Leer jou kleingoed om nie enigiets te eet wat in die tuin groei nie.
  • Ontwurm jou kinders gereeld as hulle graag in die grond woel.
Getty Images
Getty Images

SLIM IDEE!

Maak 'n droomplek van plante Elke kind smag na 'n boomhuis, maar nie alle tuine het bome waarin boomhuise gebou kan word nie.

Maak vir jou kind 'n tipitent van stokke en rankplante. Jy het ses lang riete (of besemstokke) nodig. Plant dit stewig in die grond in die vorm van 'n C - die oop kant van die C sal die deuropening vorm.

Bind die bokante van die stokke aanmekaar met ou sykouse en plant vinnige rankers langs elke stok. Gebruik verskillende plante: rankboontjies, eendagmooiblomme (morning glory), jasmyn en selfs pronk-ertjies en kappertjies. Plant gras wat van skaduwee hou in die tent en binne 'n paar maande sale jou kleinding 'n eie spesiale, toegerankte speel- en wegkruipplek in die tuin hê.

Ilse Salzwedel

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM