Dis 'n piepklein vuisie wat styf om jou duim klem asof sy lewe daarvan afhang. Daardie vasgryprefleks van jou pasgebore baba laat elke mammahart vermurwe, maar binne 'n jaar kan dieselfde klein handjie so raakvat en kwaaddoen dat jy met nuwe oë daarna kyk!
Pasgeborene
Jou kleinding se handgreep is nou net 'n refleks wat die gryprefleks genoem word. Die oomblik dat jy aan sy handpalm raak, sal die duimpie en ander vingers 'n paar sekondes om jou vinger sluit. In die eerste maand sal jou baba sy handjie meestal in 'n vuis hou.
Saamweespret Druk jou duim vier sekondes lank saggies op die sagte deel van sy palm. Dit sal hom aanmoedig om sy handjie oop te vou.
Maand 2
Jou baba se gryprefleks verswak geleidelik en hy hou sy handjies ál meer en langer oop. Hy kan sy handjie toevallig tot by sy mond bring en daaraan suig.
Saamweespret Maak sy vingertjies een vir een oop. Sê "Duimpie" en laat jou vinger saggies van die duimpie se basis na die punt gly, dan "Duimpie se maat" as jy dieselfde met die wysvinger doen, en daarna die ander drie vingers: "Langeraat" (middelvinger), "Fielafooi" (ringvinger) en "Piepie in die kooi" (pinkie).
Maand 3
Jou aspatat se gryprefleks is weg en sy handjie is meestal oop, maar hy het nie 'n baie sterk greep nie. As jy 'n ratel in sy hand plaas, sal hy dit vasgryp en in sy mond probeer sit. Hy kan na voorwerpe reik, maar sonder sukses.
Saamweespret Plaas verskillende stukke speelgoed afwisselend in sy handjie waar hy dit kan sien en help hom om sy vingers daarom toe te maak. As hy dit laat val, tel dit op en gee dit in sy ander hand.
Maand 4
Jou baba kan nie sy greep goed beheer of self iets optel nie, maar as jy 'n ratel in sy hand sit, sal hy dit reguit na sy mond bring om dit te verken. Hy speel graag met sy hande, bestudeer hulle en steek vir die eerste keer die middellyn oor deur die twee hande na mekaar toe te bring. Jou kleinding se vingers begin ál vaardiger word en mettertyd sal hy voorwerpe kan raakvat omdat hy wil en nie net per ongeluk nie.
Saamweespret Sny gaatjies in 'n babasokkie, een vir elke vinger. Werk versiersels daaraan vas en trek dit oor sy handjie sodat hy dit kan bestudeer.
Maand 5
Jou baba reik met albei hande na voorwerpe aan 'n aktiwiteitsgim bo hom en probeer om aan die speelgoed te raak, dikwels met sukses. Hy kan dit 'n oomblik lank per ongeluk raakvat en vashou, dikwels aan die pinkiekant van die hand, maar het nog geen beheer oor die voorwerp nie.
Saamweespret Plaas interessante voorwerpe met helder, kontrasterende kleure binne sy bereik sodat hy daarna kan reik.
Maand 6
Dis 'n groot maand vir handontwikkeling, want vir die eerste keer kan jou baba akkuraat met een hand na 'n voorwerp reik - en dit vasgryp as dit 'n gemaklike grootte is. Jou kleinding hou alle voorwerpe met sy duim en al sy ander vingers in sy palm vas (die palmgreep). Hy kan begin om 'n speelding met die hulp van sy lyf en mond van een hand na die ander aan te gee.
Saamweespret Gee jou kleinding 'n verskeidenheid voorwerpe met verskillende vorms, groottes, teksture en gewigte sodat die handspiertjies oefen om 'n verskeidenheid grepe baas te raak.
Maand 7
Jou baba kan 'n voorwerp gemaklik van een hand na die ander oorplaas, wat beteken sy kan al maklik laat los en het al beter hand-oog-koördinasie. Haar greep word verder verfyn en sy kan twee voorwerpe tegelyk met albei hande vasgryp en dit 'n rukkie lank vashou. Sy hou 'n speelding met albei hande vas en manipuleer dit om dit te bestudeer. Sy kap graag met haar speelgoed op die tafel.
Saamweespret Vingerkos help om jou kleinding se fyn motoriese vaardighede te verbeter. Gee klein stukkies kos soos 'n stukkie sagte kaas, asook groter stukke kos soos brood, wat sy kan vashou om te eet. Rooi lig! Maak seker die muurproppe in jou huis is bedek.
Maand 8
Jou baba kan nou haar duim en die meeste van haar ander vingers gebruik om voorwerpe op te tel en in 'n stewige greep - die laterale greep - vas te hou. Sy kan voorwerpe al beter in haar hand manipuleer en rondbeweeg. Sy sal 'n houtlegkaartstukkie met 'n knoppie kan vasvat en het ook haar wysvinger ontdek - wat sy graag by gaatjies indruk!
Saamweespret Gee haar houtlepels, potte en deksels waarmee sy kan trom slaan en musiek kan maak. Rooi lig! Jou kleinding sal nou haar kos wil rondgooi. Pak koerantpapier onder haar eetstoeltjie.
Maand 9
Jou klein juffrou kan iets vir die eerste keer werklik willekeurig loslaat eerder as om dit terloops te laat val wanneer sy 'n ander speelding wil optel. Dit sorg vir 'n heerlike speletjie wat sy oor en oor wil speel. Sy kan ook haar hand in 'n houer steek en iets daaruit haal.
Saamweespret Gee jou baba 'n balletjie en 'n leë bak en laat sy die balletjie daarin gooi. Sê "boef!" elke keer as sy dit regkry.
Maand 10
Jou baba ontwikkel nou die knypgreep - 'n groot prestasie! - waarmee sy klein dingetjies tussen haar duim en wysvinger optel terwyl sy haar vingers nog half reguit hou, amper soos 'n knyptang. Dis die begin van belangrike vinger-koördinasie. Sy kan ook nou haar bewegings goed genoeg koördineer om twee blokkies teen mekaar te kap.
Saamweespret Gee haar houers om in mekaar te pak (soos stapelkoppies) of steek iets in 'n houertjie weg waar sy kan sien en laat haar dit uithaal. Rooi lig! Sy sal nou elke krummeltjie, knopie of speld so wil optel; maak dus seker dat sy dit nie in haar mond druk en verstik nie.
Maand 11
Sy kan gooi! Sy sal alles van blokkies tot balle probeer gooi. Sy kan ook meer as een voorwerp gelyk in een hand vashou, of dit probeer doen. Haar knypgreep word verder verfyn en sy buig nou haar wysvinger om 'n klein voorwerp met die punte van haar duim en wysvinger op te tel.
Saamweespret Vra haar om die blokkies en ander speelgoed saam met jou op te ruim. Sy sal gek wees daaroor om die blokkies in 'n houer te gooi en terselfdertyd oefen sy haar vinger- en handbewegings.
Maand 12
Jou kleinding se handspiertjies het ver genoeg ontwikkel dat sy 'n potlood in haar palm met haar duim en al haar vingers daarom gekrul kan vashou (die palmgreep) en so kan krabbel; gewoonlik net 'n enkele streep op die blad. Sy kan vir jou goed aangee en sal self deur kartonboekies kan blaai en torings van blokkies kan bou, hoewel sy nog kan sukkel om die blokkies akkuraat los te laat sonder om die hele toring te laat omtuimel.
Saamweespret 'n Vormsorteerder is nou ideaal.















