LEESHOEKIE | Nuwe leespret

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images
Die goorste week ooit! Dinsdag
Die goorste week ooit! Dinsdag

'N BLOU DINSDAG!

Maak seker jou laerskoolkind se huiswerk is klaar voor hierdie boeiende opvolgboek van Die goorste week ooit! Maandag gelees word. Justin Chase het Maandag skaars oorleef en nou is dit Dinsdag!

Sy kat is waarskynlik deur aliens ontvoer, hy skaam hom meer as ooit vir sy pa en hy het op die ergste manier moontlik 'n internetsensasie geword.

Boonop val fotodag by sy nuwe skool saam met die Wetenskap-skouspel en dit ontaard in 'n katastrofe van epiese proporsies!

R190, Human & Rousseau.

JY KAN OOK!

Indien jy wonder hoe om vir jou dogter te verduidelik daar is niks mee fout om ook "seuntjie-dinge" te doen nie, is Nie vir meisies nie 'n boek wat sal help. Die skrywer Thembi Kgatlana vertel van haar kinderdroom om vir Suid-Afrika sokker te speel, maar almal het altyd vir haar gesê: "Dis nie vir meisies nie."

Thembi se harde werk, vasberadenheid en dapperheid het haar uiteindelik een van die beste sokkerspelers in Afrika gemaak. Leer jou kleuter hulle drome kan ook waar word.

R140, Jacana.

In die nimmer-immer-bos, oorvertel deur Linda Rode en geïllustreer deur Fiona Moodie
In die nimmer-immer-bos, oorvertel deur Linda Rode en geïllustreer deur Fiona Moodie

VERHALE UIT VERSKEIE LANDE

Dié boek moet jy koop en bewaar. Die 60 tydlose, betowerende verhale kry telkens nuwe betekenis namate kinders ouer word. Die stories is versamel en oorvertel deur Linda Rode, sprokiesliefhebber en skepper van immergroen bundels soos Goue lint, my storie begint.

Brokkies kommentaar aan die einde van elke storie dui die lande van oorsprong aan en plaas die verhale uit lande dwarsoor die wêreld in konteks.

Fiona Moodie (veral bekend vir Fynbosfeetjies en Vetplantfeetjies saam met Antjie Krog) se illustrasies is handgeverfde droënaaldetse en rond elke storie perfek af.

R370, Tafelberg.

Die onsigbare kind, deur Tove Jansson
Die onsigbare kind, deur Tove Jansson

LIEFDESLESSE

Ons weet die Moemin-stories is heilsaam en goedvoel-boeke. In dié verhaal bring Tjoek-Tjoek 'n onsigbare besoeker by die Moehuis aan. Hy probeer haar tuis laat voel, maar hoe laat jy 'n verskrikte dogtertjie wat verdwyn het, weer verskyn?

Moemamma het dalk net die resep. Lees saam met jou kind hoe liefde en verdraagsaamheid enigiemand kan help om te skitter.

R65, Human & Rosseau.

NIE 'N BESTE VRIEND NIE?

Jaco Jacobs spog met 46 bekronings vir sy werk, en dié boek stel nie teleur nie. Wim wil baie graag 'n hond vir sy verjaardag hê, maar sy ouers het ander planne.

'n Hond is te veel werk en raas en nou moet Wim iets anders vir sy verjaardag kies: Dalk 'n elektriese kitaar waarop hy kliphard kan tokkel, 'n troetelluislang wat in sy kamer kan seil, of wat van 'n motorfiets?

Wim is vol slim planne om sy sin te kry. Jy en jou kleinding sal saam skater van die lag vir sy slimmighede.

R150, Pan Macmillan.

RASENDE ROTTE!

Kruip saam met jou kind in die bed en lees vir jou skarminkel hierdie boek vol kleur. Grootgaapbaai is oorval deur . . . rotte! Groot, klein, lelik, kwaai en honger.

Maar die towerfluitspeler Rufus Roftus kan van hierdie grillerige gediertes ontslae raak - teen 'n prys. Die suinige burgemeester weier egter om te betaal, en Rufus maak sy eie plan wat Grootgaapbaai in gevaar stel.

Matilda, Basjan en die Van der Branders moet nou tot die redding kom. Die vierde titel in die Seerower-reeks sal jou weer oorrompel.

R185, Human & Rosseau.

Die seerowers en kaptein Rufus Rottus, deur Jonny Duddle
Die seerowers en kaptein Rufus Rottus, deur Jonny Duddle

DANS JOUSELF GELUKKIG

Kry sommer nou hierdie lekker loslitboek vir jou vyf- tot agtjarige en laat hulle met 'n glimlag saam met jou lees. Gregory hou nie juis van sokker nie, maar wanneer hy kan dans, is hy in die wolke! Hy voel die energie en die ritme van die musiek.

Dans wys vir hom 'n wêreld vol avonture wat glansryker is as in sy wildste drome. Jy kan saam met die skrywer Gregory Vuyani Maqoma, 'n veelbekroonde danser en choreograaf, deur sy sonderlinge lewe reis.

R130, Jacana.

'n Kans om te dans, deur Gregory Vuyani Maqoma
'n Kans om te dans, deur Gregory Vuyani Maqoma

AANVAAR ALMAL!

'n Maat vir alle seisoene sal jou kleuter inspireer om nuwe vriende te maak, ander te ondersteun en elkeen se eiesoortigheid te aanvaar. Dit begin met Vuyo wat vir die nuwe bure loer. Die ma dans, die pa lag baldadig en die hond swaai sy stert opgewonde.

Maar hoekom is die meisie so hartseer? En sal Vuyo iets kan doen om haar te help? Refiloe Moahloli se passievolle skryfstyl blaas nuwe energie in jou menswees terwyl Nicci Martin, 'n illustreerder van die Bo-Kaap, se tekeninge perfek daarby pas.

R150, Pan Macmillan.

'n Maat vir alle seisoene, deur Refiloe Moahloli
'n Maat vir alle seisoene, deur Refiloe Moahloli

NOOIT TE JONK OM TE LEER NIE

Die boek is gemik op kinders van ses tot 10, maar dis die moeite werd om dit solank aan te skaf en voor te lees. Dit vertel die storie van Shudu, wat na 'n nuwe dorp verhuis en geboelie word. Sy voel soos 'n buitestander, maar ander vriendskappe gee vir haar 'n gevoel van geborgenheid.

Stadig vind sy haar eie innerlike krag en besef sy is ook spesiaal. Leer jou kind enige stem moet gehoor word. Dis die tweede boek in die Shudu-reeks. Die eerste boek, Shudu vind haar sprankel, is gerig op jonger kinders en was 'n blitsverkoper.

R140, Jacana.

Shudu vind haar sprankel, deur Shudufhadzo Musida
Shudu vind haar sprankel, deur Shudufhadzo Musida

SOEK EN LEER

Soek in die boek Wilde Diere en Soek in die boek Plaasdiere is kartonboeke wat jou peuter maar rof kan hanteer terwyl hulle op 'n prettige manier van plaas- en wilde diere leer. Maak self die diergeluide en lag lekker saam.

Dis interaktiewe pret wat jou kind se nuuskierigheid prikkel en hulle leer om dinge te ontdek.

R160 elk, Human & Rosseau

Soek in die boek Wilde Diere
Soek in die boek Wilde Diere
Lucia Poolman

SPELETJIES VANDAG

CTA