WENBRIEF
Tweeling natuurlik gebore

'n Natuurlike geboorte was vir my nog altyd 'n droom. 'n Paar maande nadat ons uitgevind het ons verwag 'n tweeling, het ons egter gou geleer dat die pad om dié droom te bewaarheid, 'n moeilike en uitdagende een sou wees.
Ons het gevind medici se algemene reaksie op die woorde "swanger met 'n tweeling" ontlok bloot die vraag "wanneer is jou keiser?".
Ons het aanhou bid en op die Here vertrou dat ons 'n natuurlike tweelinggeboorte kon hê. Die eerste antwoord op ons gebed was 'n vroedvrou wat bereid was om te help. Ek het ook 'n ginekoloog gehad op wie ek kon terugval as 'n noodkeiser nodig sou wees.
Om ongeveer 23:00 op 20 April 2022 (ek was 36 weke en een dag swanger) het my water gebreek en om 04:30 het ons hospitaal toe gejaag.
Ek was duidelik in aktiewe kraam en toe ons by die naaste hospitaal opdaag, vind ons uit ek was ten volle ontsluit! Selfs al sou hulle my eerder vir 'n keisersnee teater toe wou stuur, kon hulle nie, want die eerste baba was reeds op pad!
Mia (2,4 kg) is eerste gebore en haar sussie, Clara (2,6 kg), was 35 minute later daar.
Ons gesin het drie dae in die hospitaal gebly, waarna die babas weens geelsug in die neonatale intensiewesorg-eenheid (NISE) opgeneem is. Hulle is drie dae later ontslaan, gesond en gereed om huis toe te gaan.
Wanneer ek en my man na die uitdagende pad tot hier terugkyk, vind ons daarin rus dat alles perfek uitgewerk het. Selfs dit wat ons geleer het terwyl Mia en Clara in die NISE was, is vir ons onskatbaar in waarde! Ons prys en dank die Here vir die geskenk van twee gesonde babas en hul unieke en wonderbaarlike geboortestorie!
Bianca Grobbelaar, Johannesburg, Gauteng
SWANGER IN ONS 50'S!
Ek het die artikel "How old is too old?" (in B&K se sustertydskrif Your Pregnancy & Baby, Augustus en September 2022) met belangstelling gelees.
Dit is met 'n blye hart dat ek kan sê dat ek 53 jaar oud is en sewe maande swanger met 'n tweeling!
Voor die swangerskap het ek naar gevoel en met hoofpyn gesukkel. Ons huisdokter het die menopouse gediagnoseer en my huis toe gestuur. Dit het erger geword en die nuwe huisdokter het toe 'n swangerskapstoets gedoen. Dit was positief! Ek was uit my vel, want ek wou nog altyd 'n ma wees, maar kon in my jonger jare nie die intensiewe vrugbaarheidsbehandelings bekostig nie.
Ek het die waarneming in die artikel geniet dat "sometimes older women are more likely to have more eggs dropped every cycle because you're getting closer to menopause".
In tyd het 'n vriendin 'n interessante feit in nuwe navorsing raakgelees: Meer vroue - tot tussen 10% en 15% van die bevolking wat tussen 1965 en 1969 gebore is - word weer swanger of word vir die eerste keer swanger. Toe was ek regtig eers opgewonde, want ek is nou ook 'n wetenskaplike feit!
'n Kliënt van my in die verkoopsbedryf wat ek vir 'n paar maande nie in die hande kon kry nie, het uit die bloute gebel en gesê dat sy eers op sewe maande van swangerskap uitgevind het sy is swanger. Sy is 55 jaar oud en was ook nie bewus van my opwindende nuus nie.
Ons albei is gesond en verwag dat ons en ons kinders baat gaan vind by die wysheid wat ons op 'n meer volwasse ouderdom het.
Miskien sal dit sommige lesers hoop gee. Ek het in my hart nog altyd 18 gevoel en geniet hierdie tyd met 'n oorweldigende vreugde.
Mariette Janse van Rensburg, Bellville, Kaapstad, Wes-Kaap

Emosies in die NISE
My swangerskap het goed verloop tot en met 29 weke. Ná 29 weke is ek drie keer in die hospitaal met vrugwaterinfeksie opgeneem. Nie net het dit my baie siek en in pyn gelaat nie, maar ook my baba se lewe in gevaar gestel. Milana het vrugwater ingeasem. Op 32 weke van swangerskap het die dokter gesê my vrugwater is baie min en ons moet ons op 'n noodkeisersnee voorberei. Dit was baie trauma om te verwerk.
Milana se geboorte is iets wat ek nooit sal vergeet nie. Nadat sy uitgehaal is, het ek vir 'n oomblik gehoor sy huil en toe word die teater stil ...
Die vrees in my hart was aaklig en ek het elke oomblik slegte nuus verwag. My hart wou breek. Ek kon nie asemhaal nie, want ek kon haar net nou en dan hoor huil, en dan hoe sy sukkel om asem te haal.
Toe ek na my kamer teruggestoot is, het my man vertel Milana is siek en is in die neonatale intensiewesorg-eenheid (NISE) aan masjiene gekoppel is.
Ek het ure daarna opgestaan en na my baba geloop om te kyk of sy nog lewe. Ek het langs haar bedjie gaan staan waar masjiene vir haar asemhaal en blou en rooi ligte op haar skyn. Ek kon sien Milana trek baie swaar. Ek was verward, maar trots.
Ek was verlief op haar, al kon ek nie haar gesiggie sien weens al die pype en die masker oor haar ogies nie. Dit is 'n hartseer wat ek vir geen nuwe ouer toewens nie.
Ons het nie geweet of sy sou oorleef nie. Sy was swak en so klein. Ek het elke dag 'n uur langs haar gaan staan terwyl ek in die hospitaal was.
Ek het vir haar gebid en gedroom dat ek haar eendag sal kan vashou.
Ek is twee dae later ontslaan en het geweet dis tyd om haar alleen hier by die hospitaal te los. Toe ek by die deure uitstap, het dit gevoel of my hele lewe uitmekaarval.
Milana se NISE-reis was 'n op- en afrit. Dit het met tye baie sleg gegaan en die dokters was bekommerd.
Haar pappa was elke liewe dag baie positief. Hy het net geweet sy gaan gesond word en lewe. En so was dit ook. Sy het met elke besoek beter geword.
Die oomblik toe ek haar die eerste keer kon vashou, was emosiebelaai! Ek was 'n baie trotse ma en het besef my lyfie het baklei om te lewe.
Op dag 39 in die NISE het ek 'n oproep van die dokter gekry dat Milana die volgende dag huis toe kon gaan. Die vreugde in ons hart is onbeskryflik.
Vandag is sy gesond en vier maande oud!
Jeanette Els, Bultfontein, Vrystaat
GRENDELBABA

Amila is in 2020 tydens vlak 5 van die grendeltyd gebore en het 'n baie unieke geboorteverhaal.
Ek is 'n apteker en fotograaf wat kraamverlof gehad het. Dit het dit vir ons moontlik gemaak om op die familieplaas te gaan woon toe die inperking in Maart 2020 aangekondig is.
Die aand voor my oudste dogtertjie, Alexa (4), se verjaardag het my water gebreek en moes ons met 'n permit 127 km ver ry na ons destydse huis in Roodepoort, Johannesburg, waar Amila die volgende dag in die bad gebore is.
Die vroedvrou het die oggend van Amila se geboorte teen 09:00 by ons huis opgedaag om die eerste ondersoek te doen. Ek was in daardie stadium 2 cm ontsluit. Namate die dag verbygegaan het, het die kontraksies meer gereeld en sterker geword. Eers teen 14:00 het sy my 'n tweede keer ondersoek en ek was 6 cm ontsluit.
Tot in hierdie stadium was my kontraksies draaglik, ons het steeds grappies gemaak, my hare gevleg en selfs middagete geëet. Daarna het ek in aktiewe kraam gegaan en so teen 15:00 het ek my sterkste kontraksies gekry.
Ek het gedurende die hele bevalling geen pynmiddels of medikasie geneem nie. Ek het deurgaans ongelooflike ondersteuning en motivering gekry. Dit was al wat ek nodig gehad het.
Om 16:00 het ek naar geword en die drang gevoel om te druk. Ek is vinnig ondersoek en was ten volle ontsluit.
Ek het onmiddellik in die bad geklim en gewag vir die volgende kontraksie sodat ek kon druk. Met my tweede kontraksie en tweede druk het haar koppie uitgesteek en met die laaste druk het haar skouers uitgekom.
Amila is om 16:17 gebore.
Alles was perfek en beter as wat ek ooit kon dink. Sonder 'n sterk positiewe ingesteldheid, ondersteuning en 'n stewige geboortespan sou niks hiervan ooit moontlik kon wees nie.
Amila se geboorte was die grootste verjaarsdaggeskenk vir haar grootsus! Amila en Alexa is albei natuurlik en presies twee jaar uitmekaar gebore.
Tanja Robinson, Bronkhorstspruit, Gauteng
Wat sê die bekendes op sosiale media?
Watter mamma hou nie van drukkies nie?
En as drie dogtertjies jou gelyk liefde gee, is jy ryk!
- Minki van der Westhuizen se inskrywing saam met hierdie kostelike foto lui: "Girl gang #dogtertjiefees Wat 'n voorreg!"
- Rolanda Marais is die ewige stylikoon - selfs met 'n boepie! Rolanda laat met hierdie inskrywing weet dat sy die klere in haar kas sal dra vir so lank as wat sy dit in haar swangerskap kan regkry.


Wen 'n geskenkpak van Bio-Oil ter waarde van R3 100!
Bio-Oil se reeks spesialis-velsorgolies vir littekens en rekmerke gee jou vel presies wat jy nodig het om regdeur jou swangerskapsreis pragtig te kan rek en herstel. Bio-Oil Skincare Oil en Skincare Oil (Natural) is lig, nie-vetterig en word maklik geabsorbeer. Dit help om die vel se elastisiteit in stand te hou deur dit soepel en vogtig te hou, en help beskadigde vel herstel. Die geskenkpak sluit in 200 ml elk van Bio-Oil Skincare Oil en Skincare Oil (Natural), 'n luukse BENA-japon, 'n handgebreide mussie vir baba, 'n MACCIE-toedraaikombersie en -borslappies uit bamboes, Shoo-Shoo-leerskoentjies, 'n Bio-Oil-toiletwaresakkie en 'n pragtige stel mylpaalkaarte vir swangerskap. Ontdek spesialis-velsorg vir littekens en rekmerke en wees lief vir jou vel van boep tot baba.




















