Ouerskap

LESERSBRIEWE | Inboks

Praat saam met Baba & Kleuter
Praat saam met Baba & Kleuter

WENBRIEF

Ons ongelooflike geskenk!

Ek is swanger! En ja, dit was beplan. Die verwagte datum was 5 Januarie. Op 6 Desember sê die ginekoloog dat ek die 20ste weer moet inkom en as als goed lyk, doen ons die keiser op 21 Desember 2021. Sy is reg vir die wêreld!

Soveel dinge maal deur my kop. Ek werk nog tot 17 Desember. Dis Kersfees en ek het nog geen geskenke gekoop nie.

Ek is moeg en groot en ongemaklik. My voete is geswel. Toe ek my oë uitvee, is die eerste vakansiegangers al hier.

Ek druk deur en kry al die geskenkies vir die familie van naby en ver. Die laaste rygeleentheid is ook hier vir pakkies wat familie toe gestuur moet word.

Dis 20 Desember en ek gaan vir my volgende doktersbesoek. Ons is reg vir die 21ste. Ons gaan ons klein lyfie ontmoet. Nou het ons 'n vroeë Kersgeskenk wat vir ons wag.

Maar sy het nog nie 'n naam nie. Gaan my kind gebore word en ons het nie 'n naam nie? Daar is drie of vier name waarvan ons hou, maar niks is finaal nie. Alles is gepak vir die hospitaal en al wat kort is 'n naam. Asof in een asem sê ek en my man gelyk ... Nina! Nina sal dit wees. Nina is gebore op 21 Desember 2021 - net betyds vir die Kersfeesvieringe saam met haar familie. Wat 'n ongelooflike geskenk!

Nienke van Zyl, George, Wes-Kaap

Nina van Zyl se eerste Kersfees
Nina van Zyl se eerste Kersfees

Hoekom so haastig?

Alles beweeg en gebeur teen 'n rotteren-pas. Kinders word gebore en 'n paar maande later gaan hulle na 'n dagmoeder, speelskool en dan die grootskool. Daar is nie meer tyd vir kindwees nie.

Ouers jaag werk toe. Huis toe. Dagboeke regeer hul lewe. Daar's kommer oor geldsake en die vinnig stygende petrolprys. Vol programme dryf gesinne uitmekaar en wanneer daar wel tyd beskikbaar is, word dit ingesluk deur sosiale media en tegnologie.

Kerke word leër en die skeihof voller.

Onlangs het ek vir die eerste keer 'n ouma geword. Dis vir my 'n riem onder die hart om te sien hoe my nuwe seun tyd saam met sy vrou en sy kind deurbring. As elke mamma maar daardie rustigheid kon hê waarmee hy sy babaseun hanteer.

Met Vadersdag om die draai is ons almal weer bewus van die rol van 'n vader. Ons koop geskenkies, al verwag hulle dit nie altyd nie.

In sommige huise is daar dalk geen rede om dankie te sê, of selfs nie eens 'n pappa nie.

My dogter stuur die foto van waar haar man hul baba bad. Dit het my werklik aan die hart gegryp, want die liefde wat daar uitgebeeld word tussen pappa en seun is so opreg en suiwer. Oë vol gevoel wat mekaar ontmoet. Die hand wat hom liefderyk vashou is 'n hand wat liefde gee en ook reeds die hand van beskerming. Mag elke pappa sy dagboek herrangskik en tyd saam met sy kinders deurbring - veral as hy seuns het. Grendeltyd het ons na mekaar gedwing en nou, skielik, het ons weer in die dolle gejaag verval.

Mag Suid-Afrika se pappas hulle prioriteite regkry dat ons weer oë met liefde vir mekaar ontwikkel, soos ek by my seun en kleinseun sien.

Lynette Strydom, Gqeberha, Oos-Kaap

Vir my ongebore baba

My kind, ek het jou nooit ontmoet nie, maar ek het lief geword vir die gedagte van jou wat in my baarmoeder groei. Jy was perfek geskape. Tien toontjies wat opgewonde na my toe hardloop, waar ek gereed staan om jou te vang. Tien vingertjies wat my gesig streel wanneer ons in mekaar se oë staar. Ogies, 'n mengsel van jou pappa se blou en jou mamma se groen. Jou glimlag was genoeg om enige mens se dag op te helder - veral my en pappa s'n. My hart sou smelt elke keer wanneer jy in pappa se arms aan die slaap raak - my wêreld vasgevang in een prentjie, so perfek, so volmaak, so vol dankbaarheid.

Jy het vir my en pappa baie trane gebring, maar ek vergewe jou daarvoor, want my en pappa se huisie is nou sterker as ooit. Dankie dat jy gesorg het dat ek in hierdie moeilike tyd so 'n mooi deel van pappa se hart kon leer ken, van werklike, onvoorwaardelike liefde.

Mamma se lyfie het baie seer. Dis nie elke dag maklik nie en ek moet hard raas met die stemme in my kop, my kind, maar ek vergewe jou. Dis nie jou skuld nie. Mamma is jammer ek het jou daarvoor blameer. Dankie dat jy die skuld vir lank gedra het, maar ons het by die waarheid uitgekom en 'n deurbraak is hier!

My kind, ek laat jou nou gaan. Jy lê voor Sy voete, die perfekte plek. Ons is hier om jou te ontvang met ope arms, maar ons gaan nie meer vir jou wag nie - want ons (en jy) is nou vry.

Marni Duvenhage, Pretoria-Oos, Gauteng

OP INSTA GESIEN

@elisma_loftus "Ek gaan gholf speel" is maar net 'n veiliger manier om te sê "ek gaan saam met die mans drink" #wifelife #golflover

@koekemakranka_dot_net Maak nie saak hoe jy jou ma-wees-titel bekom het nie; jou onvoorwaardelike liefde is die pleister vir teleurstelling en hartseer. Jy's soos 'n pannekoek op reënerige dae. Jy's die speed dial vir noodgevalle. Die hoop. Die anker. Die toevlug.

@rolandamarais It is an honour and a privilege to be a mom. This little soul chose me out of everyone. To guide me and teach me. Pushing me to my utmost limit but also filling my cup with so much love and joy. Ek sien so uit na ons journey saam op hierdie planeet. My mensie wat my 'n mamma gemaak het. I have so much love and respect for her.

@little_monsters_za Ma's is soos knope - hulle hou alles bymekaar.

@heartsandhiccups Die kinders was so opgewonde oor Moedersdag dat hulle drie-uur vanoggend besluit het dis 'n aanvaarbare tyd om wakker te word. Gisteraand, toe hulle albei geslaap het, het ek gedink hulle is pragtige engeltjies. Ek besef nou ek was verkeerd. Grappie.

Speletjies van solarpop.co.za
Speletjies van solarpop.co.za

WEN!

Wen 'n dubbele geskenkpak met fantastiese solarpop-speletjies vir jou en 'n vriendin ter waarde van R2 500! Speletjies bied kinders 'n wonderlike geleentheid vir leer, sosialiseer en pret. Stel syfers bekend met Mobi Math Kids, sorg vir pret in die bad met Spot It - Waterproof, of vermaak hulle met 'n vinnige, skerp speletjie vir die hele gesin, Cobra Paw. Gaan na www.solarpop.co.za.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM