Ouerskap

Miskrame | Leë wiegie, leë arms

Getty Images
Getty Images

Om 'n baba te verloor tydens swangerskap is om 'n stuk van jouself te verloor. Daar's die skok, hartseer, woede en verslaenheid. En dan kom die vrae ...

Miskrame kom verbasend algemeen voor, met sowat een uit vyf swangerskappe wat spontaan eindig - soms sonder dat 'n vrou eens van haar swangerskap bewus was. 'n Miskraam word gewoonlik beskryf as 'n spontane aborsie en vind meestal plaas in die eerste drie maande van swangerskap, dus voor week 13.

Wat is die oorsake?

Hoewel miskrame dokters nog baie laat kopkrap, het hulle al heelparty moontlike oorsake geïdentifiseer.

Een moontlikheid is dat daar 'n abnormaliteit met die samestelling van chromosome kan wees wat verhinder dat die fetus normaal ontwikkel. In meer as 50 persent van dié gevalle is chromosoomafwykings te blameer en in ongeveer 60 persent het die fetus ernstige ontwikkelingsafwykings.

Party vroue word gebore met 'n abnormaal gevormde baarmoeder of kry uitgroeisels wat die ruimte waarin die fetus moet ontwikkel, kan beperk en die bloedverskaffing aan die baarmoeder kan beduiwel.

'n Ontoereikende serviks, oftewel een wat te ver oop is, kan ook tot 'n miskraam lei, maar gelukkig kan dokters vroeg ingryp deur 'n stekie in die serviks te plaas om dit toe te hou.

Vroue met 'n chroniese siekte se kans vir 'n miskraam is ook hoër. Dié siektes sluit in onbehandelde suikersiekte, ernstige nierprobleme en skildklierafwykings.

Indien jy enigeen van dié toestande het, moet jy eers behandel word voor jy kan swanger raak. Siektes en aandoenings soos waterpokkies, masels, MIV/vigs, herpes en sifilis val ook onder die risikofaktore vir miskrame. In sommige gevalle is die bloedgroep van ma en baba onversoenbaar sodat ma teenliggaampies teen die fetus ontwikkel en 'n spontane miskraam die gevolg is.

Ander faktore wat tot 'n miskraam kan bydra, sluit in ouderdom (vroue ouer as 40 se risiko is hoër en studies het ook bevind dat die man se ouderdom 'n rol kan speel), die aantal swangerskappe (die gevaar van miskrame verhoog ná 'n tweede swangerskap), 'n tekort aan foliensuur, die oormatige inname van kafeïen (meer as vier koppies per dag), die rook van meer as tien sigarette per dag en die oormatige gebruik van alkohol. Nog 'n moontlike oorsaak is die gebruik van sekere middels, onder meer ibuprofeen, en natuurlik ook dwelms soos heroïen en kokaïen.

WENK

Een van die belangrikste dinge wat jy kan doen om 'n tweede miskraam te voorkom, is om foliensuur te drink in die tyd wat jy swanger word.

'n Eerste miskraam verhoog nie noodwendig die gevaar van 'n tweede een nie, tensy daar iets met jou anatomie verkeerd is.

Hoe weet ek dis 'n miskraam?

Die eerste tekens van 'n dreigende miskraam kan insluit 'n bloederige vaginale afskeiding, krampe en kontraksies, buikpyn, koors, naarheid, 'n gevoel van swakheid, abnormaal baie stoelgange, gewigsverlies en rugpyn.

'n Bloederige afskeiding is nie noodwendig 'n seker teken van 'n miskraam nie, maar moet verkieslik dadelik deur jou dokter ondersoek word. Wanneer 'n miskraam vermoed word, sal jou dokter 'n volledige ondersoek doen deur jou mediese geskiedenis na te gaan, gevolg deur 'n bekkenondersoek.

Sy sal veral let op die grootte van jou baarmoeder om vas te stel of die serviks oop of toe is. As die serviks oop is en die miskraam begin het, kan die swangerskap nie gered word nie.

Sal ek weer 'n miskraam kry?

'n Eerste miskraam verhoog nie noodwendig die gevaar van 'n tweede een nie, tensy daar iets met jou anatomie verkeerd is.

In die geval van veelvoudige miskrame behoort 'n deeglike ondersoek gedoen te word om vas te stel wat die probleem veroorsaak. Herhaalde miskrame kan moontlik op genetiese afwykings dui.

Die meeste dokters beskou 'n eerste miskraam as natuurlik en beveel nie spesiale toetse aan nie.

Eers ná 'n derde miskraam word 'n oorsaak gesoek met behulp van bloedtoetse, ultraklank, biopsies en weefselontleding.

Wat gebeur wanneer ek 'n miskraam kry?

As jou dokter vermoed dat 'n miskraam in aanvang is, kan dit op verskeie maniere hanteer word:

  • Verdere behandeling is gewoonlik nie nodig nie omdat die baarmoeder hom self leegmaak, maar 'n skandering kan gedoen word om seker te maak alle weefsel is verwyder en om infeksies te help keer.
  • Medikasie kan toegedien word om die baarmoeder te help met die uitskeiding, maar dit het newe-effekte soos bloeding wat langer aanhou, naarheid en hoofpyn.
  • Vir vroue wat nie bereid is om Moeder Natuur haar gang te laat gaan nie, is daar die opsie van 'n operasie, maar die risiko bestaan dat die baarmoeder beskadig kan word, wat uiteindelik tot onvrugbaarheid kan lei.

Kan ek 'n miskraam voorkom?

'n Spontane miskraam is nie iets wat beheer of voorkom kan word nie, maar daar is dinge wat jy kan doen om 'n gesonder swangerskap te probeer verseker.

Maak seker dat jy 'n gesonde dieet volg wat baie foliensuur en kalsium bevat en vermy sagte kase en fetakaas, asook skulpkos en rou vis en vleis. Natuurlik moet jy ook van alkohol, dwelms en nikotien wegbly. Beperk jou kafeïen tot 'n maksimum van twee koppies per dag.

Gesels met jou dokter oor 'n gesonde oefenprogram en oor watter medisyne jy dalk neem wat baba skade kan doen. Maak verder seker dat jy ingeënt is teen siektes soos Duitse masels en vind meer uit oor oorerflike toestande in jul familie.

Vermy ook spanning en sien om na jou emosionele welstand.

Leë wiegie, vol hart

As jy 'n miskraam gehad het (of jou baba dalk doodgebore is), is dit baie belangrik dat jy tyd opsysit om te rou en dit te verwerk.

Moenie jou hieroor verwyt nie; die oorsaak is feitlik altyd buite jou beheer. Kenners beveel aan dat jy minstens drie maande wag voor jy weer probeer. Dit behoort genoeg tyd te wees vir jou liggaam en gees om te herstel, maar gesels eers met jou dokter om seker te maak jy is gereed.

Sluit by 'n ondersteuningsgroep aan; jou dokter behoort jou na 'n groep te kan verwys van mense wat dieselfde trauma beleef het.

Bly gefokus op dit wat jy graag wil hê en wees positief oor jou volgende moontlike swangerskap.

Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM