Het jy geweet?
Kinders kan hulle teen 18 maande dikwels self uittrek, maar sal hulle eers teen omtrent drie jaar oud self begin aantrek.
Dis te kostelik hoe jou peuter die een dag skaars kan praat en die volgende dag byna 'n hele tesourus probeer opsê. Maar 'n toenemende woordeskat is maar net een van die mylpale wat jy tussen een en twee jaar oud van jou japsnoet kan verwag ...
Onthou egter dat mylpale nie rigied nagestreef moet word nie, waarsku die Kaapse arbeidsterapeut Susanne Hugo.
"Elke kind is anders en ontwikkel teen hul eie pas." Kom ons kyk dus na die belangrikste mylpale vir een- tot tweejariges: emosioneel, fisiek en spraakgewys.
Lekker lag
Kinders kan van een jaar oud af ook 'n sin van humor wys en jy sal sien jou baba lag en glimlag oor dingetjies wat hulle snaaks vind.
Emosionele mylpale
Peuters se emosionele en sosiale ontwikkeling gaan hand aan hand, sê Anel Annandale, 'n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad. "Die meeste interaksie wat jong kinders het, is met hul versorgers. Dit lê die grondslag vir hul toekomstige verhoudings. Peuters leer ook baie van emosionele uitdrukking deur net hul ouers dop te hou," sê sy.
Volgens Anel is kinders geneig om tussen een en twee jaar meer selfbewus te word. "Hul emosies word ingewikkelder en hulle begin om gevoelens van skaamte, trots of skuld te ervaar. Hulle beskik egter nog nie oor die taalvaardighede om hul emosies in woorde uit te druk nie en span dus gedrag in.
'n Woedebui is dus net 'n uitdrukking van die frustrasie wat jou kind voel as dinge buite hul beheer is." Kinders kan nou ook 'n sin van humor wys en jy sal sien jou baba lag en glimlag oor dingetjies wat hulle snaaks vind.
Help hulle so
Dis belangrik om met peuters oor hul emosies te gesels en oor hoe om dit uit te druk - al verstaan hulle dit nog nie mooi nie. So help jy hulle om hul emosionele woordeskat te vergroot en leer hulle ook om hul emosies te hanteer, sê Anel.
Sê dinge soos: "Ek sien jy voel regtig gefrustreerd omdat jy nie daardie speelding in die boks kan bykom nie. Kom ons kyk, miskien kan jy die boks net 'n klein bietjie wyer oopmaak?"
Hoe weet ek as daar probleme is?
As jou kind vir lang rukke hartseer en terneergedruk lyk, het jy dalk rede tot kommer. "Vloerstuipe kom nou al voor, maar as 'n kind só kwaad word dat hy hom seermaak, kan dit op 'n probleem dui. As jou kind ook nie met jou of ander kommunikeer of probeer om jou aandag met 'n glimlag te kry of deur na jou te kyk nie, is dit dalk nodig om professionele raad in te win," sê Anel.
Fisieke mylpale
Die mylpale hieronder is tipies van die peuterjare en verskerp namate jou kind se tweede verjaardag nader kom, sê die arbeidsterapeut Susanne Hugo.
Jou kind ...
- Sit onafhanklik en kan hom self optrek om te staan,
- Trek hom self teen meubels op en loop sywaarts al met die meubels langs terwyl hy daaraan vashou,
- Kruip met gemak en kan by trappe opkruip,
- Kan 'n bal met reguit arms gooi, maar nog nie in 'n spesifieke rigting nie,
- Geniet dit om speelgoed en ander items rond te gooi,
- Probeer met 'n kryt op papier krap,
- Kan (met 'n bietjie geluk) 'n toring met twee blokkies bou,
- Begin om twee voorwerpe met een hand vas te hou,
- Kan self opstaan sonder om aan meubels vas te hou,
- Loop (waggel) onafhanklik, maar hou sy voete nog wyd uit mekaar. Sy hele voetsool maak kontak met die grond en sy arms is weg van sy lyf om te balanseer,
- Buk om ligte voorwerpe of speelgoed op te tel sonder om vooroor te val en sal begin om dit rond te dra terwyl hy stap,
- Krabbel met kryt op papier wanneer hy die geleentheid gegee word,
- Vang, gooi en skop 'n groot bal, maar verloor nog soms sy balans,
- Begin om deur 'n boek te blaai,
- Geniet dit om voorwerpe in en uit te pak,
- Kan 'n toring van drie blokkies bou,
- Loop met meer gemak op sy eie en sonder om te val,
- Begin hardloop, klim en spring namate sy balans verbeter,
- Klim die trappe onafhanklik op en af deur eers albei voete op een trap te sit voor hy op die volgende een klim,
- Sal nou 'n bal kan gooi en skop sonder om sy balans te verloor,
- Kan een bladsy op 'n slag deur 'n boek blaai,
- Gebruik albei hande om 'n deksel oop te draai en kan op sy eie 'n deurknop draai om 'n deur oop te maak, en
- Begin om meer definitiewe merke te maak terwyl hy "teken" en om met kolletjies en strepe te eksperimenteer.
Help hulle so
Susanne het dié raad om jou kind te help om sy mylpale te bereik.
- Gee hom die geleentheid om sy omgewing te ontdek en verskeie voorwerpe op te tel en te ondersoek - maak net seker dis veilig.
- Gee hom speelgoed wat hy kan gooi en gee hom geleentheid om voorwerpe in en uit te pak. Jy kan dit geleidelik moeiliker maak deur hom 'n ál kleiner houer te gee om dit in te pak.
- Laat hom toe om te klim en klouter en gee hom die geleentheid om trappe te klim en oor verskillende oppervlaktes (gras, sand, grond) te kruip of loop. As jou kind nog nie op sy eie kan loop nie, kan jy sy hande vashou of speelgoed vir hom gee wat hy kan rondstoot, maar vermy 'n loopring.
- Onthou jou kind leer deur herhaling. Herhaal aktiwiteite dus.
- ou peuter se aandagspan is nog kort - moenie van hom verwag om vir lank belangstelling in een aktiwiteit te toon nie. Sorg vir 'n verskeidenheid aktiwiteite en moet hom nie dwing om 'n aktiwiteit te doen nie.
- Laat jou kind in sand speel en wys hom hoe om modderkoekies te bak.
- Laat jou kind in water speel. Gee hom verskeie plastiekhouers en wys hoe om water van een houer in 'n ander te gooi.
- Gee hom 'n ballon om mee te speel. Laat hy dit met sy hande slaan, gooi dit vir hom om te vang en laat hy dit vir jou gooi.
- Gee hom papiere, kryte en verf. Moedig hom aan om te krabbel en wys hom hoe om horisontale en vertikale strepe te trek, kolletjies te druk en sirkels te teken.
- Laat jou kind met klei speel en wys hom hoe om 'n toring met blokkies of enige plastiekhouers te bou.
Hoe weet ek as daar probleme is?
As jou kind twee jaar oud is en nog nie die volgende kan doen nie, kan jy hulp soek, sê Susanne.
- Hy kan nog nie loop of hardloop nie. Hy moet ook van rigting kan verander terwyl hy dit doen.
- Hy kan nie 'n groterige bal vang wanneer dit in sy arms gegooi word en kan dit ook nie teruggooi nie. Hy moet ook 'n bal kan skop sonder om sy balans te verloor.
- Hy kan nie 'n toring van blokkies bou nie.
- Hy kan nog nie met 'n kryt krabbel of begin om kort strepies te trek as iemand al vir hom gewys het hoe om dit te doen nie.
Dis belangrik om met jou peuter oor haar emosies te gesels en oor hoe om dit uit te druk - al verstaan sy dit nog nie mooi nie.
Spraakmylpale
Die mylpale hieronder maak deel uit van kommunikasie-, spraak- en taalontwikkeling, sê die Kaapstadse spraaktaalterapeut Catherine Barry.
Jou peuter kan op 'n oorheersende prikkel fokus sonder dat hul aandag deur elke verandering in hul omgewing afgetrek word.
Funksionele spel ontwikkel, wat beteken jou kind begin dinge gebruik op grond van hul doel, soos 'n karretjie wat op die vloer getrek word en 'n borsel waarmee hare geborsel word.
- Jou kind sal dade na-aap wanneer sy speel, soos om met 'n besem te vee.
- Jou peuter wys sy is bewus van ander kinders.
- Sy kan spesifieke woorde begryp en kan woorde soos "bal" of "kar" buite konteks verstaan.
- Jou kind verstaan eenvoudige opdragte en vrae met een sleutelwoord soos "Waar is jou oë?". Teen die einde van die jaar verstaan sy vrae soos "Waar?" en "Wat is dit?" ¦ Onthou, begrip ontwikkel voor woorde gebruik word. Jou baba sal meer verstaan as wat sy kan sê.
- Jou kind sal in dié jaar haar eerste regte en betekenisvolle woorde begin gebruik en teen die einde van die jaar sal sy 50 woorde betekenisvol kan gebruik en twee woorde bymekaar kan sit om kort frases soos "mamma kom" in te span.
- Jou baba sal die meeste van die klinkers teen die einde van die jaar kan gebruik.
Help hulle so
Gehoor
Moedig die ontwikkeling van goeie luistervaardighede aan. Een van die beste maniere om dit te doen, is om self 'n goeie luisteraar te wees. Sit tyd opsy om op jou kind te fokus. Sorg dat daar nie te veel geraas in die omgewing is nie. Geraas kan veroorsaak dat jou peuter belangrike dinge wat sy moet hoor, ignoreer.
Spel
Speel op jou kind se vlak met haar. Gebruik ouderdomsgeskikte speelgoed of wat ook al beskikbaar is. Julle kan dalk agter die bank wegkruip, die lepels en vurke sorteer of kieliespeletjies speel om liggaamsdele te leer. Maatjies is op enige ouderdom belangrik. Voorsien 'n veilige omgewing aan jou kind om te speel en te ontdek en gee hulle genoeg tyd om alleen, met jou en met ander kinders te speel.
Taal
Help jou kind onderskei tussen die woorde wat hulle hoor en wat hulle sê en doen. Gebruik betekenisvolle handgebare om vir jou kind wenke oor die betekenis van woorde te gee. Verander jou stemtoon om aandag op sleutelwoorde te vestig. Jou kind sal 'n nuwe woord in verskillende kontekste moet gebruik voor hulle die betekenis ten volle verstaan. Gebruik taal en woorde om jou kind aan te moedig om woorde te gebruik.
Wees 'n aktiewe deelnemer aan gesprekke met jou kind, luister en gee terugvoering op hul kommunikasie. Probeer om vrae te vra wat meer as 'n "ja" of "nee" as antwoord vereis. Moedig jou kind aan om hul keuses in woorde uit te druk deur twee keuses te gee soos: "Wil jy sap of melk hê?" Moedig langer sinne aan deur te herhaal wat jou kind sê, maar om daarop uit te brei. Byvoorbeeld: "bad". "Ja, Mamma bad gou."
Spraak
Hoe jou kind klanke sê, is nou minder belangrik as die woorde of sinne wat hulle gebruik. Maak seker hulle hoor goed aangesien dit 'n groot invloed op taal en spraak kan hê. Lees vir hulle. Dis 'n heerlike manier om gehaltetyd saam deur te bring.
Julle kan ook net saamsit en oor die prentjies in die boek gesels. Luister na kleuterrympies en liedjies en voer dit uit. Gaan stap, kyk wat lê op die grond, kyk na blomme en insekte, en benoem alles.
Is daar probleme?
Catherine sê dis dalk nodig om 'n professionele mening in te win as: ¦ Jou kind min bewustheid van die wêreld om haar toon en sukkel om betrokke te raak by voorwerpe of mense;
- Voorwerpe in haar mond druk, gooi of teen goed stamp sonder om belangstelling daarin te toon of te verstaan dat dit 'n funksie het,
- Julle albei op dieselfde voorwerp fokus en jou kind nie in staat is om saam met jou daarop te fokus nie,
- Jou kind baie stil is en nie klanke gebruik nie, en/of
- Jou kind teen 18 maande geen regte woorde sê nie en ná 18 maande steeds baie kwyl.





















