Kersfees het gekom en gegaan, die bome en blink balle is gebêre, nuwe speelgoed is al gebreek of vergete en ons beursies is aansienlik dunner. Natuurlik is dit lekker om jou kind met die blinkste, raserigste speelding te bederf, maar die waarheid is dat min speelgoed babas en peuters regtig lank kan besig hou.
Hulle is ontdekkers en nuuskierige agies, en is gek daarna om iets nuuts onder hande te neem. Probeer om uit jou kind se oogpunt na sy wêreld te kyk en nut in allerlei huisware te vind. Jy sal verbaas wees waarvan jy alles speelgoed kan prakseer - en daardie speelgoed kan uiteindelik van groot sensoriese waarde vir jou kind wees.
Sensoriese spel is 'n belangrike deel van kinders se leerproses, sê Wietske Boon, 'n spelterapeut van Centurion. "Kinders leer die beste wanneer ál hul sintuie by die proses betrek word. Sensoriese spel is ook die manier waarop kinders kontak maak en inligting oor die omgewing insamel. So leer 'n kind homself ken en sy voor- en afkeure as dit kom by teksture, reuke en geluide.
Dis weer belangrik vir sy emosionele ontwikkeling." dié speelgoed is Supersensories Wietske deel idees vir tuisgemaakte speelgoed wat jou kind se sintuie stimuleer.
SIG
- Bou 'n bewertjie deur verskillende voorwerpe met tou aan 'n hanger vas te maak. (0-1 jaar)
- Verf twee leë toiletrolle en plak dit aan mekaar vas om 'n verkyker te vorm. Plak gekleurde, deurskynende plastiek as "glase" voorop. Skielik lyk die omgewing anders en in 'n nuwe kleur getooi. 'n Alternatief is om 'n bril uit 'n boks te knip en gekleurde, deurskynende plastiek as lense op te plak. (2+ jaar)
- Plak 'n prentjie (iets gepas uit 'n ou tyd- skrif) op 'n stewige stuk karton. Sny dit in groot blokke en gebruik dit as 'n legkaart. (2+ jaar)
- Knip prentjies uit tydskrifte en maak beurte om stories oor die prentjies te vertel. (3+ jaar)
REUK
- Giet speserye (nie te sterk nie) of vanieljegeursel in klein botteltjies en laat jou kind raai wat in die botteltjie is. (2+ jaar) TASsin
- Pak verskillende voorwerpe in 'n sak of kussingsloop. Laat jou kind sy hande in die sak steek en raai wat alles daarin is. (2+ jaar)
- Kielie mekaar met vere onder die voete en op die hande en wange. (0-2 jaar)
- Maak spesiale tyd om sy lyfie met room te smeer en maak dit sommer lekker geselstyd ook.
GEHOOR
- Gooi sand, klippies of ryskorrels in 'n leë bottel en verseël dit goed. (0-2 jaar)
- Versamel blikke van verskillende groottes en laat jou kind die geraas geniet wat elke blik maak wanneer hy daarop slaan. Blikke van verskillende groottes gaan natuurlik verskillende klanke maak. (1+ jaar)
ANDER
- Bou 'n huis van 'n boks. Verf die boks en sny 'n deur en vensters daarin. Dit kan vir ure se verbeeldingspel sorg.
- Prakseer maskers van papierborde. Sny oë, 'n neus en 'n mond daarin, kleur die gesiggie in en heg 'n rekkie aan. Dit is ook 'n prettige rolspel-rekwisiet.
- Bou 'n toring van plastiekbakkies.
Veiligheidswenk
Het jy geweet? Enige voorwerp wat deur 'n toiletrolring pas (soos 'n melkdoppie) is vir babas 'n verstikkingsgevaar.
Beste speletjies vir babas
- Teken eenvoudige gesigte op 'n papierbord. Knip 'n spiraal uit papierborde en hang dit bo jou baba se doekruilplek.
- Laat jou baba met sponsies, borseltjies en plastiekbakkies in water speel.
- Vul allerlei houers en blikkies met macaroni en laat baba dit skud!
- Laat jou baba na homself in 'n spieël kyk en begin hom sy liggaamsdele leer.
- Hang klokkies of krale aan 'n lint en bind dit aan jou baba se arms of bene vas.
- Vul ballonne met suiker of jellie. Hy sal gek daarna wees!
- Vul 'n ou kous met sellofaanpapier. Jou baba sal heerlik daarmee speel.
- Sit 'n blikkie met 'n plat deksel en allerlei artikels voor hom neer. Baba kan dit heerlik in- en uitpak en probeer om die dekseltjie toe te maak.
- Stoot jou baba in 'n groot boks of badjie rond of laat hom in- of onderdeur kruip.
- Skeerroom is 'n heerlike speelding. Spuit 'n bietjie in jou baba se handjies of sit dit op sy eetstoeltjie se blad sodat hy dit met sy vingers kan ontdek.
- Gooi droë pasta of rys in 'n ou bababad en sit tregters, maatkoppies en speelgoedbekertjies by. Jou kleintjie kan heerlik daarin sit en speel.
- Frommel ou tydskrifblaaie, vorm dit in balletjies en laat jou baba dit rondgooi!
Ideaal vir peuters & kleuters
1. Gee jou kind produkte soos rosyntjies om tussen verskillende papierborde te verdeel.
2. Hou saam piekniek in jul eie "tent" van lakens onder die tafel.
3. Bak saam koekies of kolwyntjies.
4. Speel skattejag en gee vir jou kind leidrade.
5. Speel onder die sproeier.
6. Gee jou kind papier en vingerverf. Dit hou hulle op 'n prettige manier besig.
7. Gee jou kind 'n groot bak vol water met 'n klomp klein bakkies en koppies. Hulle kan dan heerlik water skink en mors. Hou maar 'n ogie!
8. Voer saam eksperimente uit. Plaas tinfoelie in 'n bak. Sprinkel koeksoda op die bodem en giet dan asyn daarop sodat die koeksoda kan bruis. Jou kleuter sal gefassineer wees.
9. Span 'n wasgoeddraad in jou kind se kamer op sy hoogte en laat hom klere met wasgoedpennetjies ophang.
10. Pak 'n klomp speelgoed in die bad en laat jou kleuter dit was.
11. Laat jou kind op 'n groot stuk papier lê en trek sy lyfie daarop af. Laat hy dit inkleur en versier en ook liggaamsdele benoem.
12. Maak saam musiek en leer jou kind rympies en liedjies.
13. Moedig jou kind aan om sy verbeelding te gebruik. Laat hom dink aan verskillende gebruike vir 'n boks: Dit kan 'n motor, 'n vuurpyl of 'n huisie wees.
14. Versamel boksies van verskillende groottes en laat jou kind dit aan mekaar vasplak.
15. Bou 'n hindernisbaan met dinge soos kussingslope en duvets.
16. Maak jul eie soutklei. Meng ½ koppie water met 1 eetlepel sonneblomolie. Roer 2 koppies koekmeel en ½ teelepel sout by. Knie tot 'n deeg vorm. Giet nog water by indien nodig. Voeg voedselkleursel by en knie goed. Bêre in 'n plastieksakkie om die klei sag te hou.
17. Maak self verf. Meng 1 koppie meel met 1 koppie sout. Voeg 1 koppie water by en meng tot glad. Verdeel die mengsel in plastieksakkies en voeg verskillende kleure voedselkleursel by elke sakkie. Voeg nog water by om dit te verdun. Giet dit in botteltjies met deksels. Meng skottelgoedseep met water en giet dit in leë borrelhouertjies. Blaas borrels.
18. Bou saam met jou kleinding 'n vulkaan. Bou dit uit klei of papiermaché en maak 'n gat in die middel. Gooi nou 2 teelepels koeksoda in en giet asyn stadig daaroor.
19. Wys jou kind hoe om eenvoudige halssnoere van pasta te maak. Ryg verskillende soorte rou pasta aan 'n toutjie.
20. Maak 'n hoedjie van enige gekleurde papier.

Wenk
As jou kind plastiekbakkies in mekaar pak, leer hy iets meer oor groottes en vorms.
‘So het ons dit gedoen'
Anne Janse van Rensburg, Pretoria: My vriendinne het altyd gedink ek maak vir myself net meer werk, maar ek het graag meel op my tweeling se tafeltjie gegooi waarin hulle heerlik kon speel (en mors!).
Christa Paulsen, Bloemfontein: Ek maak net my kas met potte of panne vir my dogtertjie oop en sy geniet dit gate uit!
Mariska de Witt, Polokwane: Ek onthou nog hoe my ma altyd vir ons allerhande diere uit wasgoed-poeierbokse en foeliehouers gebou het. Dit was wonderlik. Vandag doen ek dit ook.
Zinta de Villiers, Pretoria: Ek trek 'n tou deur 'n klompie leë toiletpapierrolletjies en maak 'n klomp blink goeters daaraan vas wat 'n lekker geraas maak. Kleintjies speel te heerlik daarmee.
Annatjie Pretorius, Randfontein: Ek gee my kleintjie 'n houtskinkbord en hy vul dit met grond. Hy versier dit dan met klippies, takkies, gras en blommetjies, tot 'n plastiekbak-dammetjie. Dan gaan hy op 'n goggajag vir sy tuintjie ...





















