Die fyn babakos wat jou baba leer eet het, gaan haar nie baie lank interesseer nie.
Behalwe dat sy moeg kan raak vir die pap kos, is dit om verskeie redes ook belangrik dat sy growwer kos leer eet. Growwe kos beteken sy moet kou, en al het sy nog nie 'n enkele tandjie nie, begin sy al oefen vir die groot kou wat kom. Al die koubewegings maak haar tong en mondspiere sterk sodat sy nie net vir haar pa kan tong uitsteek nie, maar ook binnekort pragtige woordjies kan begin sê. Sy stel al klaar meer belang in mamma se kos as haar eie en as sy mooi leer, gaan sy binnekort dieselfde kos as die res van die gesin kan eet.
Teksture bring natuurlik ook 'n groter gevaar mee dat jou baba kan verstik. Baie ma's weerhou growwe kos juis omdat hulle bang is vir verstikking. Maak eerder net seker jy weet presies wat om te doen en sorg dat jy by jou baba is sodat jy vinnig kan help.
Moenie uitstel nie; jy kan selfs teen ses maande al met korrelrige kos begin, maar moenie tot later as nege maande wag nie. Babas wat eers ná 10 maande oud growwe kos begin eet, sukkel om dit baas te raak.
Doen dit so:
Die vleispuree en mieliepap gaan nie oornag in 'n biefstuk of 'n mielie op die stronk verander nie. Growwer kos moet geleidelik bekendgestel word.
Gee een growwer kossoort met elke ete en hou die res die puree waaraan sy gewoond is. Dit kan makliker wees as die growwe kos iets is wat sy reeds ken eerder as 'n nuwe kossoort.
Skil vrugte en groente nog steeds af, want die skil kan maklik aan jou babase verhemelte vassit en dan is dit omtrent 'n storie om dit af te kry.
Avokado
Jou baba moenie net aan growwigheid gewoond raak nie, sy moet ook leer kou. Repies avokadopeer het 'n lekker sagte mondgevoel, maar moet ook 'n bietjie gekou word. Dit is dus 'n ideale kos vir jou baba se eerste kou.
Hawermoutpap
Een van die eerste maniere om jou baba bekend te stel aan growwer kos, is om kos te gee wat fyn is met hier en daar'n stukkie growwigheid in. Hawermoutpap is ideaal omdat dit van nature so'n tekstuur het. Onthou om dit sonder sout gaar te maak en nie suiker by te voeg nie.
Botterskorsie-vingers en murgpampoentjies
Die meeste babas wil self eet en daarom sal 'n handkos wat hulle self kan vashou en eet daardie ekstra motivering gee wat nodig is om 'n stukkie growwe kos in te kry. Vervang botterskorsiepuree met gaar vingers wat jou baba self kan eet. Skil die botterskorsie af en stoom dit net so heel. Toets dit met 'n mes en as dit sag genoeg is, kan jy 'n paar vingers afsny, dit laat afkoel en vir jou baba gee.
Murgpampoentjies is ook 'n ideale handjiekos wat jy heel, skil en al, kan stoom. Sny die punte af voor jy dit vir jou baba gee.
Fyngerasperde appel en fyngedrukte patat
Tekstuur kan ook ingebring word deur dieselfde kos te gee, maar dit geleidelik growwer te maak. Die gewone appelpuree kan jy dus vervang met appel wat fyngerasper is, en pleks daarvan om die patat met 'n stokmenger fyn te maak, kan jy dit met 'n vurk fyndruk.
Maalvleis
As jou baba goed vorder, kan jy maalvleis gee wat sommer propvol growwigheid is. Voeg ekstra water by wanneer jy dit gaarmaak en maak dit dik met meel of mielieblom. Die sousie sal jou baba help om dit te eet. Aan die begin sal sy die stukkies uitspoeg, maar wees geduldig. As jy dit aanhou gee, sal sy gou aan die nuwe gevoel in haar mond gewoond raak.
Broodvingers en pastavorms
Die meeste ma's dink dalk dat 'n sagte witbroodjie die beste vir 'n sagte babatjie werk. Witbrood is egter geneig om 'n kluitjie te vorm wat moeilik gekou en gesluk word. 'n Stukkie growwe brood soos 'n swaar bruin- of saadbroodjie met 'n growwe tekstuur en wat maklik krummel, werk ideaal. Pastavormpies met krulle en draaie is ook lekker handjiekos. Kook dit sag en gee vir jou baba om net so te eet.





















