
Dis nou spiekeries! Ons is dol oor trots Suid-Afrikaanse Crunchbox se bento-kosblikke, want hulle staan uit en sal nie sommer per ongeluk saam met die verkeerde maatjie huis toe gaan nie. 'n Verpersoonlikte kosblik met 'n vinielplakker en 'n bio-afbreekbare lepeltjie kos R499. ('n Kosblik sonder verpersoonliking kos R449). Gaan na mycrunchbox.co.za om meer te sien. Hulle het flesse ook en allerhande bykomstighede wat pouse sommer spoggerig sal maak.
Help 'n maatjie
Shaziah Coetzee (10) is 'n dogtertjie van Bonteheuwel in Kaapstad wat Down- sindroom het, asook 'n hartafwyking. Sy wil graag in Maart vanjaar Gigi's Playhouse in Phoenix, Arizona besoek om aan hul junior program deel te neem. Dis 'n spesiale sentrum vir mense met haar toestand. Die Coetzees het R50 000 nodig om Shaziah se droom te bewaarheid. As jy kan help, gaan na haar Back a Buddy-blad. http://www.backabuddy.co.za/shaziah-coetzee
Peppa Pig op die planke
Almal se gunsteling-vark (en kie) kom weer Suid-Afrika toe met 'n splinternuwe vertoning, Peppa Pig's Perfect Day. johannesburg Emperors Palace, 24 Maart tot 10 April Kaapstad KIKS, 14 tot 16 April Durban The Globe Suncoast, 21 tot 23 April Prys Kaartjies is te koop by peppapiglive.co.za. Daar is verskeie prysopsies vanaf R159.
Kommerwekkende patroon
In 2013 het 7 800 onderwysers afgetree. In 2021 het 12 500 afgetree. Daar word bereken dat 17 300 in 2029 sal aftree. En nee, hulle word nie almal deur nuwe onnies vervang nie. Nie eens naastenby nie. Die behoefte word elke jaar ook net groter, want die begrotings vir salarisse hou nie tred nie. Skole het eenvoudig nie die geld om onderwysers aan te stel soos nodig nie.
Dít is alles die bevindings van die Teacher Demographic Dividend Project, 'n studie deur die Universiteit Stellenbosch. Een manier waarop jy kan help, is om lid te word van School-Days. Dis 'n beloningsprogram waardeur jy punte verdien wat ingespan kan word om jou kind se skool of 'n behoeftige skool van jou keuse te help.
Vind meer uit by schooldays.co.za.




















