Gratis gehalte in Afrikaans
Een van die beste aanlyn hulpbronne vir vroeë kinderontwikkeling (VKO) wat ons nog teëgekom het, is op Afrikaans.com te kry. En dis gratis!
Daar is 'n volledige 40 week lange kleuterkurrikulum vir peuters van twee tot vier jaar, asook vir graad pre-R en R. Dié topgehalte-materiaal is deur Yolandi van den Heever en Sophie Breytenbach saamgestel. Hulle glo aan leer deur beweging en 'n konkrete benadering tot moeilike en nuwe begrippe.
Jy kan dit tuis gebruik met jou eie kinders, of as jy 'n onderwyseres is, met jou klassie. Die onderwysershandleiding gee jou 40 temas vir die jaar, met lyste materiaal en benodighede (alles taamlik alledaags).
Daar is video's oor die dagprogram en alles is netjies in kwartale verdeel.
Die dinkwerk is letterlik vir jou gedoen. Jy moet net jou peuter of kleuter nader trek en aan die gang kom.
Snuffel sommer verder op Afrikaans.com rond. Daar is keurige gratis boeke en luisterboeke ook te kry.

Is jy in Jan se span?
Jou kind kan al van 18 maande af by die laerskool Jan Celliers in Parkview, Johannesburg, inval en tot graad 7 daar bly. Elke klassie in die speelskool het 'n bekwame onderwyseres en twee assistente. Hulle help selfs met toiletroetines as jou kleinding dit nog nodig het.
Wat opvoedkunde betref, word die Matal- en Reggio Emilia- metodes as grondslag ingespan. Dit lê die klem op 'n ondersoekende ingesteldheid, kreatiewe denke en estetiese bewustheid.
Jou kind sal ook nie in die bondel verdwyn nie; daar word gefokus op die ontwikkeling van elke kleuter se unieke persoonlikheid en emosionele intelligensie.
Jan Celliers is 'n onafhanklike, Afrikaanse Christelike skool wat hom daarop roem dat jou kind daar wêreldklas-onderrig ontvang, holisties sal ontwikkel en sal kan deelneem aan 'n rits mededingende buitemuurse aktiwiteite.
Gaan gerus na jancelliers.co.za om te sien wat nog alles aangebied word - daar's van kodering tot viool en van drama tot Frans.
Die skool is ook reeds etlike jare lid van die WESSA Eko-Skoleprogram en het Groen-status behaal. Die pragtige kweekhuis en tuine waar die kinders ook kan werk, is iets wat jy moet sien!
HET JY GEWEET?
Meer seuntjies as meisietjies is linkshandig.

Lekker, LEGO
Dalk het jy al agtergekom dat die LEGO Friends Universe-stelle deesdae effens anders lyk. Dis wonderlik!
Die figuurtjies sluit nou 'n groter verskeidenheid velkleure en kultuuragtergronde in, asook spesiale behoeftes en neurodiversiteit. Dit weerspieël ons diverse werklikheid dus baie beter.
Die nuwe geslag LEGO's is oral te koop en jy kan ook op hul YouTube-kanaal na LEGO Friends- televisie kyk.
Gaan na lego.com/friends vir nog inligting















