NUWE BABA | O wee, dis dag drie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Getty Images
Foto: Getty Images

Die bedrukte gevoel wat nuwe ma's kort ná hul bevalling kry, is so algemeen dat medici dit as normaal beskryf. Maar hoekom ly so baie vroue aan die berugte derdedag-depressie, en is daar enige salf te smeer aan dié toestand?

Dis vir baie eerstekeer-ma's 'n groot skok as hulle twee of drie dae ná hul baba se geboorte hard te lande kom vanaf die wolk waarop hulle sedert die geboorte gesweef het. Kenners sê vroue is in hierdie tyd altyd vatbaar vir gemoedsversteurings.

Dit is normaal om skielik oorweldig te voel en heeltemal te verstane gegewe al die nuwe uitdagings.

SO VOEL DIT

  • Jy is emosioneel en word maklik ontstel deur dinge wat jou voorheen nie sou gepla het nie.
  • Dit voel selfs vir jou of jy nooit weer sal kan lag nie. Alles voel te veel - selfs om op te staan en aan te trek.
  • Sommige ma's kla van pyn waarvoor daar geen mediese verklaring is nie. Ander voel bloot nie lekker nie, maar kan nie hul vinger op die probleem lê nie.
  • Baie is buitengewoon moeg, maar kan nie aan die slaap raak nie, terwyl ander skielik baie meer wil eet en sommiges weer geen eetlus het nie.

HOEKOM VOEL JY SO?

Van die redes is biologies en ander emosioneel. Kort ná die geboorte van 'n baba beleef vroue geweldige hormoonskommelings. Die vlak van party hormone wat net vir die swangerskap nodig was, tuimel ná die verlossing skielik.

Terselfdertyd word 'n klomp ander en nuwe hormone vrygestel om met borsvoeding te help. Hierdie skielike veranderinge is een van die groot oorsake van bababloute. Baie ma's word ook onkant gevang deur 'n geweldige moegheid wat hulle ná 'n bevalling tref.

Die afwagting, die fisieke impak van die lewe skenk en die min slaap in die hospitaal dra alles daartoe by. As baba boonop sukkel om te voed of dalk geelsug kry, word 'n mens baie maklik angstig.

MAAK DIT BETER

Derdedag-depressie is nie 'n siekte nie. Dit gaan ook dikwels net so gou verby as wat dit begin het, veral as jy 'n gesonde steunstelsel het. Kenners sê die bababloute behoort beslis teen twee weke ná baba se geboorte te wyk. Soms is dit binne 'n dag weg.

Naas rus, tyd en die gedurige gerusstelling van geliefdes en mediese personeel dat alles in die haak sal wees, is geen behandeling nodig nie. Rus soveel as wat vir jou moontlik is ná jou baba se geboorte, want dit sal beslis help met jou gevoel van angstigheid en prikkelbaarheid.

Stort gerus ook jou hart uit. Kenners sê ma's met bababloute moet toegelaat word om te huil wanneer hulle wil huil. Dis gesond om aan jou emosies uitdrukking te gee, beaam sielkundiges en psigiaters.

Probeer ook maar onthou dat jy nie die enigste vrou is wat dit oorkom nie, en dat dit 'n normale hoofstuk is op die pad van ma wees - en boonop een wat gou sal verbygaan. Wees liefdevol teenoor en geduldig met jouself.

AS DIE BLOUTE BLY

Nageboortelike depressie verskil van die sogenaamde bababloute wat tussen drie en vyf dae ná die geboorte posvat.

Die huilerigheid wat met laasgenoemde gepaardgaan duur hoogstens twee weke, maar meestal net 'n dag of twee.

Nageboortelike depressie, daarenteen, ontstaan gewoonlik as jy al 'n rukkie by die huis is en die steun nie meer daar is nie. Volgens die meeste kenners begin dit tussen die sesde week en derde maand ná die baba se geboorte.

Die simptome is aanvanklik soortgelyk aan dié van bababloute, maar in die geval van nageboortelike depressie moet jy so gou moontlik dokter toe gaan.

NUWE PA, LEES HIER ...

ONDERSTEUN JOU VROU DEUR:

  • Haar te laat praat en sonder oordeel te luister.
  • Te sorg vir 'n paar etes. Hospitaalkos is nie baie inspirerend nie.
  • Gaste te vra om hul besoek met 'n week of wat uit te stel.
  • Haar te help om te prioritiseer. Omdat nuwe ma's dikwels so oorweldig is, sukkel hulle om te bepaal wat nou belangrik is en wat maar kan wag. Oortuig haar byvoorbeeld dat bedankingskaartjies beslis nog nie uitgestuur hoef te word nie!
Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

CTA