NUWE BABA | Versorg baba se brose vel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Hoewel die boonste vellaag van 'n pasgeborene net so dik soos 'n volwassene s'n is, is jou baba se velletjie veel delikater as joune. Jou baba se vel dien as die eerste beskermingslaag wat haar teen fel temperature, mikroörganismes en infeksies beskerm. Dermatoloë weet nou dat 'n baba se vel buite die baarmoeder eintlik aanhou ontwikkel. Veral die vel se vermoë om as waterversperring te dien, hou in baba se eerste jaar aan ontwikkel.

Die wêreld in die baarmoeder is nat en daar was jou baba deur vrugwater omring. Haar velletjie het haar teen die vrugwater beskerm met die hulp van 'n wasagtige lagie wat vernix genoem word en wat haar bedek en geïsoleer het.

Met geboorte sal daar steeds 'n bietjie vernix aan haar vel wees en jy behoort nie te haastig te wees om dit af te was nie. Daar is bevind dat vernix bestanddele bevat wat teen bakterieë veg en wat baie dieselfde is as die immuunversterkende, beskermende middels wat in borsmelk voorkom.

Dis dus 'n goeie plan om ná die geboorte baba se eerste bad vir 'n dag of twee uit te stel sodat die vernix-lagie deur die vel geabsorbeer kan word.

Water binne, slegte goed buite

Ná geboorte moet jou baba se vel by die nuwe, betreklik droë omgewing aanpas. In studies is bevind dat veral drie tot ses maande oue babas water deur hul vel verloor, asook babas met veltoestande soos atopiese dermatitis (ekseem).

Wat is die rede vir hierdie vogverlies? Die struktuur van 'n babavel is anders as dié van 'n volwassene se vel. Die selle is kleiner en die kollageenvesels dunner. Dit bevat minder natuurlike bevogtigingsfaktore, minder vette en minder melanien as 'n volwasse vel. Die gevolg is dat baba vinniger vog verloor.

'n Babavel het ook 'n hoër pH as 'n volwasse vel, wat die vel minder ontwikkeld maak en meer geneig tot droogheid.

'n Baba se vel kan meer water as 'n volwasse vel absorbeer, maar dit verloor ook water teen 'n vinniger pas, sê die Johannesburgse dermatoloog dr. Rakesh Newaj.

Omdat 'n baba se immuunstelsel steeds aan die ontwikkel is, loop sy 'n groter gevaar om velirritasies en -infeksies op te doen. Jou baba se vel is meer vatbaar vir die omgewing as 'n volwasse vel en as jy nie behoorlik daarna omsien nie, kan toestande soos brandboudjies, ekseem en ander velinfeksies ontstaan. Dit is waarom jou baba se vel spesiale sorg nodig het.

Dis dus baie belangrik dat jy jou baba se beskermingslaag in stand hou, sê Rakesh. Die vel help om jou baba se liggaamstemperatuur te reguleer, waterbalans te behou en om interne organe te beskerm teen die son, besoedeling en die indringing van mikroörganismes.

Jy kan help om jou baba se vel te beskerm deur waterverlies te beperk. Dit word gedoen deur genoeg vloeistowwe te gee, jou baba met gepaste produkte te reinig en die vel gehidreer te hou met bevogtigers en versperringsrome wat 'n beskermingslaag tussen die poreuse babavel en die fel omgewing kan vorm. In 'n neutedop: Die kuns is om water binne te hou en slegte goed buite!

Hoe nou met ekseem?

Allergiesiektes begin en ontwikkel dikwels by verskillende mense op dieselfde manier. Dit is 'n proses wat dokters die allergie-opmars of die atopiese opmars noem. Atopiese dermatitis oftewel ekseem is een van die eerste simptome - die eerste stap in die opmars - en die meeste kinders wat later met asma of hooikoors sukkel, het ekseem as hul eerste simptoom gewys.

Of jou kind aan die opmars gaan deelneem of nie hang van baie dinge af. Dit sluit in oorerwing, maar ook omgewingsfaktore soos blootstelling aan bakteriese gifstowwe, vroeë infeksies, troeteldierbakterieë, besoedeling, tabakrook, antibiotika en chemiese stowwe.

Wetenskaplikes is besig om die gene te isoleer wat vir atopiese siektes verantwoordelik is sodat dit beter behandel kan word. Professor Michael Cork, 'n vooraanstaande dermatoloog in die Verenigde Koninkryk, meen dat die atopiese opmars gekeer kan word deur die velversperring te onderhou, stowwe te vermy wat allergiese reaksies tot gevolg kan hê en te sorg dat skadelike stowwe nie deur die vel dring nie. Die beste manier om dit reg te kry, is om baba se velletjie gereeld te versorg met produkte wat spesifiek daarvoor geformuleer is.

Jy kan nie 'n geneigdheid tot allergiesiektes keer nie, maar jy kan die gevaar daarvan verminder deur jou baba se vel goed en sorgvuldig te versorg.

Sommige velsorg-produkte, lugbesoedeling en kos kan 'n goeie of slegte uitwerking op jou baba se velletjie hê. Produkte wat te sterk is, kan die vel irriteer en selfs verniel en moet liefs vermy word.

Vel-tot-vel-aanraking

Jou nuwe baba se vel is so sensitief dat haar goedvoel-hormone gestimuleer word elke keer dat jy haar streel of troetel. Net 10 minute se vel-tot-vel aanraking verlaag die vlak van kortisol (streshormoon) en verhoog oksitosien (goedvoel-hormoon). Die uitwerking: 'n kalm baba wat veilig voel. Vel-tot-vel aanraking moedig nie net binding aan nie, maar speel 'n groot rol in hitteregulering. Jou vel het min of meer dieselfde temperatuur as die baarmoeder. As jy dus jou nuwe baba vel teen vel warm hou, sal hy nie onnodige energie verbruik om sy liggaamstemperatuur te probeer reguleer nie.

Wanneer jy jou baba se velletjie was, moet jy so versigtig moontlik te werk gaan. Gebruik produkte wat spesifiek vir babas ontwerp is en wat goeie velversperrings uitmaak.

Seep en bevogtigers

Vermy velsorgprodukte vir volwassenes, sê Rakesh. "Daar word gewoonlik op die verpakking aangedui wanneer 'n room te sterk vir 'n baba se vel is."

Vermy ook antibakteriese of ontsmettingsoplossings, sowel as rome wat retinol bevat, gliserienseep en chloorheksidienoplossings. Growwe skropmiddels moet ook natuurlik nie gebruik word nie. Hou dinge eenvoudig "Die beste bevogtigers bevat geen alkohol of sterk reinigingsmiddels nie," sê Rakesh. Natuurlike middels is gewild omdat bymiddels ouers kwel.

Onthou net dat "natuurlike" produkte nie altyd nommerpas vir babavelletjies is nie. "Olyfolie is byvoorbeeld nie 'n goeie velversperring nie omdat dit oliesuur bevat wat die vel kan irriteer en skaad." Sommige ouers is bekommerd oor babavelsorgprodukte met preserveermiddels, maar vervaardigers het 'n plig om te verseker dat hul produkte nie besmet word met mikroörganismes wat ernstige siektes kan veroorsaak nie.

Daar is beproefde preserveermiddels wat deur internasionale reguleringsliggame vir gebruik in produkte aanbeveel word, en alle watergebaseerde produkte moet in elk geval preserveermiddels bevat om te voorkom dat dit bederf.

Jou ander opsie is om al die kunsmatige reinigingsmiddels te vermy en net water te gebruik. Water op sy eie is egter nie 'n goeie reinigingsmiddel nie en dit begin die vel ná omtrent 30 sekondes uitdroog, want die vel droog uit sodra die water verdamp. Vuil deeltjies op jou baba se vel los gewoonlik in vet op en moet dus met spesiale reinigingsmiddels verwyder word. Water op sy eie sal nie altyd van al die vuiligheid ontslae kan raak nie.

Badtyd

Wanneer jy jou baba se velletjie was, moet jy so versigtig moontlik te werk gaan. Gebruik produkte wat spesifiek vir babas ontwerp is en wat goeie velversperrings uitmaak, soos babaolie of petroleumjellie. Dit word soms ook gebruik om ekseem te behandel en versag baba se vel sonder om dit te irriteer of sweetgaatjies te verstop.

"Hierdie produkte is minder geneig om velreaksies te veroorsaak en is meer stabiel as die meeste plantolies. Rome wat sink bevat kan ook baie doeltreffend wees," sê Rakesh.

Moenie jou baba vir te lank bad nie, want dit kan ook sy vel uitdroog. Bevogtig jou baba se vel onmiddellik ná sy bad sodat die vogtigheid binne bly en baba se vel langer streelsag bly. Moet jou baba ook nie te gereeld bad nie, en beslis nie 'n paar keer per dag nie.

Wanneer jou baba ouer en sterker word en sy eerste verjaardag gekom en gegaan het, kan jy begin ontspan. Bly egter steeds weg van sterk seep en growwe sponse of waslappe. Vermy dit ook om jou baba met 'n growwe handdoek af te droog en hou aan om sy velletjie ná badtyd te bevogtig.

Brandboudjies

Jou baba se delikate vel is geneig tot brandboudjies of luieruitslag as dit nie genoeg vars lug kry nie, aanhoudend nat is en aan irritante blootgestel word. Volgens die babakenner suster Lilian kan diarree, tandekry en hardnekkige mondsproei ook luieruitslag veroorsaak. Daar is verskeie soorte brandboudjies en die behandeling van elkeen verskil.

Brandboudjies as gevolg van 'n velirritasie. Dit behoort ná drie tot vier dae op te klaar. Wend 'n skermroom of room met sinkoksied aan.

Brandboudjies as gevolg van 'n bakteriese infeksie. As jou baba se boudjies stukkend is en hy effens koors het, kan jy 'n antibakteriese salf aanwend.

Brandboudjies as gevolg van 'n swaminfeksie. Dit word gekenmerk deur klein, rooi kolletjies. Jy behoort 'n swamdoder te gebruik; vra raad by die pediater of apteker. Was jou hande behoorlik ná elke doekruiling omdat dit aansteeklik is. Jy kan brandboudjies in 'n groot mate vermy deur jou pasgeborene se doeke gereeld te ruil. Goeie raad vir brandboudjies is vars lug. Sorg dat jou kleinding vir 10 minute ná 'n doekruiling sonder haar doek speel. Nog raad is om gegeurde vogdoekies met 'n skoon, klam waslap te vervang.

Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

CTA