NUWE BABA | Wagter kry ’n maat

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Met 'n baba in die huis is dit te verstane dat ma en pa nie meer so baie tyd soos voorheen aan Wagter kan wy nie. Wagter is dalk skielik nie meer so welkom binne nie. Dít, saam met die stres van 'n huilende bondeltjie, kan 'n hond se wêreld taamlik omkrap. Sommer gou is daar spanning tussen troeteldier, baba en die res van die gesin.

Jou dier kan skeidingsangs ontwikkel, wat lei tot vernietigende gedrag, 'n oormatige geblaf of getjank en selfs onvanpaste urinering of ontlasting. Sommige honderasse hanteer kinders van nature beter as ander. Terriërs is onder meer bekend daarvoor dat hulle meer sukkel om aan te pas en daarom sal jy ekstra moeite moet doen om hulle daarop voor te berei.

Maak seker jy weet voor die tyd wat jou hond se geaardheid is en hoe hy oor babas voel sodat jy jou benadering daarvolgens kan instel. Troeteldiere is baie sensitief vir omgewingsveranderinge en jy gaan lang- en korttermynbeplanning moet inspan om dit vir almal makliker te maak.

Troeteldiere is baie sensitief vir omgewingsveranderinge en jy gaan lang- en korttermynbeplanning moet inspan om dit vir almal makliker te maak.

DIE KENNISMAKING

  • Hou die tuiskoms persoonlik deur te sorg dat daar nie ander mense buiten die gesin teenwoordig is nie.
  • Pa moet die baba vashou en ma moet die diere eerste groet sodra hulle bedaar het.
  • Laat die diere een vir een toe om die baba te ondersoek.
  • Hou ooropgewonde honde vir eers aan 'n leiband.
  • Dis normaal as 'n hond of kat aan baba se gesig wil lek. Moenie met hulle daaroor raas nie - dis 'n aanduiding van positiewe interaksie en jul baba kan eintlik niks daarvan oorkom nie.
  • As jy die lekkery nie goedkeur nie, kan jy baba se gesiggie saggies wegdraai en die dier se aandag op 'n positiewe manier aflei.

Moet nooit 'n baba alleen by 'n troeteldier los nie.

VROEë DAE

Die belangrikste is dat jy vir jou dier die geleentheid bied om 'n positiewe assosiasie met jou baba te vorm. Gee hom aandag wanneer die baba by is, anders gaan hy enige gebrek aan aandag met die teenwoordigheid van die baba verbind. Beloon jou hond wanneer hy hom goed gedra terwyl hy naby jou baba is. Katte is mal daaroor om styf teen warm voorwerpe (soos 'n babalyfie) op te krul.

As jy nie wil hê sy moet saam met baba slaap nie, kan jy moeite doen om 'n lekker warm en gemaklike, alternatiewe slaapplek vir jou kat in te ruim. Hou 'n watergeweertjie byderhand en spuit haar nat as sy probeer om in die wiegie te klim. Dit sal haar gou van die bababed genees. Soms gaan dit nodig wees om 'n lomp of ooropgewonde hond sekere dele van die huis te verbied of om hom tot 'n sekere gebied te beperk.

Hiervoor kan jy babahekkies gebruik. Maak seker dat hy genoeg speelgoed en 'n gemaklike rusplek het in dié deel van die huis waar hy wel toegelaat word en bring gehaltetyd met hom daar deur. Vir jou eie gemoedsrus en jou baba en troeteldier se veiligheid moet alle interaksie tussen hulle onder jou wakende oog plaasvind. Moet nooit 'n baba alleen by 'n troeteldier los nie.

BEGIN VROEG

'n Troeteldier se eerste indrukke van 'n pasgebore baba kan 'n langdurige uitwerking op die dier se gedrag hê. Dit is dus oor en oor die moeite werd om 'n plan van aksie te hê om die aanpassing vir julle almal makliker te maak. Wees versigtig om nie tydens swangerskap meer aandag as gewoonlik aan jou troeteldiere te gee nie. Jy skep 'n verwagting wat jy nie sal kan volhou nie.

HIER IS RAAD:

1. Begin om drie maande voor die baba se verwagte datum die troeteldiere se roetine stelselmatig aan te pas na dít wat haalbaar sal wees as die nuweling eers daar is. Dit kom neer op minder aandag, maar meer gestruktureerde gehaltetyd saam. Jou hond se daaglikse laatmiddagstappie moet dalk 'n laatoggendstappie word wat julle nou net elke derde dag onderneem. Jou kat gaan moontlik gewoond moet raak aan 'n nuwe slaap- of eetplek.

2. Maak seker dat jy gehaltetyd vir jou diere inruim en sorg dat hulle gestimuleer bly. Sorg vir gereelde positiewe interaksie (speel, stap, kam, drukkies) op die voorwaarde dat jou hond kalm en goedgemanierd is.

3. Neem beheer van jou en jou hond se sosiale interaksie en doen dit op jou voorwaardes. Troeteldiere hoef nie konstant met aandag oorweldig te word nie. Die feit dat sommige diere aanhoudend aandag soek, is 'n aanduiding dat hulle sosiaal onveilig voel en baie angstig is.

Troeteldiere het in die eerste plek 'n natuurlike behoefte aan leierskap van hulle eienaars, selfs meer as vriendskap. Jy moet besluit wanneer en hoe jy aandag gaan gee en jy sal moet leer om jou dier te ignoreer wanneer hy aandag soek (deur te kerm of te miaau of op en af te spring) en slegs aandag te gee wanneer hy nie 'n oorlas is nie.

Wanneer 'n troeteldier gewoond is aan baie aandag en hy word dit skielik ontneem die oomblik wanneer baba sy opwagting maak, gaan die hond die volgende assosiasie maak: Dinge het slegter geword die oomblik toe daardie kind verskyn het; die kind is dus 'n vyand.

4. Bepaal vroeg reeds in watter dele van die huis jy jou troeteldier gaan toelaat of nie en implementeer dit.

5. Begin om babareuke, -klanke en -items bekend te stel. Laat jou troeteldiere aan iets soos die poeier, boudsalf of doeke ruik.

6. Moedig jou vriende met babas aan om te kom kuier sodat jou troeteldiere aan die idee van 'n baba gewoond kan raak.

7. Gooi alle skuldgevoelens oorboord. As jy ferm, maar vriendelike leiding neem met die veranderings in jul sosiale struktuur, sal jou dier gewillig en lojaal volg.

8. Terwyl ma in die hospitaal is, kan pa van die babaklere wat reeds aangetrek is huis toe neem en die hond daaraan laat ruik.

9. Begin met vyf minute opleiding per dag: Leer jou hond (en selfs jou kat!) om te sit vir 'n lekker bederfhappie. Dit help baie as hulle op jou bevel gaan sit, want so kan jy hulle gou onder beheer bring indien nodig en dié reël skep vir hulle 'n ferm struktuur.

Hulle leer om kalm op aandag te wag en dat hulle dit weldra sal kry, sowel as iets lekkers daarby. Dit laat jou dier ontspan en hy het dan nie meer 'n angstige behoefte aan aandag nie.

10. Moenie jou diere net voor baba se tuiskoms dierehotel toe stuur nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA