Ouerskap

Ouerskap: Eilandstyl

Merisa, Uri en Yael Levy in Zanzibar
Merisa, Uri en Yael Levy in Zanzibar

Yael kyk op na my met haar blou ogies en haar gesiggie vol sand- en ek dink onwillekeurig terug na 18 jaar gelede, toe my storie hier begin het. Ek was skaars 20 jaar oud toe ek Zanzibar toe gekom het. Wat veronderstel was om net 'n vakansie te wees, het in 'n liefdesverhaal verander. Ek was egter nie verlief op 'n mens nie, maar op 'n plek … Zanzibar.

Ek het my hart verloor op die natuurskoon, die wit strande, die turkooisblou water, die allermooiste sonsondergange, die mense, die kultuur en die eenvoud en rustigheid van die leefstyl hier.

Ek het huis toe gebel om my ouers te laat weet ek het besluit om hier te bly en kom nie terug nie. Natuurlik was dit 'n groot skok en hulle het voorgestel dat hulle eers kom kuier om die situasie te bekyk voor hulle tot die wilde idee toestem.

Hulle kon nie verstaan hoe ek vrou- alleen op 'n klein eiland langs Afrika wou bly wat destyds skaars die basiese produkte gehad het nie, maar hulle het gesien dat ek uit my nate gelukkig was en het ingestem.

Ek het die eerste paar jaar as 'n duikmeester gewerk. In 2007 is ek Indië toe om joga te bestudeer. Daarna het ek my joga-skool op Zanzibar oopgemaak wat joga-wegbreke en opleiding vir joga-onderwysers aanbied.

In 2015 het ek my man, wat hier met vakansie was, op die strand ontmoet. Aanvanklik was dit 'n langafstand-verhouding en het ons mekaar ontmoet op verskillende eksotiese plekke oor die wêreld heen. Ná twee jaar het Uri besluit om sy lewe van Israel na Zanzibar te verskuif en 'n restaurant hier te begin.

Genadiglik het dit goed gewerk en het hy baie goed hier aangepas en die restaurant is 'n groot sukses! 'n Jaar nadat die restaurant sy deure oopgemaak het, het ons langsaan saam 'n hotel begin.

Ons is langs die Jordaanrivier in Israel getroud met net ons naastes daar. Ongelukkig het die grendelreëls gekeer dat my ouers dit kon bywoon, maar ons het 'n paar maande later spesiaal vir hulle 'n tweede huweliksviering op Zanzibar gehou.

Toe ek swanger word, moes ek vir my mediese ondersoeke na die vasteland en selfs Suid-Afrika reis omdat die mediese stelsel op die eiland nie baie gevorderd is nie. Yael is in Suid-Afrika gebore en ná ses weke is ons terug Zanzibar toe. Haar eerste swemslag in die see was op ses weke.

'n Tipiese dag in ons lewe lyk as volg: Ons staan soggens tussen tien- en elfuur op en geniet 'n rustige ontbyt. Van twaalf tot drie speel Yael in die tuin saam met Jokha terwyl ek joga doen of skilder. Daarna gaan ons strand toe, waar ons Uri by die restaurant ontmoet. Dan is dit swem, op die strand speel, saam met pa op die roeiplank ry en die sonsondergang geniet. Ons keer ná aandete teen agtuur terug huis toe. Dan is dit bad-, speel- en slaaptyd.

Dis 'n groot voorreg om Yael so na aan die natuur te kan grootmaak te midde van die vriendelike en rustige kultuur van Zanzibar. Die uitdrukking " 'n dorp is nodig om 'n kind groot te maak" is hier nie net 'n gesegde nie, maar 'n leefstyl. Almal het tyd om met Yael te speel en haar te vermaak en te laat lag.

Soms ontmoet ons ander mammas en kinders op die strand en swem ons saam in die see, maar hier is ongelukkig nie dagsorg of 'n kleuterskool vir uitlanders nie. Ons organiseer maar ons eie speelgroepies en tot dusver is die natuur ons skool: die see, die strand en die gemeenskap.

Wanneer Yael laerskool toe moet gaan, is daar gelukkig 'n skool op die ooskus 45 minute se ry van ons af wat op die Britse akademiese stelsel geskoei is.

Sy is nou nege maande oud en daar word in vier tale met haar gekommunikeer: Afrikaans, Hebreeus, Swahili en Engels. Ons is nuuskierig om te sien of sy ál vier tale gemaklik sal baasraak.

Ek glo dat 'n lewe na aan die natuur en blootstelling aan verskillende kulture by haar 'n sin van vryheid en waardering vir kulture sal kweek.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM