PASGEBORENE | Bind met jou baba

Getty Images
Getty Images

"Geboortebinding is 'n tiener se enigste vangnet. Dis al wat sy het om haar oordeel, wat nog gevorm word, te rig wanneer dit by verslawing, verleiding en misbruik kom."

Dít was die woorde van Luke Lamprecht, 'n neurowetenskaplike navorser, Johannesburgse kinderregte-aktivis en stigter van die Teddy Bear-kliniek, by 'n skoolpraatjie. En die ouers in die skoolsaal het omtrent regop gesit toe hulle dit hoor.

Wat is binding?

Nes die ouers daardie aand in die skoolsaal, besef baie mense nie aldag hoe belangrik binding is nie. Die begrip is die eerste keer omskryf deur die Britse sielkundige John Bowlby. Volgens hom is dit 'n "blywende sielkundige skakeling tussen twee mense".

Soos Luke was hy ook oortuig dat die band tussen 'n ma (of primêre versorger) en haar pasgeborene 'n geweldige uitwerking regdeur die kind se lewe het. Binding is die natuur se manier om 'n kind naby haar ma te hou en so haar oorlewingskans te verbeter. Dis die proses van ouerbeskikbaarheid en vinnige reaksie op haar behoeftes wat 'n baba veilig laat voel.

Sy leer om haar versorger(s) onvoorwaardelik te vertrou omdat die versorger betroubaar is. Dit gee haar die veilige platform van waar sy die wêreld kan ontdek.

Navorsers meen sterk binding het later 'n beter selfbeeld, meer selfvertroue, groter onafhanklikheid, beter skoolprestasie, suksesvoller verhoudings en minder angs en depressie tot gevolg. Baie navorsers meen binding begin al in die baarmoeder en word by geboorte voortgesit as 'n meer tasbare en interaktiewe proses.

As jy bedags werk en baie besig is, kan jy dit oorweeg om snags naby jou baba te slaap.

Mites oor binding

Bindingskundiges glo binding is die basis van persoonlikheids- en verhoudingsontwikkeling. Die organisasie helpguide.org, wat hulle op persoonlike welstand toespits, deel die volgende mites en feite oor binding.

1.

Mite Daar is 'n band tussen jou en jou baba omdat jy aan haar die lewe geskenk het.

Feit Pasgeborenes het 'n onafhanklike senu- stelsel wat van joune kan verskil. Dit wat jou goed laat voel, laat hulle nie noodwendig goed voel nie. As jy nie leer om jou kind se emosionele tekens raak te sien en te hoor nie, sal jy nie haar individuele behoeftes kan verstaan nie.

2.

Mite Babas kan 'n veilige band met meer as een persoon vorm.

Feit Babas vorm net een veilige band - met die persoon wat hulle die meeste van die tyd versorg. Dis wel so dat 'n baba 'n liefdevolle band kan vorm met almal om haar wat na haar omsien.

3.

Mite Veilige binding is 'n eenrigtingproses waarin ek my baba se tekens moet leer lees.

Feit Veilige binding is 'n tweerigtingproses waarin jou baba leer om jou tekens te verstaan en jy hare.

4.

Mite As jy sukkel om jou baba se tekens te verstaan en nie altyd kan uitwerk wat sy wil hê nie, is die band tussen julle waarskynlik wankelrig en nie sterk genoeg nie.

Feit Dis nie moontlik of selfs nodig om altyd al jou baba se emosionele behoeftes te verstaan nie. Solank jy agterkom dat daar 'n misverstand is en jy probeer dit oplos, sal die band tussen julle sterk bly en selfs versterk - omdat jy gewillig is om te leer verstaan.

5.

Mite Jy bederf jou baba deur altyd na haar behoeftes om te sien.

Feit Die teenoorgestelde is waar. Hoe beter en vinniger jy na jou baba se behoeftes omsien, hoe meer vertroue het sy in jou, wat beteken dat sy minder bederf sal wees namate sy ouer word. Kinders met sterk ouerbande is dikwels meer onafhanklik, nie minder nie.

6.

Mite Veilige binding en liefde is dieselfde ding.

Feit Binding is iets wat instinktief tussen 'n ma en baba gebeur, maar ongelukkig waarborg liefde nie 'n sterk band tussen julle nie. Veilige binding is 'n uitvloeisel van jou vermoë om jou spanning te beheer, aan jou baba se behoeftes te voldoen en jou kind suksesvol te troos.

Gedagte vir die dag

"Om mens te wees is om voor omgegee te word, sodat ons kan omgee. Hoe leer ons hulle vir wie nooit omgegee is nie, om om te gee?" - Luke Lamprecht

Probeer genoeg slaap en maniere vind om spanning to hanteer.

Veilige binding is die fondament van jou kind se vermoë om gesonde verhoudings met ander mense te hê. Eienskappe soos empatie, begrip, liefde en die vermoë om aandag aan ander se behoeftes te gee, word reeds as pasgeborene aangeleer (of nie). Wanneer 'n baba 'n veilige band met haar ma het ...

  • ontwikkel sy later makliker vervullende, intieme verhoudings,
  • behou sy emosionele balans,
  • voel sy goed oor haarself en het sy groter selfvertroue,
  • geniet sy ander se geselskap,
  • herstel sy vinniger van 'n teleurstelling of verlies, en
  • deel sy makliker haar gevoelens en weet sy wanneer om hulp te soek.

Hoe moedig ek binding aan?

1. Sien om na jouself

Babas kommunikeer doeltreffend wanneer hulle wakker en rustig is - jy ook. Dis soms baie moeilik, maar uiters belangrik dat jy as eerste stap om 'n veilige band met jou baba te bou, na jouself omsien. Slaapontneming ontaard in prikkelbaarheid en humeurigheid, wat geen gesonde verhouding kan aanmoedig nie. Probeer om genoeg te slaap. Neem jou kans waar wanneer jou baba slaap. Vra hulp in en om die huis, of stel iemand aan as jy dit kan bekostig. Neem in ag dat dit baie veeleisend kan wees om na 'n pasgeborene om te sien. Probeer om een keer per week vir 'n uur weg te breek en koffie te gaan drink, joga te doen of iets aan te pak wat jou sal help om jou batterye te herlaai sodat jy jou taak met nuwe ywer en energie kan aanpak. Neem gereeld vars lug in deur met jou baba te gaan stap. Dit sal jou spanning verminder en jou baba sus.

2. Leer jou baba se tekens ken en reageer onmiddellik daarop

Ouers met meer as een kind sal jou vertel dat daar geen towerformule is om jou baba te leer verstaan nie. Elke baba is uniek en het 'n eie persoonlikheid en senuweestelsel. Party babas word deur geraas gerusgestel terwyl ander dit ondraaglik vind. Jy gaan moet beproef wat vir jou baba werk en leer waarop sy positief reageer, sodat jy aan haar behoeftes kan voldoen.

3. Eet- en slaaptyd is belangrike bindingsgeleenthede: borsvoed, borsvoed, borsvoed!

Moet nooit die krag van borsvoeding onderskat nie. Nie net bied dit jou kind die beste moontlike voeding nie, dit bied jou ook die geleentheid om haar te koester en haar honger na aanraking en veiligheid te bevredig. Dis 'n geleentheid om met haar te kommunikeer (sy gesels met haar gesiggie en borsvoeding gee jou genoeg tyd om oog-tot-oog-kontak te maak en haar uitdrukkings te leer ken) en selfs haar intellek te stimuleer. As jy 'n besige, werkende ma is, word binding aangehelp as jy snags naby jou baba slaap. Dit verlig ook haar skeidingsangs en maak slaap vir haar ontspannend, lekker en vreesloos, soos dit hoort. Herinner jou net gereeld daaraan dat dit normaal is dat babas in die nag wakker word omdat hulle voeding en aandag nodig het.

4. Praat, lag en speel met jou baba

Lag, aanraking en interaksie wat julle albei geniet is net so belangrik vir jou baba se ontwikkeling soos kos of slaap. Jou liggaamstaal, stemtoon en die liefdevolle manier waarop jy haar vashou, is alles maniere om met jou baba te kommunikeer. Navorsing het gewys dat 'n ma se stem noodsaaklik is om haar baba se brein te aktiveer. Sing of gesels soveel jy kan. Vel-teen-vel-aanraking net ná geboorte maak jou en jou baba rustig en skei goedvoelhormone af wat binding aanhelp. Volgehoue direkte aanraking in jou baba se eerste lewensjaar (met die hulp van iets soos 'n babadrasak) is 'n sensoriese stimulant wat jou baba se breinontwikkeling optimaal bevorder en gedragspatrone van empatie en vredeliewendheid vestig. Sommige babas (veral vroeggeborenes) reageer baie goed op babamasserings.

Jou baba moet weet dat jy altyd daar is vir hom.

Het jy geweet?

Jy kan met jou siek of vroeggebore baba in die hospitaal bind deur so gou moontlik kangaroesorg te begin toepas en deur vir haar te sing en stories te vertel.

En as dit nie voel of daardie band besig is om te vorm nie?

Binding is 'n lewenslange proses van saamgroei en ontwikkel geleidelik namate jy spanning ál beter hanteer en jou kind suksesvol leer troos. Faktore wat onmiddellike binding buite jou bereik kan plaas sluit in aanneming, opname in intensiewe sorg, herstel ná 'n keisersnee, hormoonveranderings en uitputting en pyn ná 'n moeilike bevalling. Gaan dit die band tussen jou en jou baba onherroeplik aantas? Nee. Tydens die geboorte, babastadium, vroeë en latere kindertyd is daar baie geleentheid om 'n onverbreeklike ma-en-kind-band te vorm. Binding vind geleidelik plaas en namate jou selfvertroue toeneem, sal jy jou baba se tekens leer verstaan en jou baba joune.

Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

CTA