Ouerskap

Pasgeborene: Hartedief… tyddief

Getty Images
Getty Images

Jy is skaars klaar met die voeding, winde uitvryf en doekruiling, dan begin alles weer van voor af. Voor jy jou kom kry het jou dag in 100 stukkies versplinter, sukkel jy om enigiets klaar te maak en betrap jy jou dat jy vyfuur die middag nog jou pajamas aanhet omdat jy nooit sover gekom het om te stort en aan te trek nie.

Waar het die dag heen verdwyn?

Babas is regte tydslurpertjies en jy moet dus maar regstaan met 'n arsenaal tydspaar-taktieke om deur jou dag te kom.

Hou dit byderhand

Slim organisasie spaar tyd. Lê jou babakamer so uit dat jy nie heen en weer hoef te skarrel om met bad- of doekruiltyd sy goed bymekaar te kry nie. Jy moet net jou hand kan uitsteek na wat jy nodig het.

As jy wel goed heen en weer moet piekel, bêre dit in 'n maklik draagbare houer wat jy kan optel en saamvat na waar jy dit nodig het.

Oorjas is gepas

Hou 'n spoegdoek byderhand. As jy beplan om uit te gaan, trek 'n los T-hemp oor jou uitgaanklere aan tot jy by die voordeur kom. Dit kan keer dat jy moet skoon aantrek nog voor jy gery het as jou kleinding onverwags op jou skouer oorkook.

Dra haar saam

'n Drasak waarin baba knus teen jou lyf nestel terwyl jou hande los is om takies af te handel, is vir baie ma's 'n redding.

Werk grootmaat

As jy bottelvoed, moet jy genoeg bottels en tiete aanskaf sodat jy dit kan was en steriliseer wanneer dit jóú pas. Kook soggens water vir die dag. Giet die kookwater in 'n termosfles wat dit warm hou terwyl jy nog kookwater in die dag se bottels gooi waar dit kan afkoel. Dan kan jy net die warm kookwater byvoeg as jy die bottels aanmaak sodat dit die perfekte temperatuur vir jou kleinding is. Meet soggens klaar die dag se formulemelk af (of vra manlief om dit saans te doen) sodat jy 'n bottel in 'n kits kan aanmaak.

Lysies help

As poedingbrein inskop of 'n slaapgebrek jou van helder denke beroof, kan jy kosbare minute vermors terwyl jy probeer dink wat om te pak of te doen.

Lysies help daarmee. Plak byvoorbeeld 'n lysie op met die standaarddinge wat in baba se doeksak moet kom - dit sorg dat jou maat ook die doeksak kan pak sonder dat iets agterbly.

Ruilstasies oral

In 'n groot of dubbelverdieping-huis kan dit help om verskeie volledig toegeruste doekruilstasies in verskillende vertrekke te hê, veral daar waar julle die meeste tyd deurbring.

Aanlyn-inkopies

Inkopies met baba is tydrowend en uitputtend. Doen jou inkopies aanlyn en laat dit aflewer.

Beperk internet-tyd

As jy alleen tuis is met net jou baba, is aanlynkontak met die buitewêreld dikwels 'n redding - maar stel 'n kookwekker as jy begin Facebook om te keer dat jy daar vashaak!

Kombuisraad

Kook dubbelhoeveelhede en vries die ekstra porsies. Eenskottel-geregte is vinniger en veroorsaak minder skottelgoed. Enige gevriesde gereg wat jy net in die oond hoef te druk, is nou 'n belegging. Jy kan ook in 'n prutpot belê.

As jy nie tyd vir skottelgoed was het nie, kan jy 'n skotteltjie seepwater onder jou wasbak of in jou oond plaas en die vuil skottelgoed in die loop van die dag daarin pak. Dan lyk jou kombuis netjies en saans was jy dit makliker.

Mandjies oral

Sodra jou kleinding begin kruip, kan speelgoed die huis vol lê. Plaas in elke vertrek 'n speelgoedmandjie of oorgetrekte kartonboks waarin jy die speelgoed kan pak as julle klaar gespeel het.

Delegeer

Moenie vir manlief vra om iets vir baba te doen en dan heeltyd oor sy skouer loer nie. Gebruik hierdie tyd nuttig elders.

Praktiese kleertjies

Sommige babaklere is pragtig, maar tydrowend om aan te trek. Los dit vir spesiale dae en trek klere aan wat jou toelaat om haar doek in 'n kits te ruil.

Wees aanpasbaar

Pas aan by jou baba. Dis tydmors om te probeer kos maak as sy knieserig is. Gee eers aandag aan haar - jy kan later kos maak wanneer sy rustiger is. Rus wanneer jou baba rus. Dit gee jou woema om later vinniger te werk.

Sak en pak

Met 'n baba kan jy nie net gou in die motor spring en ry nie - dit verg fyn beplanning en tydsberekening om by sy skedule in te pas. Sorg dus dat jou babasak altyd klaar gepak en gereed by die voordeur staan sodat jy dit net kan gryp as jy moet ry.

Hou 'n ekstra stel benodigdhede (boudjieroom, fopspeen, vogdoekies) daarin. Sommige ma's hou 'n ekstra doeksak met noodsaaklikhede permanent in die motor of het twee doeksakke wat hulle afwissel sodat een altyd gereed staan.

Maak seker dat jy 'n ekstra stel klere en 'n ekstra kombersie vir baba inpak sodat jy nie moet terugkeer huis toe as hy skielik 'n uitloopdoek het nie.

Kry 'n borsvoedstasie

Aan die begin kan dit voel of jy permanent besig is om jou baba te voed. Dis wonderlike bindingstyd, maar ook 'n goeie tyd om te rus, e-posse te lees of telefoonoproepe te maak. Rig 'n gemaklike borsvoedingstasie in met iets te drinke, asook tydskrifte, jou tabletrekenaar, jou selfoon en die televisie-afstandbeheerder.

Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM