RAAD | Baba draai snags op maag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

VRAAG: My baba van drie maande draai op haar maag as sy slaap. Ek is bekommerd daaroor, want ek is bewus van die gevare wat dit inhou. Ek is net bang ek maak haar wakker as ek haar op haar rug draai. Ek draai haar styf toe, maar sy wikkel los en draai in haar slaap om. Wat moet ek doen?

PETRO THAMM ANTWOORD:

Die gemiddelde baba sal tussen twee en vyf maande oud van hul maag na hul rug rol, tussen vier en vyf en 'n half maande van hul rug na hul sy, en tussen vyf en 'n half en sewe en 'n half maande van hul rug na hul maag. Die wonderlike ding is dat hulle hierdie vaardighede nie net oefen terwyl hulle wakker is nie, maar ook terwyl hulle slaap! Die probleem is egter dat hulle dan in hierdie posisie kan vashaak.

Baie keer sal die rolbeweging ook veroorsaak dat jou baba wakker word. Dit word aanbeveel dat babas nie meer styf toegedraai word wanneer hulle begin rol nie. Dit is juis omdat dit hulle verhinder om terug te rol. Dis normaal dat hulle 'n ontwikkelingsfase deurmaak waar hulle na een kant toe kan rol, maar nie na 'n ander kant toe nie. Baie babas sal wakker word omdat hulle ongemaklik is.

Die raad hier is om jou baba nie te steur nie, mits jy die veiligheidsmaatreëls toepas wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie aanbeveel word, soos om nie komberse en kotbuffers te gebruik nie.

Moedig jou kleinding ook aan om die omrol te bemeester deur dit gedurende haar wakker tyd te oefen. Omrol is 'n groot motoriese mylpaal en het later 'n invloed op skryf. Help haar die vaardigheid leer deur haar neer te sit en op te tel en terselfdertyd jou baba se gewig in 'n rollende beweging na albei kante toe te draai. Maak ook seker sy bring baie tyd op haar maag deur en laat haar ook speel wanneer sy op haar sy lê en nie net op haar rug nie.

Partykeer is dit selfs genoeg om jou baba elke keer terug te rol wanneer sy op haar maag draai. Die goeie nuus is dat die meeste kenners saamstem dat wanneer jou baba rol bemeester het, dit nie meer vir hulle onveilig is om in daardie posisie te slaap nie (mits jy die veiligheidsmaatreëls tref wat nodig is). Oor die algemeen sal jou kleinding ook binne twee tot drie weke leer om terug te rol. Vasbyt!

Petro Thamm, Slaapkonsultant

SPELETJIES VANDAG

CTA