Ouerskap

RAAD | Is dit ’n steurnis?

Getty Images
Getty Images

VRAAG:My baba van 18 maande kan op niks vir langer as 30 sekondes fokus nie. Sy maats kan beslis al 'n bietjie langer met 'n speelding speel of na 'n boekie kyk. Hy is ook nogal aggressief en klap maklik na goed al is hy net effens gefrustreerd. Kan dit 'n vroeë teken van aandaggebrek of outisme wees?

DR. MARETHA COMBRINK ANTWOORD: 'n Kleuter behoort teen 18 maande oud onafhanklik te kan loop en minstens 20 woorde te kan sê. Hulle begin ook die gebruik van algemene voorwerpe verstaan (soos 'n lepel of tandeborsel) en begin voorwerpe uitwys. Spelpatrone op hierdie ouderdom sluit verbeeldingspel en na-apery in. Gevaartekens op dié ouderdom:

  • Hulle kan nie loop nie.
  • Hulle gebruik min of geen woorde nie.
  • Hulle voer nie opdragte uit nie.
  • Hulle maak nie oogkontak nie.
  • Hulle wys nie emosie nie.
  • Hulle skram weg van fisieke toenadering.

Sowat 5 persent van skoolgaande kinders in Suid-Afrika ly aan aandaggebreksteurnis met of sonder hiperaktiwiteit. Aandaggebrek-simptome kan selfs so vroeg as vier jaar oud al voorkom.

Kinders sukkel om aandag te behou tydens aktiwiteite, vermy take wat intellektuele inspanning verg, hul aandag word maklik afgetrek, hulle volg nie aanwysings nie, maak nalatige foute en is vergeetagtig en ongeorganiseerd.

Aandaggebrek kan ook in kombinasie met hiperaktiwiteit en/of impulsiwiteit voorkom. Die diagnose word bevestig as die simptome voor sewe jaar oud teenwoordig is, langer as ses maande duur en op twee of meer plekke voorkom (soos tuis en by die skool).

Volgens die Amerikaanse Centers for Disease Control and Prevention is sowat 1 uit 44 kinders in die Verenigde State op die outisme-spektrum. In Afrika suid van die Sahara het ontwikkelingsprobleme by kinders, outisme inkluis, sedert 1990 met 70 persent toegeneem. Kinders op die outisme-spektrum wys gewoonlik reeds tussen 15 en 30 maande oud tekens van abnormale sosiale interaksie.

Spraak- en taalafwykings, selfstimulasie en ritualistiese gedrag is 'n integrale deel van die diagnose van outisme.

Verskeie toestande kan simptome van aandaggebrek en outisme naboots. Dit sluit in 'n ontwikkelingsagterstand, leerprobleme, angstigheid, depressie en gedragsversteurings.

Sensoriese integrasie maak 'n groot deel van kinderontwikkeling uit en enige kommerwekkende tekens behoort deeglik deur 'n arbeidsterapeut geëvalueer te word.

Dr. Maretha Combrink, Pediater

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM