Koolblare help vir geswelde of vergrote borste.
Waar Navorsing het gewys dat koue koolblare vir stuwing in die borste help, sê suster Inamarie Greyson van Johannesburg. "Swael in die aminosure van die koolblare dien as 'n anti-inflammatoriese middel vir seer en geswelde borste."
Sny altyd 'n gaatjie in die middel van die blaar vir jou tepel, dan bly jou tepel mooi droog, is haar raad.
"Plaas die koue blare oor die borste en dra 'n goeie, ondersteunende bra. Sodra die blare warm en pap word, kan jy nuwes oppak."
Jy kan die koolblaarbehandeling staak sodra jou borste beter voel omdat langdurige behandeling melkvoorraad kan beperk.
"As die koolreuk te erg is, kan jy 'n koue jelpakkie beproef. 'n Mens kan dit by die meeste apteke en babawinkels koop," sê Inamarie.
Ek kan nie my vroeggebore baba borsvoed nie.
Mite Borsmelk is uiters belangrik vir vroeggebore babas omdat dit die ernstige infeksie nekrotiserende enterokolitis help voorkom.
"Borsmelk word makliker verteer en vroeggebore babas kan dus vinniger groter volumes borsmelk hanteer," sê dieetkundige Zelda Ackerman. "Babas se suig-sluk-refleks is reeds teen 34 weke ontwikkel en die meeste babas kan dus van 34 weke af borsvoed."
Mediese versorging kan dit soms moeilik maak om jou baba te borsvoed omdat hy aan allerhande buisies en apparate gekoppel is. In so 'n geval kan borsmelk deur 'n neusbuisie toegedien word, sê Zelda.
Kangaroemoedersorg wat in sommige hospitale toegepas word, maak borsvoeding ook makliker.
Byvoedings en formulemelk sal my baba laat deurslaap.
Mite "Borsmelkvervangers word moeiliker as borsmelk verteer omdat die samestelling verskil en dit ook nie die ensieme bevat wat vertering aanhelp nie," sê Zelda. Borsmelkvervangers bly dus langer in 'n baba se maag, wat tye tussen voedings kan verleng.
Borsmelkvervangers is egter ook meer geneig om, wanneer dit is die dunderm en dikderm kom, krampe en hardlywigheid te veroorsaak. Dit lyk dus aanvanklik of jou baba langer slaap, maar die uitwerking van die vervangers kan 'n paar uur later nog meer slaapversteurings veroorsaak.
Gee jou baba vaste kos om hom te laat deurslaap.
Mite Babas wat voor vier maande begin vaste kos eet, slaap selfs vir korter rukke. Wanneer vaste kos voor ses maande ingesluit word, kan dit maagpyn, krampe of ongemak veroorsaak wat slaap versteur.
Babas wat ouer as twee tot drie maande is, word selde in die nag wakker omdat hulle honger is. Hulle word meestal wakker omdat hulle alleen is, ongemak ervaar of gesteur word. As hierdie onderbrekings vermy word, kan hulle vinnig leer om ses tot agt uur op 'n slag te slaap. Deurslaap is 'n ontwikkelingsmylpaal of vaardigheid wat babas moet aanleer.
Melkproduksie werk volgens 'n vraag-en-aanbod-stelsel. Hoe meer jou baba drink, hoe meer melk is daar. Jy kan albei borste per voeding gebruik.
Vet babas is gesonde babas.
Mite ál meer studies wys dat 'n baba wat in die eerste twee jaar te vinnig gewig aansit, 'n groter gevaar loop om in later kinder- of vroeë volwasse jare oorgewig te wees, sê Zelda.
Daarby kan 'n oorgewig baba maklik 'n oorgewig kleuter word en een uit drie oorgewig kleuters sal ook oorgewig volwassenes word. "Oorgewig word verbind met talle ernstige gesondheidsprobleme.
Oorgewig kinders word van jongs af gespot deur maats, wat die oorsaak kan wees van sosiale uitsluiting, 'n swak selfbeeld en depressie," waarsku Zelda.
Tandekry kan 'n baie hoë koors veroorsaak.
Waar Die koors duur egter net tussen 24 en 48 uur, sê die Kaapstadse pediater dr. Hanneke Heyns. "Dikwels het 'n kind eintlik koors weens 'n infeksie, maar dan dink ma's dis tandekry."
Ma's wie se melk te flou en min is, kan nie borsvoed nie.
Mite Die meeste ma's kan genoeg melk vir hul baba te maak, mits hulle hul baba gereeld voed, sê Inamarie. Die meeste babas voed in die eerste weke agt tot 10 keer binne 24 uur. "Melkproduksie werk volgens 'n vraag-en-aanbod-stelsel. Hoe meer jou baba drink, hoe meer melk is daar."
Jy kan albei borste per voeding gebruik. Inamarie sê goeie riglyne wat in die begindae sal help aandui of jy genoeg melk het, is vier tot ses nat doeke binne 24 uur, twee tot vyf stoelgange binne 24 uur (dit word ná 'n paar weke heelwat minder); dat baba binne twee weke sy geboortegewig ingehaal het; goeie gewigstoename van 110 tot 250 gram per week, en 'n babatjie wat ná 'n voeding tevrede is.
Minder as 5 persent van vroue kan glad nie borsvoed nie, sê Inamarie.
Borsvoedende vroue mag nie uie of kool eet nie omdat dit hul babas winderig maak.
Mite Uie en kool word wel as gasvormende kos beskou, sê Zelda. Die gas word gevorm deur goeie bakterieë in die dermkanaal wat op vesel inwerk. Nie hierdie gas of die vesel kan egter opgeneem word nie en daarom kan dit ook nie in die borsmelk beland nie. Gasvormende kosse kan net vir 'n ma ongemak veroorsaak.
Die geur van uie en kool, asook ander kosse soos knoffel en broccoli, kan wel in de borsmelk opgeneem word. As jy groot hoeveelhede daarvan eet, kan dit gebeur dat jou baba nie van die sterk gegeurde borsmelk hou nie. As jy dit gereeld in klein hoeveelhede eet, help dit egter dat jou baba hierdie kossoorte makliker aanvaar wanneer hy die dag begin eet omdat hy reeds aan die geur gewoond is.
Eet gerus enige gesonde kos terwyl jy borsvoed, sê Inamarie - hou net matigheid voor oë. Hou ook jou baba dop.
"As jy agterkom jou kleinding is kriewelrig nadat jy 'n oormaat van 'n sekere kossoort geëet het, kan jy voortaan minder van daardie kos eet. Wees veral versigtig met te veel kafeïendrankies soos koffie en Coke, want dit kan jou baba inderdaad knieserig laat voel."
Die huis moet doodstil wees wanneer baba slaap. Jy durf nie stofsuig nie.
Mite Babas slaap trouens dikwels beter as daar witgeraas (soos die geluid van 'n stofsuier of haardroër) in die agtergrond is, sê Hanneke.
"Die normale daggeluide moet gedurende die dag voortduur, terwyl dit in die nag stil moet wees sodat jou baba die verskil tussen dag en nag kan leer."
Moenie 'n baba met 'n hoë koors bad nie.
Mite 'n Louwarm bad help dikwels om die koors te laat daal, is Hanneke se raad. "Moenie jou kind in 'n yskoue bad sit nie; dit sal 'n drastiese verandering in temperatuur meebring wat stuiptrekkings tot gevolg kan hê. 'n Koue bad sal ook veroorsaak dat al die bloedvate in die vel toetrek, wat veroorsaak dat daar nie goeie gaswisseling tussen die bloed, ledemate en vel is nie."
Babas wat duimsuig, se tande gaan eendag uitstaan.
Mite Studies het gewys dat mits 'n kind ophou duimsuig voor hy of sy permanente tande kry, dit geen uitwerking het nie, sê Hanneke. "As jou kind steeds duimsuig nadat die permanente tande uitgekom het, kan dit probleme met die vorming van tande veroorsaak."
Dis moontlik om 'n ouer baba of peuter saam met jou pasgeborene te borsvoed.
Waar "As jy swanger raak terwyl by borsvoed kan jy steeds borsvoed - dit hou geen gevaar in nie," sê Inamarie. Jou melk sal wel minder word en dit is dikwels dan dat jou ouer baba hom self speen. Wanneer jy albei jou babas gelyk borsvoed, word dit tandemvoeding genoem. Dit is harde werk en dit is belangrik dat jou nuwe baba altyd eerste drink. Kry genoeg rus en drink en eet gesond - jy voorsien kilojoules en voeding vir die drie van julle.
Kenners
- Zelda Ackerman, dieetkundige by Family First Nutrition
- Suster Inamarie Greyson Mother and Baby Clinic Group, Johannesburg, Gauteng
- Dr. Hanneke Heyns pediater, Kaapstad, Wes-Kaap















