Ouerskap

RAAD | Los die lepel

Getty Images
Getty Images

Begin met pampoen. Bly weg van botteltjies kos. Koop 'n stok- menger. Jy moet koes as sy spoeg ...

Al die nalees oor babakos en ore spits wanneer ander ma's praat, het jou dalk al laat wonder of jy die gedoente sal kan baasraak en of dit nie net makliker is om eet aan jou baba oor te laat nie.

Jy is nie die eerste een nie.

'n Tendens wat genoem word babageleide spening het 'n klompie jare gelede posgevat en wêreldwyd is daar heelwat ma's wat dit volg.

Maar voor jy vir jou ses maande oue baba wortelstokkies en broodvingers in die hand stop, moet ons hierdie benadering, en ook jou baba se vermoëns en behoeftes, van nader bekyk.

Babageleide spening

Stel jou voor jou ses maande oue baba sit aan tafel by die res van die gesin met 'n pampoenstokkie, stuk vleis en 'n broccoli-boompie in die hand. Dít is babageleide spening.

Hierdie begrip behels dat babas van hul heel eerste happie af self eet.

Ter voorbereiding moet hulle verkieslik van geboorte af eksklusief geborsvoed word tot hulle op ses maande begin eet. Borsvoeding berei hulle voor deur hulle te leer om self in beheer te wees van hoeveel hulle inneem en stel hulle ook aan verskillende kosgeure bloot.

Babas wat borsmelkvervangers drink - of borsmelk sowel as borsmelkvervangers - kan egter ook op hierdie manier leer eet.

Stukkies sagte, vars kos wat in vingers gesny word, word net so op die skinkbord van 'n babaeetstoel gepak en baba kies wat, hoeveel en hoe vinnig (of stadig) sy wil eet. Daar's geen spesiale puree, geen bakkie of lepel, geen gevoer deur 'n grootmens nie. Waar moontlik word dieselfde kos vir baba gegee as wat die res van die gesin eet, solank dit nie sout bevat nie. Baba eet ook saam met die res van die gesin. So leer sy self eet terwyl sy aanhou borsvoed tot sy self besluit om nie meer haar ma se melk te drink nie.

Wat het baba nodig?

Daar is 'n paar redes waarom jou baba teen omtrent ses maande oud vaste kos moet kry. Eerstens is daar sekere voedingstowwe waarvan borsmelk alleen nie genoeg kan verskaf nie. Dit is baie belangrik dat sy veral ekstra yster inkry, asook energie, proteïen, sink en vitamiene A en D.

Ten tweede is dit belangrik dat sy leer om vaste kos te eet sodat sy eersdaags dieselfde kos as haar ma en pa kan eet.

Leer eet lê ook die fondament vir latere eetgewoontes wat haar gesondheid vir die res van haar lewe sal beïnvloed.

Wanneer ons babas leer eet, moet ons dus seker maak dat hierdie doelwitte bereik word.

Reagerende voeding

Reagerende voeding beteken dat jy op jou baba se boodskappe reageer. Dit sorg vir 'n aangename atmosfeer tydens die maaltyd. Almal maak oogkontak en gesels terwyl hulle eet - baba ook. Die fokus is op die maaltyd en goed wat die aandag kan aftrek, word verwyder.

Wanneer jy leer om te let op jou baba se honger- en versadigingsboodskappe, raak jy in die algemeen ook fyner op haar ingestel sodat jy onmiddellik kan reageer as sy jou nodig het.

Voer jou baba stadig, wees geduldig, moedig haar aan om te eet, maar moet haar nooit dwing nie. Gee kos wat gepas is vir haar ontwikkelingsfase.

Sal dit vir julle werk?

Vir ma's wat baie erg daaroor is om presies te weet hoeveel hul baba eet en drink, is babageleide spening nie ideaal nie. Tussen die kos op die vloer en dié op die eetstoel is dit omtrent 'n raaisel hoeveel gesluk is.

Alle babas is ook nie teen ses maande gereed om self te eet nie en omdat dit sleg vir jou baba is om tot ná ses maande te wag om vaste kos te eet, is babageleide spening vir hulle ook nie 'n goeie idee nie.

Babas wat 'n bietjie stadiger ontwikkel, moet liefs op die gewone manier leer eet en 'n maand of wat later kan vingerkos bykom.

As jou baba in haar eerste lewensjaar in 'n babasorgsentrum is, sal sy ook nie op hierdie manier kan leer eet nie omdat die versorgers daar nie so 'n morsige benadering sal volg nie.

As jy jou baba tot op ses maande eksklusief gaan borsvoed en haar vir minstens die eerste jaar van haar lewe self gaan versorg, kan jy babageleide spening beproef. As jy 'n bietjie ekstra geduld het om te kyk hoe jou baba stadig self leer eet, kan dit vir julle werk.

Jy moet ook nie bang wees vir 'n groot gemors met elke ete nie. Onthou dat jou baba ook self moet eet as jy by 'n restaurant is of by vriende kuier.

Dis ook belangrik dat jy weet dat jy, en enigiemand wat na jou baba omsien, kalm kan bly en presies weet wat om te doen as jou baba dalk verstik.

HET JY GEWEET?

As jy kos maklik tussen jou duim en wysvinger plat kan druk, is dit sag genoeg om vingerkos vir 'n baba te wees.

TIPIESE KOSSE OP 6-7 MAANDE

Piesang Baba hou die piesang onder aan die skil vas en die boonste deel word afgeskil.

Broccoli Stoom dit tot sag en gee 'n boompie wat groot genoeg is dat 'n deel uitsteek as dit vasgehou word.

Pasta Saggekookte groot pastastukke soos skroefnoedels, penne of repies lasagnevel.

Beesvleis Saggekookte stukkies of repies vleis, groot genoeg dat baba dit kan vashou en daar nog uitsteek.

Probeer is die beste geweer

As jy die babageleide benadering wil beproef, is daar 'n paar dinge wat jy in gedagte moet hou. Die meeste beginsels van babageleide spening is goed, maar ons kan nie blind wees vir die moontlike nadele en gevare nie.

Met 'n paar klein aanpassings aan die oorspronklike manier kan jy jou baba self leer eet terwyl sy ook al die voedingstowwe inkry wat sy nodig het om haar vinnige groei te ondersteun.

Eerstens is dit belangrik om seker te maak dat jou baba aan al die vereistes voldoen om self te kan eet.

Laat sy leer eet deur sagte vingerkos saam met die res van die gesin te gee, maar sluit ook lepeltjies kos in. Ysterverrykte babapap en vleispuree is twee kosse wat jy liefs vir haar met 'n lepeltjie moet voer, en later kan sy dit self met die lepel probeer eet.

So sal jy seker maak dat sy genoeg yster inkry.

Jou baba behoort ook te leer om met eetgerei te eet, aangesien sy nie vir altyd met haar hande kan eet nie. Dit is dus belangrik dat sy van die begin af vingerkos én lepeltjiekos leer eet.

Voer aanvanklik lepeltjies kos, maar gee haar ook van omtrent sewe maande af 'n lepel waarmee sy self kan probeer eet.

As sy van die begin af lepeltjiekos kry, sal sy ook makliker sluk as jy moet help wanneer sy siek of baie moeg is en nie die krag het om self te eet nie.

Bly weg van harde happies soos rou appel, rou wortel en neute - dit kan verstikking veroorsaak.

As jy agterkom dat jou baba glad nie self goed kan eet nie, sal jy meer soorte kos moet voer om voedingstekorte en swak groei te voorkom, veral in die eerste drie maande nadat sy begin eet het.

Maak seker jy hou steeds by die beginsels van reagerende voeding wanneer jy haar voer.

Min navorsing is nog gedoen oor babageleide spening en dis onseker of babas al die voedingstowwe inkry wat hulle nodig het.

Hou ook baba se groei fyn dop en laat haar ysterstatus deur 'n dieetkundige monitor as jy besluit om die beginsels van babageleide spening streng te volg.

BABAGELEIDE SPENING

Voorvereistes

  • Jou baba moet sonder hulp in haar eetstoeltjie kan sit.
  • Sy moet na kos kan reik en dit kan optel.
  • Sy moet die fisieke stamina hê om self genoeg te kan eet.
  • Sy moet genoeg in kos belangstel sodat sy genoeg eet.
  • Jou baba moet in staat wees om stukkies kos te eet, dus om sagte kos in stukkies te breek en na agter in die mond te beweeg om te sluk.

Nadele

  • Dit duur langer voor baba genoeg kos ingekry het.
  • Haar ontwikkeling moet taamlik gevorderd wees.
  • Sy kry nie ysterverrykte babapap in nie, en dit is 'n belangrike voedingsbron.
  • Jou baba kan maklik 'n ystertekort opdoen, wat breinfunksie belemmer.
  • Dis 'n groot gemors.
  • Baie kos word gemors.
  • Geen puree of lepeltjies kos mag gegee word nie.
  • Daar is 'n groter kans dat baba kan verstik; babas stik veral maklik aan rou appel.
  • Dit werk nie as jou baba siek of baie moeg is nie.

Voordele

  • Jou baba begin eers op ses maande eet; dis die ouderdom wat aanbeveel word deur die Wêreldgesondheidsorganisasie.
  • Jou baba word nie gedwing om te eet nie en daar is dus minder struwelinge tydens maaltye.
  • Jou baba word nie aangejaag omdat mamma te vinnig voer nie.
  • Sy besluit wat sy wil eet uit dit wat aangebied word, en hoeveel.
  • Sy leer vinniger kosse met verskillende teksture eet.
  • Sy eet van die begin af saam met die gesin.

WENK

Kombineer gerus babageleide en tradisionele voeding om seker te maak jou baba kry alles in wat sy nodig het.

Zelda Ackerman, Geregistreerde Dieetkundige

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM