VRAAG: Tydens my keisersnee het ek 'n pyn in my nek en skouer gekry. My ginekoloog het gesien ek het seer en gesê dit is lug wat opskuif. Ek het 'n paar dae ná die prosedure nog steeds 'n steekpyn in my nek en skouer gehad. Wat veroorsaak dit?
DR. JP DU BUISSON ANTWOORD:
Die pyn wat jy beskryf het, ontstaan weens irritasie van jou diafragma (mantelvlies), en die sondaar is waarskynlik eerder bloed as lug. Bloed word uiteraard in die buik gemors terwyl die keisersnee plaasvind.
Interessant genoeg word party vroue meer as ander aangetas. Dis wat ons 'n verwysde pyn noem, en mantelvlies-irritasie verwys gewoonlik na die regterskouer. Ons sien ook hierdie verwysde pyn by pasiënte wat 'n laparoskopie ondergaan het. In so 'n geval ontstaan dit weens die gas waarmee die dokter die buik "opblaas".
Pasiënte met 'n bloeiende ektopiese swangerskap voel ook soms pyn van die regterskouer, weer eens weens die bloed in die buik.
Jou nekpyn kan ook deel van dieselfde verwysde pyn uitmaak. Soms sien ek egter ná die geboorte nekpyn sonder die meegaande skouerpyn. Dit ontstaan weens spierspanning omdat die nuwe ma nie haar skouers laat ontspan terwyl sy borsvoed nie.
Onthou, dit is belangrik om jou baba gemaklik op jou te laat lê tydens die voeding sodat jou skouers ontspanne kan wees


















