Ouerskap

RAAD | Wonder oor keisersnitwond

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

VRAAG: Ek is 32 weke swanger en gaan een van die dae 'n keisersnee kry. Ek hoor daar is verskeie maniere om die wond toe te maak: met steke, krammetjies of gom. Wat is die voor- en nadele van elkeen? Kan ek my ginekoloog vir 'n spesifieke een vra?

DR. DU BUISSON ANTWOORD: Onthou net om tot ná 39 weke van swangerskap te wag voor jou keisersnee - dit hou soveel voordele vir jou baba in dat 'n mens dit liewer net vroeër moet laat doen as daar 'n mediese rede voor is.

Jy praat natuurlik van die verskillende maniere om die vel ná die operasie te heg. Al die dieper lae van 'n keisersneewond word met steke geheg.

Die beginsel van velwondhegting is om die rande van die sny so netjies moontlik by mekaar uit te bring. Dit kan gedoen word met al die opsies wat jy noem, mits dit met omsigtigheid uitgevoer word. Die meeste ginekoloë kies steke om die velwonde te heg, en verreweg die meeste plaas oplosbare steke onder die vel. Dit los dan later self op, heg netjies en hoef nie agterna verwyder te word nie. Jy en jou nuwe baba hoef dus nie nog 'n reis dokter toe aan te pak nie.

Daar is een of twee uitsonderlike gevalle waar 'n nie-oplosbare steek ingespan moet word, maar meestal hoort nie-oplosbare steke in die museum.

Wanneer krammetjies gebruik word, is dit meestal staalkrammetjies wat 10 dae ná die chirurgie verwyder moet word. Dis ook meer ongemaklik.

Krammetjies sorg wel vir netjiese hegting en help die dokter om die hegting vinniger te doen, veral as hy sy pad deur 'n hele paar keisersneë op sy lys moet werk. Dit gee egter na my mening nie die "mooiste" wonde nie.

'n Mens kry ook 'n oplosbare krammetjie wat onder die vel ingeplaas word. Dit het na my mening egter 'n baie harde wond tot gevolg wat lank ná die keisersnee nog daar is en waarvan baie pasiënte nie hou nie. Dié krammetjie is ook taamlik duur en die dokter het taamlike ervaring nodig. Wondgom is nog 'n opsie om die velwond te heg. Die sny behoort nie eintlik langer as 10 cm te wees nie, anders moet steke ook bykomend onder die vel ingeplaas word.

Dit verskaf ook netjiese hegting en skilfer mettertyd af sodat dit ook nie verwyder hoef te word nie. Dit het ook nie 'n wondverband nodig nie, hoewel baie dokters tog maar 'n verband opsit.

Die gom moet egter 100 persent droog wees voor jy verskuif mag word en daardie drie of vier minute is soms net te lank.

Ek dink jou ginekoloog het deur die jare hul wondhegting verfyn sodat hulle een sal kies wat vir jou die beste uitkoms gee én wat jou die beste pas.

Bespreek gerus jou voorkeur, maar ek sal jou aanmoedig om die finale besluit oor die hegtingsmetode aan die dokter oor te laat. So sal jy ook seker maak dat hulle die prosedure kies waarmee hulle die beste vertroud is.

Dr. JP du Buisson, Ginekoloog & Verloskundige

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM