Ek is uit die aard van die saak op heelwat Facebookgroepies wat hulle met ouerskap bemoei. Net nou die dag vra ‘n moedelose ma op een van die groepies hoe ‘n mens jou kinders in die winter vroeg genoeg uit die bed kan kry. Dis immers donker en koud en niemand is lus vir opstaan nie, maar almal kan ook nie altyd laat wees vir skool en werk nie.
Die kommentare het in twee kampe geval; ek noem hulle sommer die hard en die sag.
Die hard het ‘n kombinasie van aksies aanbeveel wat insluit dat jy die duvet afruk en met ‘n waterpistool lostrek terwyl jy heavy metal blaas en ‘n bulderende alarm in die verste hoek van die kamer stel. Ek skat dit was so ‘n kwart van die antwoorde.
Die sag het ingesluit dat jy met met tee, koffie of warm sjokolade in die kamer insluip. Heelwat ma's het ook gesê dat hulle die kind se skoolklere dan oor die verwarmer hang of met die haardroër blaas sodat liefkind sommer in die bed kan aantrek en warm bly. Een ma gee haar kinders ook ‘n warm waslap in die bed. Ander dra ontbyt aan.
Nog ‘n paar sweer weer by ‘n soort wekker wat ‘n sonsopkoms simuleer en voëlgeluide speel oor ‘n lang tydperk sodat jy geleidelik wakker word. (Ek wil hierdie een nog google, want dit klink aangenaam.)
Dié opsies werk natuurlik net as die Duiwels van die Duisternis (ook bekend as Eskom) dit toelaat.
Ander sagter opsies wat nie op krag staatmaak nie, is om die troeteldiere op die bed te gooi. ‘n Spelerige hond of kat sal jou kind gou en giggelend wakker kry.
Ek oordeel nie sommer ander ouers nie, en gaan dus nie Kamp Hard of Kamp Sag sleg praat nie.
Die beste wenke bly vir my dié wat iewers tussen die twee val: Kry álles wat jy kan die vorige aand al reg en kry jouself heeltemal reg om te gaan vóór die kinders moet opstaan. Dan kan jy heeltemal op hulle fokus en word dit regtig moontlik om in ‘n rustige halfuur alles klaar te kry, saam te eet en betyds te wees.
Nog ‘n goue reël is om skerms in die oggend te verbied. ‘n Televisie wat blêr of ‘n kind of ouer (ja, pa!) wat oor ‘n selfoon kwyl, slurp tyd op soos niks! Met hierdie een help die Duiwels van die Duisternis gelukkig. (Alles het ‘n blink randjie!)
Nou toe, duidelik voel ek vanoggend nogal selfvoldaan dat my mense betyds en rustig die huis verlaat het, almal skoon en gevoed, en ek drink al my tweede koffie in vrede.
Hoe gaan dit soggens by jou huis? Laat weet! Ons hoor baie graag van ons lesers.
Groete, Helen








