SKOOLGEREED | Bly te kenne ABC

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Jou kleinding leer die heel beste deur te voel en te vat, te hoor en te sien, en selfs te proe - en dit geld ook wanneer dit by die alfabet kom. "Leer op hierdie ouderdom behoort altyd pret te wees," sê Mariska Grebe, 'n remediërende onderwyseres van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap. "As kinders leer sonder dat hulle dit weet, onthou hulle die beste."

Prentjies, rympies, liedjies en prettige handwerk is alles slim maniere om jou kleinding aan letters bloot te stel, sê sy. "As jy byvoorbeeld ‘b vir beer' doen, gee hom 'n beertjie om vas te hou. Dink oor watter geleenthede vir toevallige leer jy kan skep, soos om ‘p vir peer' te behandel as jou kleinding 'n peer eet. Pak groot letters met klei of sand, rys of skuurpapier of skeur papiertjies en plak dit op die letters. Dit gee nie net fyn motoriese vaardighede oefening nie, maar die verskillende teksture help kinders ook leer. Die geheim is om elke geleentheid vir leer aan te gryp," sê Mariska.

A vir alfabetmonster

Maak 'n "alfabetmonster" van 'n ou kous, wol en viltlap. Dié handpopmonster eet enige letter op (gebruik sponsletters of magnetiese letters wat jy op 'n tafel uitpak) as jy dit sê. As jou kind dus 'n letter benoem, kan die monster aan jou hand die letter vinnig en raserig verorber en verklaar dat hy baie lus is vir nog 'n letter, maar nie weet watter een om volgende te eet nie.

B vir bordkryt

Skryf vyf letters met bordkryt op plaveisel of teken dit met 'n stok in die sand. Roep die letter se naam uit en dan hardloop jy en kleinding om op die regte letter te gaan staan. Later kan hy alleen op die regte letter gaan staan. Volgende keer kan jy die volgende vyf letters teken. Maak hierdie letters groot genoeg dat jou kind op die lyntjies van die letter kan loop (maak seker hy begin op die regte plek en volg die regte vormingspatroon) of gee vir hom ook 'n stuk bordkryt en laat hy dit natrek.

C vir coke

C is een van die moeiliker letters om in Afrikaans baas te raak omdat dit op twee maniere uitgespreek kan word en eintlik selde gebruik word. Los dit vir laaste tensy dit deel van jou kleuter se naam uitmaak, want sy gaan dit nie anders baie gebruik nie. Dieselfde geld vir q, x en z.

D vir deeglettertjies

Maak deeg aan vir uitrolkleinkoekies. Help jou kleinding om slangetjies te rol en vorm die verskillende letters daarmee. Julle kan ook letters daarin uitdruk en dit versier voor julle dit bak. Die geheim is om deurentyd die letters te benoem en hom ook te vra om dit te benoem.

E vir eie eerste

Moenie die alfabet van begin tot einde deurwerk nie, maar begin letterherkenning met die eerste letter van jou kind se naam. Dit sal hom help om sommer gou-gou sy eie naam te herken. Sit byvoorbeeld net die yskasmagneetletters van sy naam op die yskas sodat hy daarmee kan speel.

F vir flits

Kies sowat vyf letters uit 'n letter-legkaart of flitskaarte en sit dit op verskillende plekke in 'n kamer neer. Skakel die lig af. Lê saam met jou kleinding op die bed en soek met jul flitse in die kamer rond tot julle die vyf letters opspoor. Benoem die letters.

G vir groot en klein

Jou kleinding gaan op skool eers kennis maak met kleinletters voor hy later aan hoofletters blootgestel word. Fokus dus eers op kleinlettertjies. Daarna kan jy die verband tussen hoof- en kleinletters uitwys.

H vir hulpmiddels

  • Alfabet-yskasmagnete
  • Klein alfabet-sponslettertjies
  • Alfabet-flitskaarte
  • Alfabetiese pasmaats-kaarte
  • Hout-alfabetletters
  • Boublokkies met die alfabet op
  • Alfabet-legkaarte
  • Gelamineerde A-4 blaaie met die letters van die alfabet daarop gedruk

I vir identies

Speel woordspeletjies waarin julle na identiese letters soek. Kies 'n woordjie en help jou asjas om die letter te vind wat soos die eerste letter van die woord lyk. Benoem die letter. "Ja, dis die k! Kat begin met 'n k!"

J vir jagtog

Hou 'n letterjagtog. Tydskrifte is propvol letters. Kies 'n letter en kyk hoeveel julle op 'n bladsy kan vind. Trek 'n kringetjie om die letter. Of soek saam 'n letter, soos al die k's. Wys vir jou kleinding hoe 'n k lyk en vra hy moet al sy maatjies soek. Knip dit uit en plak 'n collage daarvan. Daarna soek julle die s'e, die e's, en so aan.

K vir karretjie

Plak op die dak van elke speelgoedkarretjie 'n letter vas. Hou dan 'n letter-wedren op die mat. Benoem die letters terwyl julle jaag, byvoorbeeld "Die vette letter o loop nou voor, maar dit lyk of die kolletjie i hom gaan inhaal!"

L vir lettervorms

Druk alfabetletters op papier uit en vorm die letters met speelklei bo-op die gedrukte letters. Jy kan ook skottelgoedseep in 'n plastieksakkie seël en jou kind met sy vingertjie daarop laat skryf, of die letters met pypskoonmakers probeer vorm.

M vir muffinpan

Plak letters van die alfabet in die holtes van 'n muffinpannetjie. Gooi tosseltjies na die pan en kyk by watter letter dit val. Laat jou kleinding dieselfde letter uit 'n groep letters op 'n tafel soek en benoem dit as hy dit kry.

N vir natrek

Die lettertipe AB Junior Dot (soek dit op die internet) kan gebruik word om letters met stippellyntjies te druk wat jou kleinding vir oefening kan natrek. Dui die beginpunt met 'n groen kol aan en help jou kind om die lettertjie reg te vorm. Onthou om dit groot uit te druk (fontgrootte 200).

O vir oortjies wat hoor

Klankherkenning is 'n belangrike deel van alfabet-bemeestering en 'n belangrike grondslag vir lees. Vra vir jou kleinding wat hy eerste hoor wanneer jy 'n woordjie sê. Help hom as hy sukkel en lees stories wat dieselfde klankie oor en oor herhaal. As hy die klankie kan herken, gee hom die letter om te versier.

P vir pakpret

Vorm letters met vuurhoutjies of lekkers. As jou kind sukkel, kan jy die letter met 'n dik merkpen op 'n A4-blad skryf of dit uitdruk en hom die lekkers of vuurhoutjies bo-op die letter laat pak. Benoem die letter of vra hom om dit te benoem.

Q QR-kode

QR-kodes neem jou na aanlyn winkels waar jy interessante kleuter-produkte kan koop, soos Baba & Kleuter se "ABC van Suid-Afrika"-flitskaart!

R vir regte formaat

Sekere letters soos a en g lyk anders in die meeste gedrukte media as wat in die klaskamer geleer word. Om verwarring te voorkom moet jy waar moontlik die skoolformaat gebruik. Jy kan op die internet die AB Junior- en TeachersPet-lettertipes vir Word aflaai vir letters met die regte formaat as jy self drukstukke wil maak.

S vir spinnekopjag

Gee jou kinders elkeen 'n plastiekvlieëplak. Skryf letters op spinnekopvorms en pak dit op die tafel uit. As jy die letter sê, moet jou kind daardie spinnekop met sy vlieëplak slaan. Die een wat eerste slaan, kry die spinnekop.

T vir toorkrag

Skryf die alfabet met wit vetkryt op 'n wit A-4 bladsy. Laat jou kleinding met voedselkleursel of ander verf bo-oor verf en kyk hoe die letters uit die niet verskyn!

U vir uitgewers

Daar is wonderlike Afrikaanse kinderboeke te koop. As jy sukkel om dit in die winkel te kry, kan jy dit aanlyn bestel by uitgewers (Lapa, NB Boeke, Protea, Kakkerlak) of boekwinkels (Exclusive Books, Graffiti).

V vir vissie-vissie

Druk 'n A-4 bladsy uit met die alfabet daarop. Plak dit op dun karton en knip dit dan in blokkies met 'n letter op elke blokkie. Heg 'n skuifspeld aan elke letterblokkie en plaas dit in 'n skottel. Maak 'n visstokkie met 'n stok en tou met 'n magneet vooraan. Moedig jou kleinding aan om die vissies te vang en benoem die letters soos hy hulle vang. Of vra hy moet asseblief vir jou 'n t vang. Moedig hom aan om mettertyd self die letters te benoem.

W vir wat voel jy?

Pak vyf yskasmagnete in 'n sakkie. Gee haar 'n alfabetkaartjie en kyk of sy daardie lettertjie in die sakkie kan voel sonder om te kyk. Prys haar as sy dit regkry.

X wys die skat

Druk 'n klomp letters op kaartjies uit en plaas dit op verskillende plekke in 'n vertrek of selfs in die tuin. Gee dan vir jou japsnoet een letterkaart, byvoorbeeld die v, en help hom na al die lettertjies soek wat soos sy letterkaartjie lyk.

Y vir yskoue waterpret

Teken die letters van die alfabet met bordkryt op plaveisel. Gee jou kleinding 'n spuitgeweertjie en vra hom om reg op die letters se strepe te spuit.

Z vir 'n ziljoen teksture

Versier 'n bierboksie of platterige kartondoos. Gooi genoeg sand, sout, gekleurde rys, sago of jellie in om die boom deeglik te bedek. Plaas 'n alfabetkaart met 'n enkele letter daarop op die bokant en moedig jou kleinding aan om dit in die sand te teken. Help hom om die letter op die regte manier te vorm terwyl julle die naam sê.

SPELETJIES VANDAG

CTA