Babas groei op hul beste wanneer hulle goed slaap, want dis wanneer 'n glukose- en vetvoorraad neergelê word wat as brandstof dien vir hul vinnige groei en ontwikkeling.
Slaaptyd is ook wanneer hulle begin aanpas by die lewe buite die baarmoeder en hul slaap-wakker-siklus vorm.
Jy sal agterkom dat jou nuwe baba snags meer aktief is as bedags omdat hy nog nie geleer het dat die nag vir slaap bedoel is nie. Dié besef kan eers op ses tot agt weke deurdring wanneer die hormoon melatonien vrygestel word, wat lei tot 'n ritme van slaap in die nag, wakker wees in die dag.
Ma en baba het die eerste paar maande tyd nodig om 'n roetine van voed, slaap en binding vas te stel. 'n Patroon sal geleidelik ontwikkel namate jy op jou baba se behoeftes reageer. Sit ook tyd opsy om jou baba fyn dop te hou sodat jy kan sien hoe hy oorskakel van wakker- na slaaptyd.
Baba se slaapsiklus
1. Rustig wakker tot lomerig
Wanneer jou baba die oorgang begin maak en vaak word, sal hy dalk maklik skrik, maar die gewone huishoudelike geluide sal hom nie pla nie. Jou baba is eintlik gewoond daaraan om te midde van geraas te slaap, want die baarmoeder is immers nie 'n stil plek nie.
2. Ligte slaap
Jou baba se oë val toe en dit lyk of hy slaap. Jy kan sien sy oë beweeg agter sy oogledeen hy haal nog onreëlmatig asem. Jou baba sal steeds beweeg en aan sy handjies of fopspeen suig. Hy kan skrik vir 'n geluid, lig of beweging, maar hy sal gou weer bedaar.
3. Diep slaap
Die ogies is toe en daar is geen beweging agter die ooglede nie. Hy haal rustig en reëlmatig asem en beweeg nie. Selfs harde geluide sal hom nie wakker maak nie. As jy nou probeer om hom wakker te kry en te voed, sal jy net frustrasie vir julle albei veroorsaak.
Stel 'n roetine in
'n Badtyd-slaaptyd-roetine is 'n goeie manier om goeie slaapgewoontes aan te moedig. Bad jou baba elke aand op dieselfde tyd. Die meeste babas sal daarna kalm en ontspanne wees, en ná die warm bad en 'n voeding is hulle gereed om te gaan slaap. Jy kan jou baba voor of ná badtyd masseer, wat ook sal help.
Sit jou baba dan elke aand dieselfde tyd op dieselfde plek in sy bedjie neer.
Wees bereid om sowat drie maande lank nagdiens te doen. Dis onrealisties om te verwag dat jou baba voor dan sal deurslaap, en baie babas het nog meer tyd nodig voor hulle deurslaap. Dis normaal. Moenie dink dat as jy vaste kos vroeër bekendstel of dikker formulevoedings gee, hulle gouer sal deurslaap nie. Dis sommer ouvroustories en help niks nie.
Die nessie
Waar jou baba slaap, is regtig 'n persoonlike keuse. Sommige ouers verkies dit om hul baba van die begin af in sy eie kamer te laat slaap en ander verkies 'n kot in hul kamer of dat baba saam met hulle in die bed slaap. Doen wat vir julle reg voel. Jy sal dalk agterkom dat die voornemens wat jy voor die geboorte hieroor gehad het, nou verander het. Vertrou jou instink, maar as jy of jou man rokers is, gedrink het of medikasie gebruik, is dit beter om baba op sy eie te laat slaap en nie by julle in die bed nie.
Kotwenke
As jou baba in sy eie bedjie slaap, draai hom lekker styf toe en druk 'n sponsie of opgerolde handdoek langs hom in sodat hy gekoester voel en in posisie bly. Moenie kussings en sagte speelgoed om hom pak nie. Nuwe babas moet op hul rug slaap of effens op hul sy,want dié posisie hou dieheel kleinste gevaar vanwiegiedood in.
Wenk
Moenie tydens 'n nagvoeding in jou baba se oë kyk nie - dit maak hom so wakker dat jy sal dink hy het koffie pleks van melk gedrink!
En hoe slaap Ma?
Hier is wenke vir die tye wanneer slaap 'n stryd word.
1. Nagvoeding
Melk uit en vra jou man of 'n oppasser om een van die nagvoedings waar te neem sodat jy 'n paar uur se ononderbroke slaap kan kry. Dit kan die wêreld se verskil maak.
2. Slaap self
'n Goue stukkie raad is om te slaap wanneer jou baba slaap. Los eers al die ander dinge wat jou aandag nodig het en maak slaap 'n prioriteit. As jy nie kan slaap nie, rus dan ten minste.
3. Ja vir hulp
Leer om ja te sê as iemand hulp aanbied, en leer ook om te vra vir die hulp wat jy nodig het. Mense is gretig om te help as daar 'n nuwe baba in die huis is. Wasgoed, inkopies, kos maak... as iemand aanbied, sê ja.
4. Vroeg in die vere
As jy glad nie deur die dag 'n uiltjie kan knip nie, probeer om dan nie later as agtuur te gaan slaap nie. Onthou, dis net tydelik, en oor 'n paar maande sal jy weer grootmens-ure kan handhaaf.
5. Dokter toe
As jou gebrek aan slaap jou sleg beïnvloed of bydra tot nageboortelike depressie, moet jy die dokter laat weet. 'n Ma wat siek is van te min slaap, is vir niemand goed nie.





















