VRAAG: My swangerskap verloop heel normaal en ons het geen familiegeskiedenis van oorerflike siektes waarvan ek weet nie. Moet ek dit desondanks oorweeg om ons baba se naelstringbloed te laat berg? Dit klink na 'n goeie idee, maar hoe groot is die moontlikheid dat ons dit ooit nodig sal hê en hoe besluit ek watter firma om te kies? Ek voel onseker en weet nie heeltemal wat ek moet vra om die regte antwoord te kry nie.
DR. PETER KOLL ANTWOORD: Dis 'n baie goeie vraag en een wat nie maklik beantwoord kan word nie, want baie faktore speel 'n rol.
My mening hier is persoonlik en weerspieël nie noodwendig die mening van die maatskappy waarmee ek verbind word nie. Ek dink ook nog dieselfde hieroor sedert stamselberging die eerste keer in Suid-Afrika beskikbaar geword het en lank voor ek enige verbintenis met die bedryf gehad.
Ek glo dat stamselterapie in die toekoms 'n groot rol sal speel in die behandeling van 'n wye reeks mediese toestande. Die potensiaal van stamselgebruik in die geneeskunde is groot. Dit is waarom ek meen dat die berging van stamselle 'n goeie belegging is.
Die waarde van naelstringbloed-stamselle is al in 2005 ontdek. Danksy dié ontdekking kon verskeie wetenskaplikes verskillende soorte onvolwasse selle van naelstringbloed skei en laat vermeerder. Dit het die boustene van hart-, senuwee-, been- en lewerweefsel ingesluit.
Om die waarde van naelstringbloedstamselle verder uit te lig: As 'n geneties verwante naelstringbloedeenheid in tradisionele oorplantingsgeneeskunde gebruik word pleks van die selle van 'n onverwante bron, is die kans kleiner dat die oorgeplante weefsel verwerp sal word en is die uiteindelike uitkoms beter.
Regeneratiewe behandelings sou nie gewees het waar dit vandag is sonder familiebanke nie: Navorsing dui daarop dat iemand se eie geneties ooreenstemmende naelstringbloedstamselle die beste is vir regeneratiewe behandeling. Die Amerikaanse kollege van verloskundiges en ginekoloë voer aan dat naelstringbloedstamselle baie voordele bo ander stamselbronne het.
Die feit is dat sowel privaat as openbare bergingsgeriewe (oftewel stamselbanke) nodig is. Terwyl die familiebankbedryf die openbare bankstelsel ten volle ondersteun, is daar beperkings: Openbare skenking (dus deur iemand anders as 'n familielid) is nog nie algemeen beskikbaar nie as gevolg van befondsingsbeperkings en is tans net by spesifieke hospitale op beperkte plekke 'n moontlikheid.
As die koste van stamselberging nie jou finansiële toekoms gaan beïnvloed nie, of as jy klein opofferings kan maak om te verseker dat dit nie jou toekoms raak nie, sal ek sterk aanbeveel dat jy jou baba se stamselle laat berg.
As die berging van stamselle finansiële spanning sou veroorsaak, dan is jy beslis nie 'n slegte ouer as jy dit nie doen nie.
Ek het stamselberging aan al my kleinkinders as geskenk gegee. Dit kan dalk die waardevolste geskenk wees wat hulle ooit kry, of die selle sal dalk nooit gebruik word nie sodat my geskenk waardeloos kan lyk - maar onthou dat ons steeds nie die volle potensiaal van stamselle ken nie.
Daar was onlangs vooruitgang in stamseluitbreidingstegnologieë wat die toekoms van stamselterapie selfs meer opwindend maak.
Stamseluitbreiding beteken dat 'n be- treklike klein monster stamselle van enige bron, insluitend naelstringbloed en die naelstring, vermenigvuldig word. Die stamselle wat met 'n baba se geboorte versamel word, word so meer as genoeg om 'n volwassene baie jare later te behandel of om een of meer kinders 'n hele paar keer te behandel. Dié uitbreidingstegnieke lewer tans uitstekende resultate in die navorsingsopset en ons hoop om dit in die nabye toekoms in die kliniese praktyk te gebruik.
Die FDA in Amerika keur tans stamselbehandeling goed vir bloedafwykings waarvoor beenmurgoorplantings tradisioneel gebruik is.
Belowende navorsing is ook aan die gang oor die behandeling van baie ander siektes en traumatiese beserings. Die potensiaal is daar om neurologiese beserings en siektes te behandel, om vel vir brandwondpasiënte te laat groei en om siektes van die hart, lewer, longe en niere te behandel. Die beperkings van hierdie moontlikhede is onbekend


















