Hier's hulp!
Preemie Connect is 'n ondersteuningsgroep vir gesinne wie se baba vroeg gebore is. Kry daar emosionele ondersteuning van ander wat werklik verstaan wat julle deurmaak.
Van tyd tot tyd verskaf hulle ook sorgpakkette in hospitale wanneer die pandemieregulasies dit toelaat. Die pakkies is vol benodigdhede vir ma en baba, want kom ons wees nou eerlik - niemand is gereed vir 'n vroeë baba nie! Preemie Connect verteenwoordig ouers se belange by die Global Alliance for Newborn Care.
Reik uit na hulle op sosiale media: @PreemieConnect, of stuur epos na preemieconnectsa@gmail.com.

Blink idee vir babas
Thula Baba Basket is die breinkind van Lisa Swanepoel van George in die Wes-Kaap, 'n ma van vyf wat nog tyd kry om haar oor ander ook te ontferm. Dit behels 'n veilige plek waarin 'n nuwe baba kan slaap in die vorm van 'n baie stewige kartonboks, wat afgelewer word gevul met alles wat 'n ma nodig het om haar baba mee te versorg.
Die boks is omgewingsvriendelik en het 'n hipoallergeniese matras met 'n wig sodat baba in haar eerste ses maande (of tot 8 kg) veilig kan slaap. Daarna kan ouers die boks hou vir speelgoed af as 'n herinneringsboks.
Lisa sê baie meer as die helfte van babas wat elke jaar in Suid-Afrika gebore word, kom uit behoeftige huise. Gaan na thula-baba.co.za om te koop of te skenk.
Toegang tot top-spesialiste
Vanjaar se Fertility Show Africa (FSA) vind op 9 en10 Oktober aanlyn plaas. Dis ten volle interaktief en jy kan regstreeks met kundiges op enige gebied gesels.
Daar is selfs meer dokters, spesialiste, klinieke en sprekers betrokke as verlede jaar, asook baie uitstallers wat ook die leefstylaspekte van vrugbaarheid dek. As jy aanneming of surrogasie oorweeg, kan jy ook inligting kry.
Daar is verskeie kaartjiepakkette. Gaan na fertilityshowafrica.com en kies die een wat die beste by jou behoeftes pas. Kyk ook daar wie almal betrokke is. Volg FSA ook op sosiale media.

Ons lief Bio-Oil
Almal se gunsteling- oranje olie is nou ook as 'n lyfroom te kry by Clicks, Dis-Chem, apteke en uitgesoekte handelaars. Dis lig en nie-vetterig, maar bevat dubbel soveel olie as ander lyfrome wat dit dus 'n baie doeltreffende bevogtiger maak.
Skud die bottel voor die tyd goed. Dit kos R189,99 vir 250 ml en R144,99 vir 175 ml.















