Ouerskap

SWANGERSKAP | Hipnogeboorte

Getty Images
Getty Images

Hipnogeboorte kan kortliks verduidelik word as 'n metode wat hipnose inspan om pyn en vrees gedurende die geboorteproses uit te skakel. Dis egter nie die soort hipnose wat 'n mens dikwels in rolprente sien nie. Jy is in volle beheer van jou liggaam en is heeltemal ontspanne. Dis byna soos wanneer jy dagdroom. Om jou kind met behulp van hipnogeboorte die wêreld in te bring, beteken dat jy jou eie vaardighede gebruik om jou verstand en liggaam in harmonie met mekaar te bring. As jy eers dié vaardighede (wat jy aanleer en inoefen) onder die knie het, kan jou baba gebore word sonder spanning, en sonder dat jy bang is vir die geboorteproses.

Die feite

Daar is verskeie hipnogeboorte-metodes, maar een van dié wat in Suid-Afrika toegepas word, is die HypnoBirthing Mongan-metode. Dié metode is meer as drie dekades gelede in Amerika deur die hipnoterapeut en -narkotiseur Marie Mongan ontwikkel. Marie se metode is gegrond op navorsing wat die Britse verloskundige dr. Grantly Dick-Read in die vroeë 1900's gedoen het. Grantly het raakgesien dat vroue wat kalm en positief met die geboorte is, gewoonlik minder pyn ervaar as vroue wat bang is. Hy het tóé al besef dat vrees spanning veroorsaak, wat die spiere laat verstyf en meebring dat 'n mens moeiliker kraam.

Vrees is die sondaar wat geboortes so pynlik maak, sê Marie in haar boek HypnoBirthing: the Mongan Method. As jy ontspanne is en op jou liggaam vertrou, sal jy minder pyn hê omdat jou liggaam endorfiene afskei wat vir die afwesigheid van pyn sorg en jou eufories laat voel. Jy sal dus die geboorte kalm en vol selfvertroue kan aandurf omdat jy weet dat jy in beheer is en jou liggaam se spiere saam met jou werk eerder as teen jou. Gaan jy dan geen pyn hoegenaamd ervaar nie? Kenners waarborg nie 'n pynlose ervaring nie, hoewel talle vroue wat hierdie metode beproef het, omtrent geen pyn tydens kontraksies gehad het nie.

Vroue wat kalm en positief met die geboorte is, voel gewoonlik minder pyn as vroue wat bang is.

Hoe werk die Mongan-metode?

Hipnogeboorte leer jou om 'n diep vlak van ontspanning te bereik deur sekere tegnieke te gebruik. Jy leer ook om jou onbewuste vrese te konfronteer en strategieë te prakseer om dit te hanteer. Jy moet verstaan wat in jou liggaam gebeur tydens die geboorte, en hoe jy jou lyf kan help om te doen wat dit van nature behoort te doen.

Dis ook belangrik om die regte woorde te kies wat jy tydens jou swangerskap en voorbereiding vir die geboorte gebruik. Jy leer hoe om positiewe opdragte te gee en doelbewus op positiewe doelwitte te fokus. Marie sê daar is vier tegnieke wat jy ten volle onder beheer moet hê om 'n suksesvolle hipnogeboorte te kan aanpak: asemhaling, ontspanning, visualisering en verdieping.

1. Asemhaling

Daar is drie asemhalingstegnieke wat in die verskillende fases van kraam ingespan word.

  • Slaap-asemhaling maak jou gemaklik en ontspanne wanneer die kontraksies begin.
  • Stadige asemhaling is iets wat jy elke dag van jou swangerskap moet oefen. Dit help sorg vir die lang asem wat jy nodig sal hê om korrek asem te haal terwyl die kontraksies en geboorte plaasvind.
  • Geboorte-asemhaling geskied in die geboortefase van kraam. Jy adem as't ware jou baba met die geboortekanaal af. Jou asemhaling word ingespan om die vaginale area te laat ontspan, dus druk jy nie.

2. Ontspanning

As jy die asemhalingstegnieke onder die knie het, kan jy ontspanningstegnieke begin oefen. Daar is verskeie ontspanningstegnieke, maar almal behels dat jy gemaklik op 'n stoel sit en jou liggaam stuk vir stuk laat slap word tot jy heeltemal ontspanne is. Jou geboortemaat kan ook jou rug masseer om jou ontspanne te laat voel.

3. Verdieping

Die verdiepingstegnieke behels dat jy jou liggaam leweloos en sonder enige sensasie kan laat. Al die verdiepingstegnieke sluit in dat jy een ledemaat gevoelloos of prikkelend laat voel, en hierdie gevoel dan stelselmatig na jou ander ledemate versprei. Dit is belangrik dat jy in volle beheer is en kan kies wanneer jy gevoel wil hê en wanneer jy dit wil afskakel. Die verdiepingstegniek leer jou ook om jou tydsbegrip te verander sodat vyf minute meer soos een minuut voel, en 20 minute soos vyf minute.

4. Visualisering

Wanneer jy dié tegnieke leer, sal jy leer om jou hele liggaam van kop tot tone te laat ontspan. Dít doen jy deur na HypnoBirthing se CD te luister, of jy kan gewoon net oefen om jou lyf lig te laat voel, amper asof jy sweef. Marie sê jy moet jou verbeel jy sweef op wolke. Die wolke het een kleur op 'n slag en jy visualiseer elke kleur tot jy deur al die kleure van die reënboog is. Daarna is jy veronderstel om jou self terug na die werklikheid te bring, waar jy energiek en wakker voel. Daar is verskeie ander tegnieke in Marie se boek, maar die visualisering van gekleurde wolke is die algemeenste een.

Daar is vier tegnieke wat jy ten volle onder beheer moet hê om 'n suksesvolle hipnogeboorte te kan aanpak.

Voordele van hipnogeboorte

  • Dit bevorder voorgeboortelike binding met jou baba.
  • Dit laat jou beter slaap en hou jou gesonder tydens jou swangerskap.
  • Jy herstel vinniger en die gevaar van postnatale depressie is kleiner.
  • Die geboorteproses is korter, jou behoefte aan pynverligting is minder en ingryping is minder nodig.
  • Jou baba is kalmer.

Bron: hypnobirthing.com

Wat jy nog moet weet

Jou wederhelf moet die hipnogeboorteklasse saam met jou bywoon, sê Karin Steyn, 'n hipnogeboorte-praktisyn van Johannesburg. Jou maat leer metodes om jou in 'n dieper vlak van ontspanning te help gaan, masseringstegnieke en ook hoe om doeltreffend met mediese personeel te kommunikeer.

'n Hipnogeboorte werk op die vlak van die onbewuste, waar dit die grootste verskil maak aan jou programmering oor geboorte, swangerskap en moederskap. Dis jou onbewuste wat die outomatiese funksies van jou liggaam beheer (soos spysvertering en hormoonvrystelling) en dis op dié vlak waar jou verdedigingsmeganismes lê, sê Karin.

As jy jou onbewuste strategieë met jou bewuste planne laat ooreenstem, is die kans groter dat jou liggaam sal saamwerk terwyl jy die lewe skenk. As jou onbewuste dink dat geboorte onveilig is, sal jou liggaam jou onbewustelik keer om te kraam ondanks jou bewuste plan om natuurlik te kraam, en dís wanneer ingrypings genoodsaak word.

In die klasse leer jy om die oefeninge waarvan jy in die boek lees, te herhaal en in te oefen. Met die visualisering en herhaling praat jy met jou onderbewussyn en gee jou liggaam opdragte sodat dit reageer soos jy dit wil hê. Jy visualiseer die geboorte, en dit skep nuwe paadjies in jou brein sodat jy jou visualisering op die dag beter kan verwerklik. Jou brein dink dus amper hy het die taak klaar afgehandel.

Die klasse duur sowat twee en 'n half uur elk en behels een klas per week vir vyf weke. Die meeste ouerpare woon die klasse tussen 20 en 30 weke van swangerskap by. Die meeste mediese fondse betaal vir dié klasse, maar dit hang van elkeen se individuele plan af. Gewoonlik sal mediese fondse wat voorgeboorte- en sielkundige dekking insluit, vir die klasse betaal.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM