HCG
Die swangerskapsalarm
Een van die eerste hormone wat hul opwagting maak, het die intimiderende lang naam menslike chorioniese gonadotropien (hCG), maar staan ook algemeen bekend as die swangerskapshormoon. Dié hormoon is net tydens swangerskap teenwoordig en word daarom vir swangerskapstoetsing gebruik.
Dit kom in jou bloed en urine voor. Of jy dus 'n tuisswangerskapstoetsie inspan of 'n bloedtoets by 'n dokter laat doen - as hCG daar is, is jy swanger!
Net 'n paar dae nadat die bevrugte eiersel aan die wand van die baarmoeder vasgeheg het, begin die splinternuwe plasenta hCG vervaardig. Die hoeveelheid hCG neem geweldig vinnig toe en bereik teen dag 70 'n hoogtepunt. Daarna daal die vlak en handhaaf die hormoon vir die res van jou swangerskap 'n lae profiel.
HCG se belangrikste taak is om te sorg dat die steroïedhormone estrogeen en progesteroon steeds vervaardig word. Daarsonder sal jou progesteroonvlak weer daal en sal jy weer menstrueer.
Namate die plasenta meer volwasse word en self die produksie van estrogeen en progesteroon kan oorneem, neem hCG-produksie af.
As jy 'n sondebok soek vir daardie aaklige oggendnaarheid en die geweldige moegheid wat jou in die eerste trimester platslaan, blameer gerus hCG. Dis ook die hormoon wat jou elke vyf minute toilet toe stuur om die risiko te verminder dat jou liggaam die baba verwerp - wat jou in dié tyd meer vatbaar vir siektes maak.
Prolaktien
Oefen vir borsvoeding
Prolaktien is verantwoordelik vir die vermeerdering van melkproduserende selle in jou bors. Terwyl jy swanger is, keer progesteroon en estrogeen dat melk gemaak word, maar sodra baba gebore word, daal dié hormoonvlakke dramaties en kan die prolaktien met melkproduksie begin.
Prolaktien help ook later keer dat jy swanger word terwyl jy borsvoed - maar dis beslis nie 'n betroubare voorbehoedmiddel nie, soos baie ma's al tot hul skok moes agterkom!
Daar is ook 'n minder lekker kant: Prolaktien kry onregstreeks die skuld vir al daai ekstra (gelukkig tydelike) hare op jou gesig, maag en ander dele van jou lyf.
Dis estrogeen wat, saam met ander hormone, veroorsaak dat jou borste vroeg in jou swangerskap seer of gevoelig is en dat hulle begin uitsit - alles ter voorbereiding van borsvoeding later
Oksitosien
O vir omgee
Oksitosien word soms die towerhormoon genoem, want dis blykbaar verantwoordelik vir die koesterende gedrag van nuwe ma's en pa's. Op 'n meer praktiese vlak is dit ook verantwoordelik vir die gereelde kontraksies van die baarmoeder terwyl jy swanger is - soos Braxton Hicks-sametrekkings - en dis die hormoon wat uiteindelik die kontraksies vir jou bevalling laat begin.
Kontraksies tydens borsvoeding word ook toegeskryf aan oksitosien en sal help dat jou baarmoeder terugkrimp na sy oorspronklike grootte.
Estrogeen
Beter bloedvloei en seer borste
Estrogeen is seker die bekendste vroulike hormoon en word regdeur jou swangerskap vervaardig. Hoe verder jou swangerskap vorder, hoe meer estrogeen bruis deur jou lyf.
Dié groep hormone word gewoonlik in die eierstokke vervaardig, maar tydens swangerskap word dit ook deur die plasenta gemaak en speel dit 'n sleutelrol in 'n gesonde swangerskap. Dit help bloedvloei na die baarmoeder aan, ondersteun baarmoedergroei en onderhou die baarmoedervoering - alles om seker te maak jou baba het die ideale groeiplekkie.
Estrogeen help met beter bloedsomloop en sorg ook dat jou bloedvolume teen week 10 begin toeneem. Daarby aktiveer en reguleer dit die vervaardiging van ander sleutelhormone, onder meer progesteroon.
Baba baat ook by estrogeen: Dit help om sy organe te ontwikkel en is later onder meer verantwoordelik vir die ontwikkeling van vroulike geslagseienskappe. Dit reguleer ook die beendigtheid van jou baba se ontwikkelende arms en bene.
Dis estrogeen wat, saam met ander hormone, veroorsaak dat jou borste vroeg in jou swangerskap seer of gevoelig is en dat hulle begin uitsit - alles ter voorbereiding van borsvoeding later.
En terwyl estrogeen met soveel belangrike take besig is, het dit ongelukkig ook 'n paar minder plesierige newe- effekte, soos die permanente toe neus wat jy soms het terwyl jy swanger is, en selfs kopseer en postnasale drup. Die ekstra toevloei van bloed kan ook jou vel rooi en kollerig laat lyk en jou handpalms laat jeuk.
Blameer gerus ook maar estrogeen (saam met 'n paar ander hormone) vir die pigmentasie wat nou oral uitslaan: donkerder tepels, soms 'n bruin streep op jou maag en donker vlekke om jou oë.
Progesteroon
Hou baba binne
Progesteroon word baie belangrik terwyl jy swanger is, want dit voorkom dat jou baarmoeder die fetus spontaan aborteer deur 'n "voering" op te bou wat die plasenta kan ondersteun. Dis weer baie belangrik vir baba se voeding- en suurstoftoevoer.
Aanvanklik word progesteroon deur die eierstokke vervaardig, maar vanaf die tweede trimester word dit ook deur die plasenta gemaak.
Voor jou swangerskap trek jou baarmoeder dikwels van nature saam en beweeg dit, maar in jou swangerskap help progesteroon om dié manewales te voorkom. Dit help jou baarmoeder om te swel en plek vir jou groeiende baba te maak.
Namate jou swangerskap vorder, styg jou progesteroonvlak - tot net voor die geboorte, wanneer dit daal om die baarmoeder kans te gee om saam te trek.
Progesteroon stimuleer die groei van borsweefsel en is saam met estrogeen verantwoordelik vir die gevoeligheid in jou borste vroeg in die swangerskap.
En ja, progesteroon is nie net goeie nuus nie: Al die progesteroon in jou lyf span saam met die hormoon relaksien om die gladde spiere te beïnvloed. Dis waarom die klep tussen jou maag en keel soms nie lekker werk nie en jy sooibrand kry, veral in die derde trimester.
Progesteroon en relaksien kan ook kraakbeen versag, wat gewrigte en ligamente los maak en allerhande heup- en bekkenpyne kan veroorsaak.
Daarby laat dit die spysverteringstelsel en blaas verslap, wat kan lei tot hardlywigheid en winderigheid. Dit kan jou tandvleis laat bloei en jou vir die eerste keer ná jou tienerjare weer aknee gee. En dit kan jou meer as gewoonlik laat sweet!
Relaksien
Ontspan en geniet dit Vroeg in jou swangerskap word relaksien vrygestel. Dit hou baarmoederbewegings in toom en versag ook die serviks ter voorbereiding vir die geboorte. Dit werk saam met progesteroon om jou spiere, ligamente en gewrigte te laat ontspan, veral in jou bekken. Só berei dit die weg voor waarlangs jou baba sal reis wanneer hy gebore word. Maar die verslapping van al dié spiere kan soms nogal seer wees en rugpyn en ander skete veroorsaak.
Nog 'n paar...
Menslike plasentale laktogeen (hPL)
Menslike plasentale laktogeen word deur die plasenta vervaardig en help die gesonde ontwikkeling van die fetus verseker. Dit help jou borste om vir borsvoeding gereed te maak en kolostrum uit te skei. Daar is 'n verband tussen te min hPL en klein babatjies omdat dié hormoon jou metabolisme so help organiseer dat jy meer suiker na baba stuur.
Tiroksien
Die skildklierhormoon tiroksien help jou om meer suurstof op te neem en werk saam met groeihormone om baba se groei te stimuleer. Dis ook baie belangrik vir die gesonde ontwikkeling van baba se sentrale senustelsel.
Tiroïedstimulerende hormoon
Tiroïedstimulerende hormoon sorg vir die vrystelling van tiroïedhormone, wat jou metabolisme reguleer.
Insulien
Insulien beheer die meta- bolisme van kos deur jou en jou baba. Namate jou swangerskap vorder, word die insulien minder doeltreffend omdat dit nie meer by die glukoselading kan byhou nie. By sowat 2 tot 4 persent van vroue veroorsaak dit tydelike swangerskapsdiabetes.
Kortisol
Kortisol help met die ontwikkeling van baba se longetjies en speel ook 'n belangrike rol in leer en geheue.


















