Begin gerus oefen
Jy kan beslis tydens swangerskap begin oefen, al het jy nie voor die tyd geoefen nie. Dit hou net voordele vir jou en jou baba in.
Wenke vir beginners
- Begin stadig met lae-impak oefening soos stap, swem of 'n spesiale jogaklas vir swangerskap. Mik na 'n halfuur elke dag.
- Sorg dat jy goed gehidreer is en bly. Water, water, water.
Jy kan vir die eerste drie maande maagoefeninge doen terwyl jy op jou rug lê, maar daarna sal jy eerder sittende of staande jou maag oefen.
522 uur.
Dis hoeveel slaap 'n nuwe ma in haar baba se eerste jaar verloor.

Klink 'n glasie
Julle het baie om te vier, of dit nou Valentynsdag is of jul swangerskap in die algemeen. Met alkohol op jou taboe-lys wil jy tog nog iets drink wat soos 'n grootmensdrankie voel. Hier's 'n fopdop-idee …
Rooibosbessiesap met roosmaryn
- 1 koppie rooibostee
- ¼ koppie suiker
- 1 koppie rooibos- bessiesap (cranberry)
- 1 koppie tonikum of sodawater
- ½ koppie ys
- 4 takkies roosmaryn
- 'n paar bloubessies vir versiering
Maak so
1. Maak die tee met kookwater en roer die suiker by. Laat afkoel.
2. Giet die tee, sap en tonikum of soda saam in 'n mooi glasbeker, voeg twee takkies roosmaryn by en verkoel in die yskas.
3. Wanneer julle reg is, verdeel die ys tussen twee skemerkelkieglasies en giet die drankie oor die ys. Versier elke glas met 'n takkie roosmaryn en 'n paar bloubessies.
Ja, jy kan (en moet!)
VRAAG: Ek's swanger. Kan ek my teen Covid laat inent?
ANTWOORD: Beslis, sê dr. Peter Koll, een van Johannesburg se top-ginekoloë. Swanger vroue het 'n groter risiko om baie siek van Covid te word - selfs nog groter as jy daarby ook aan diabetes, vetsug of hoë bloeddruk ly. Daar is geen rede om inenting uit te stel nie, of jy nou probeer swanger raak, met fertiliteitsbehandeling besig is of pas uitgevind het jy verwag.
MANS KRY DIT OOK
Wat? Nageboortelike depressie. Hier's 10 tekens:
- Toename in konflik en woede
- Toename in alkohol- of dwelmgebruik
- Frustrasie en prikkelbaarheid
- Gewelddadige gedrag
- Gewigverlies
- Isolasie van familie en vriende
- Voel gou gestres en ontmoedig
- Toename in klagtes van fisieke simptome of aanhoudende fisieke simptome soos hoofpyn
- Afname in konsentrasie of motivering
- Werk die hele tyd of verloor belangstelling in werk

Het jy geweet?
Jou baarmoeder is fenomenaal! Kyk hoe haar gewig, grootte en volume van die begin tot die einde van jou swangerskap toeneem:
Grootte
7,5 cm x 5 cm x 2,5 cm
tot 30 cm x 23 cm x20 cm
Gewig
50 g-60 g tot 900 g-1 000 g
Volume
6 ml tot 5 000 ml
Sowat twee weke ná jou bevalling het alles weer na normaal teruggekrimp.





















