Jy is skaars klaar met die vorige voeding, winde uitvryf en doekruiling, dan begin dit weer van voor af. Voor jy jou kom kry het jou dag in 100 stukkies versplinter, sukkel jy om enigiets klaar te maak en betrap jy jou dat jy vyfuur die middag nog jou pajamas aanhet omdat jy nooit sover gekom het om te stort en aan te trek nie. Waar het die dag heen verdwyn? Babas is regte tydslurpertjies en jy moet dus maar regstaan met 'n arsenaal tydspaar-taktieke om deur jou dag te kom.
Hou alles byderhand
Slim organisasie spaar tyd. Lê jou babakamer so uit dat jy nie heen en weer hoef te skarrel om met bad- of doekruiltyd sy goed bymekaar te kry nie. Jy moet net jou hand kan uitsteek na wat jy nodig het. As jy wel goed heen en weer moet piekel, bêre dit in 'n maklik draagbare houer wat jy kan optel en saamvat na waar jy dit nodig het.
Baba se kos
Maak baie groente op 'n slag gaar en vries dit in ysbakkies. Ontdooi 'n paar blokkies op 'n slag wat jou baba kan eet.
Sak en pak
Met 'n baba kan jy nie net gou in die motor spring en ry nie - dit verg fyn beplanning en tydsberekening om by sy skedule in te pas. Sorg dus dat jou babasak altyd klaar gepak en gereed by die voordeur staan sodat jy net kan gryp as jy moet ry. Hou 'n ekstra stel benodigdhede (boudjieroom, fopspeen, afveelappies, ens.) daarin. Sommige ma's hou 'n ekstra doeksak met noodsaaklikhede permanent in die motor, of het twee doeksakke wat hulle afwissel sodat een altyd gereed staan.
Ekstra klere
Maak seker dat jy 'n ekstra stel klere en 'n ekstra kombersie vir baba inpak sodat jy nie moet omdraai huis toe as hy skielik 'n uitloopdoek het nie.
Dra haar saam
'n Drasak waarin baba knus teen jou lyf sit terwyl jy jou hande los het om 'n paar takies af te handel is vir baie ma's 'n redding.
Oorjas is gepas
Hou 'n spoegdoek byderhand. As jy beplan om uit te gaan, trek 'n los T-hemp oor jou uitgaanklere aan tot jy by die voordeur kom. Dit kan keer dat jy moet skoon aantrek nog voor jy gery het as jou kleinding onverwags op jou skouer oorkook.
Beperk internet-tyd
As jy en jou baba alleen tuis is, is aanlyn kontak met die buitewêreld dikwels 'n redding, maar stel 'n kookwekker as jy begin Facebook om te keer dat jy daar vashaak!
Werk in grootmaat
As jy bottelvoed, kry genoeg bottels en tiete sodat jy dit kan was en steriliseer wanneer dit jóú pas. Kook soggens water vir die dag. Giet die kookwater in 'n termosfles wat dit warm hou terwyl jy nog kookwater in die dag se bottels gooi waar dit kan afkoel. Dan kan jy net die warm kookwater byvoeg as jy die bottels aanmaak sodat dit die perfekte temperatuur vir jou kleinding is. Meet soggens klaar die dag se formulemelk af (of vra manlief om dit saans te doen) sodat jy 'n bottel in 'n kits kan aanmaak.
Kry 'n borsvoedstasie
Aan die begin kan dit voel of jy permanent besig is om jou baba te voed. Dis wonderlike bindingstyd, maar ook 'n goeie tyd om te rus, e-posse te lees of te bel. Rig 'n gemaklike borsvoedingstasie in met iets te drinke, asook tydskrifte, jou tabletrekenaar, jou selfoon of die televisie-afstandbeheerder.
Verskeidenheid ruilstasies
In 'n groot of dubbelverdieping-huis kan dit help om verskeie volledig toegeruste doekruilstasies in verskillende vertrekke van die huis te hê, veral daar waar julle die meeste tyd deurbring.
Mandjies oral
Sodra jou kleinding begin kruip, kan speelgoed die huis vol lê. Plaas in elke vertrek 'n speelgoedmandjie of oorgetrekte kartonboks waarin jy die speelgoed kan pak as julle klaar gespeel het.
Lysies help
As poedingbrein inskop of 'n slaapgebrek jou van helder denke beroof, kan jy kosbare minute vermors terwyl jy probeer dink wat om te pak of te doen. Lysies help daarmee. Plak 'n lysie op met die standaarddinge wat byvoorbeeld in baba se doeksak moet kom - dit sorg dat jou maat ook die doeksak kan pak sonder om iets te vergeet.
Doen inkopies aanlyn
Inkopies met baba is tydrowend en uitputtend. Doen jou kruideniersinkopies aanlyn en laat dit aflewer. Die meeste ander dinge kan jy deur takelot.com aanskaf. Danksy die lang grendeltyd het die meeste ondernemings aanlyn begin handel dryf; jy kan dus amper alles deesdae inbestel.
Kook ekonomies
Kook dubbelhoeveelhede en vries die ekstra porsies. Eenskottel-geregte is vinniger en veroorsaak minder skottelgoed. Enige gevriesde gereg wat jy net in die oond hoef te druk, is nou 'n belegging. Of belê in 'n prutpot.
Skoon kombuis
As jy nie tyd het vir skottelgoed was nie, plaas 'n skotteltjie met seepwater onder jou wasbak of in jou oond en pak die vuil skottelgoed deur die dag daarin. Dan lyk jou kombuis netjies en saans was jy dit makliker.
Delegeer
Moenie vir manlief vra om iets vir baba te doen en dan heeltyd oor sy skouer loer nie. Gebruik hierdie tyd nuttig elders.
Praktiese kleertjies
Sommige babaklere is pragtig, maar tydrowend as dit by die aantrekslag kom. Los dit vir spesiale dae en trek klere aan waarin jy haar doek in 'n kits kan ruil.
Wees aanpasbaar
Pas aan by jou baba. Dis tydmors om te probeer kos maak as sy knieserig is. Gee eers aandag aan haar - jy kan later kos maak wanneer sy rustiger is.
Rus
... wanneer baba rus. Dit gee jou woema om later vinniger te werk.





















