Waar of onwaar?
1. Jou baba se naelstringarea hoef nie skoongemaak te word nie.
2. Pasgebore babas moet elke aand voor 'n voeding gebad word.
3. Dis in orde om volwasse sjampoe en seep te gebruik om baba se lyfie en hare mee te was.
4. Dis gevaarlik om baba se oortjies met watte-oorstokkies skoon te maak.
5. Spesiale naelknippers kan babas se vinger- en toonnaeltjies kort en higiënies hou sodat hulle hulself nie kan krap nie.
6. Jy hoef peuters se tandjies eers te begin borsel as hulle groter is en 'n hele paar tandjies al verskyn het.
7. Babas leer mettertyd hoe belangrik persoonlike versorging en higiëne is as mamma en pappa hulle van kleins af daaraan blootstel en gewoond maak.
Wat sê die kenners?
1. Onwaar. Die plekkie moet skoongemaak word net as dit vuil geword het. Deesdae word droë-sorg toegepas. Die susters by die hospitaal sal verduidelik hoe. Hou die area eenvoudig so droog as moontlik; geen ontsmettingsalkohol of poeier is nodig nie.
2. Onwaar. Babas word nie regtig vuil nie en 'n sponsbad elke tweede aand is dus in orde. Maar water is kalmerend en kan jou baba rustig maak en goed laat voel. Sommige ouers verkies dit om baba liewer soggens te bad. Besluit watter tyd van die dag die beste vir julle werk.
3. Onwaar. Babavelletjies is baie sensitief en kan maklik geïrriteerd en droog word as dit nie met spesiaal geformuleerde babaprodukte gewas word nie.
4. Waar. Gewone wattestokkies kan te diep in baba se oor ingaan en die trommelvlies beskadig. Maak die oorskulp liewer met 'n klam stukkie watte skoon. Vee ook agter oortjies skoon.
5. Waar. Gebruik eerder spesiale naelversorgingsitems en 'n ronde- puntskêrtjie omdat dit spesiaal ontwerp is om nie sagte, klein vingertjies en toontjies te beskadig nie.
6. Onwaar. Babas se heel eerste tandjies moet al geborsel word - hoe gouer hulle daaraan gewoond raak, hoe beter.
7. Waar. 'n Goed versorgde liggaam is 'n spieëlbeeld van hoe 'n mens oor jouself voel. Jy kan dié belangrike roetine reeds van babatyd af 'n lewenswyse maak.






