Verstaan kraam

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Vooraf

Wat met jou lyf gebeur

Jou serviks begin sag word en gaan effens oop. Kontraksies is kort, matig en ongereeld. Dit voel soos ligte rugpyn of menstruasiepyn laag in jou buik.

Ander tekens

  • Meer vaginale afskeiding
  • Skielike gewigsverlies
  • Knaende rugpyn

Help jouself

Moenie enigiets uitputtends aanpak nie. Rus soveel jy kan en fokus op diep asemhaling. Eet klein, energieryke happies. Drink baie water. Vir jou maat Jy kan baie doen om die amperma ontspanne te hou. Moedig haar aan om rustig te wees. Maak seker die hospitaaltas is gepak en dat jy die pad soontoe ken. Moenie jaag of paniekerig word nie.

Stadium 1

Vroeë kraam 0-6 cm

Wat met jou lyf gebeur

Die serviks word dunner en is wyer oop. Kontraksies is vyf tot 20 minute uitmekaar en duur 20 tot 50 sekondes. Dis gewoonlik nie baie seer nie, maar jy is beslis daarvan bewus. Vaginale afskeiding neem toe en jy kan dalk slym met 'n strepie bloed in sien.

Ander tekens

  • Jou water kan nou (of later) breek.
  • Laerugpyn duur voort of word erger wanneer die kontraksies toeslaan.

Emosies

In hierdie stadium kan jy gemengde gevoelens hê. Jy is opgewonde dat die bevalling begin het, maar ook skrikkerig dat dit dalk moeiliker gaan wees as wat jy dink. Verwag opgewondenheid, afwagting, rusteloosheid en senuweeagtigheid. Dalk voel jy nou gereed om hospitaal toe te gaan, of verkies jy die gemak en bekendheid van jou eie huis.

Help jouself

Eet lig en drink net deursigtige vloeistof. Rus, sit in 'n wiegstoel of stap stadig. Laat jou aandag tussen kontraksies afgetrek word deur te lees, te gesels, musiek te luister of op die telefoon te gesels. Natuurlik hang dit alles van die tyd van die dag of nag af.

Vir jou maat

Bly kalm en naby. Help haar om haar asemhaling te oefen terwyl die kontraksies nog liggies is. Hou die horlosie dop tydens en tussen kontraksies sodat jy weet wanneer dit tyd is om hospitaal toe te gaan. Masseer haar as sy gewillig is. As haar rug seer is, kan diep druk of 'n koue of warm kompres op die onderrug help. Maak seker dat jy self eet sodat jy ook sterk bly. Dra gemaklike klere en skoene.

WENK

Pa kan ma se aandag van haar ongemak aflei met geselsies, die speel van musiek of kaartspeletjies.

Stadium 1

Aktiewe kraam 6-8 cm

Wat met jou lyf gebeur

Die serviks is nou dun genoeg, maar rek steeds wyer oop. Kontraksies is langer, sterker en nader aan mekaar. Dis nou sowat drie tot vyf minute uitmekaar en duur 50 tot 60 sekondes.

Ander tekens

  • Vaginale afskeiding is oorvloedig.
  • As dit nog nie gebeur het nie, breek jou water nou.
  • Die kraamproses kan 'n plato bereik, wat beteken kontraksies duur voort, maar jou serviks neem 'n blaaskans.

Emosies

Jy sal tydens kontraksies baie wakker en gefokus wees, en tussenin lomerig en moeg voel. Jou endorfienvlak is hoog. Dit kan jou frustreer dat dinge stadig vorder, maar probeer ontspan.

Onthou, jou lyf het die tyd nodig voor die volgende stap. Rus stil tussen kontraksies.

Help jouself

Verander dikwels van posisie sodat jy jou baba kan help om in posisie te kom. Bly waar moontlik regop sodat swaartekrag jou baba kan help om na onder in die bekken te beweeg. Hou jou blaas leeg. Haal asem op 'n manier wat jou gefokus laat voel.

Onthou dat die baarmoeder baie suurstof nodig het om doeltreffend te werk.

Vir jou maat

Sy het jou aanmoediging nodig om deur moeilike kontraksies te kom. Herinner haar daaraan om van posisie te verander en help haar daarmee.

Help haar oor die plato deur haar aan te moedig en te prys. Moenie paniekerig voel as haar gedrag nou verander nie - alles wat jy sien, is deel van 'n natuurlike kraamproses.

Oorgangfase

8-10 cm

Wat met jou lyf gebeur

Jou serviks is amper heeltemal oop. Kontraksies is nou baie na aan mekaar - twee tot vier minute uitmekaar en elkeen duur 50 tot 90 sekondes. Jy sal 'n verskil in die kontraksies kan voel, want die funksie verander van die ooptrek van die serviks na die uitdruk van die baba. Jou vlak van oksitosien - die hormoon wat die kontraksies veroorsaak - is baie hoog.

Ander tekens

Jy kan die drang kry om te druk, hoewel dit nie met almal gebeur nie. Jou vagina, rektum en lies sal "vol" voel. Dis algemeen om te bewe en naar te voel weens die hoë vlak van adrenalien en endorfiene.

Emosies

Adrenalien gee jou jou tweede wind en verskerp jou konsentrasie. Dit maak jou ook aggressief teenoor ander en beskermend oor die baba. Sommige vroue raak baie krapperig en ook erg ontmoedig. Onthou dat hierdie die donkerste deel van die kraamproses is.

Help jouself

Hanteer die kontraksies een op 'n slag. Elke kontraksie is een stappie nader aan die koms van jou baba. Ontspan tussendeur soveel as wat jy kan om jou energie te spaar vir die drukwerk wat kom. Hyg of blaas as jy voel jy moet druk en dis nog nie tyd nie.

Vir jou maat

Herinner haar daaraan dat die einde in sig is. Sy sal warm en sweterig wees. Plaas dus koel kompresse op haar nek en vra haar om stadiger asem te haal. Plaas jou hande liggies op die dele van haar lyf wat bewe. Sy het baie leiding nodig om deur die moeilike kontraksies te kom. As julle nog by die huis is, moet julle beslis nou by die hospitaal uitkom.

Stadium 2

Druk en geboorte

Wat met jou lyf gebeur

Die aard van die kontraksies verander en hulle voel meer hanteerbaar. Hulle is twee tot vyf minute uitmekaar en duur 50 tot 60 sekondes. Die baarmoeder druk met elke kontraksie na onder. Die baba beweeg in die geboortekanaal in en jy sal 'n brandsensasie by jou perineum voel omdat jou baba se kop die vagina begin rek.

Ander tekens

Die baarmoeder geniet tussen die eerste en tweede stadium 'n blaaskans. Dis normaal en dit kan tot 30 minute duur voor die kontraksies weer intens aan die gang kom.

Emosies

Jy voel kalmer wanneer jou tweede asem inskop en 'n sin van doelgerigtheid neem oor. Jy ervaar intense kontraksies - jy is baie wakker en gretig dat die geboorte nou moet plaasvind. Jy kan moeg voel as die druktydperk lank aanhou.

Help jouself

Druk net saam met 'n kontraksie en rus tussenin. Beproef kort, skerp druktegnieke eerder as lang tye van asem ophou, wat jou gouer moeg sal maak. Maak seker jy's in die beste drukposisie - hoe regopper, hoe beter.

Vir jou maat

Ondersteun haar lyf wanneer sy druk. Help haar om tussenin te ontspan. Vee haar gesig af en bied tussen kontraksies slukkies water aan of ys om aan te suig. As die baba eers gebore is, sal jy dalk die naelstring wil knip. Bespreek dit vooraf met die dokter.

Wenk Beveg kraampyne met visualisering. Verbeel jou jy dein in die oseaan saam met die branders op en neer, en dat jou kontraksies die patroon van die golwe volg.

Stadium 3

Geboorte van die plasenta

Wat met jou lyf gebeur

Die baarmoeder trek saam om die plasenta ook uit te skei. Jou borste is vol kolostrum, gereed vir jou baba se eerste voeding. Jou liggaamstemperatuur styg sodat jou lyf jou baba warm kan hou.

Ander tekens

Jy word moontlik gevra om die plasenta met 'n paar drukkies te help uitkry. Dit kan kramperig voel wanneer die baarmoeder saamtrek. Dis algemeen om te bewe.

Emosies

Jy voel verligting, blydskap en uitputting. Plaas jou baba teen jou vel.

Help jouself

Druk soos jy gevra word om die plasenta uit te kry. Ontspan jou bene en perineum as dit nodig is dat jy 'n paar stekies kry. Probeer jou baba borsvoed, want dit help ook dat die baarmoeder saamtrek en die plasenta uitdruk. Borsvoeding stel oksitosien vry, wat die baarmoeder styf laat saamtrek en so van enige agterblywende weefsel ontslae laat raak.

Vir jou maat

Prys haar omdat sy so ongelooflik sterk is. Help haar ontspan deur haar skouers te masseer. Dalk wil jy ook jul baba vashou.

Stadium 4

Die eerste uur ná geboorte

Wat met jou lyf gebeur

Die baarmoeder rus nou, maar jy kan matige kontraksies voel namate dit begin terugkrimp. Vaginale afskeiding is swaar en bloederig.

Ander tekens

Kontraksies sal weer voelbaar word wanneer jy borsvoed. Jy kan steeds koue rillings kry en bewe. Jou vagina voel teer en ongemaklik.

Emosies

Jy sal baie verskillende emosies ervaar, soos ekstase, blydskap en 'n oorweldigende liefde vir jou baba. Dalk voel jy ook teleurstelling en uitputting as die kraamtydperk baie lank was en moeiliker as wat jy verwag het. As jy eintlik maar min voel, moet jou nie daaroor bekommer nie. As jy eers kans gehad het om te rus en herstel, sal jy weer soos jou ou self begin voel.

Help jouself

Rus en ontspan. Fokus op jou baba en bied die bors aan. Haal asem tydens ongemaklike ondersoeke wat nodig kan wees. Jy sal dalk verbaas wees oor hoe honger jy skielik is. Deel hierdie spesiale tyd met jou maat - die onstaan van jul nuwe gesin.

Vir jou maat

Vra vir 'n warm kombers as sy koue rillings het. Herinner haar daaraan dat die bewing normaal is. Maak seker julle het iets te ete en te drinke. Hou jou baba vas en lê snoesig by jou vrou. Dis 'n spesiale en gewigtige oomblik. Baie geluk!

Tina Otte

SPELETJIES VANDAG

CTA