Wat is wiegiedood?
Wanneer 'n baba van een jaar en jonger skielik sonder verklaring sterf en dokters ná 'n volledige nadoodse ondersoek geen oorsaak van die sterfte kan vind nie, noem hulle dit wiegiedood.
Niemand weet presies wat wiegiedood veroorsaak nie, maar studies het al oor en oor bewys dat sekere faktore die gevaar verhoog dat dit met 'n baba gebeur.
Kenners verskil oor wanneer jou baba die kwesbaarste is. Oor die algemeen sterf babas tussen twee en vier maande oud daaraan. Altesaam 90 persent van sterftes vind onder die ouderdom van ses maande plaas. Daar is wel kenners wat reken dat jou baba tot op 'n jaar oud nog die gevaar loop om aan wiegiedood te sterf.
Wat jy kan doen
- Laat jou baba op haar rug slaap. Moenie haar op haar magie laat slaap nie; dit kan die gevaar van wiegiedood verhoog. Kenners reken die lugweë vernou, wat asemhaling moeilik maak. Jou baba se suurstofvlak kan ook daal omdat sy weer lug inasem wat sy reeds uitgeasem het.
- Moenie rook, drink of dwelms gebruik terwyl jy swanger is nie. Maak ook seker dat jy nie jou baba aan tweedehandse rook blootstel nie. Wanneer jy tydens swangerskap rook, is die risiko vyf keer groter dat jou baba aan wiegiedood kan sterf.
- Sorg dat jou baba nie te warm word nie. Kenners is dit eens dat oorverhitting jou baba dieper laat slaap, wat haar moeiliker laat wakker word as sy ophou asemhaal.
- 'n Ferm, plat matras is 'n goeie idee. Dit moet goed in die kot pas sodat daar geen gleuwe aan die kant is nie. Moenie jou baba op sagte oppervlaktes soos duvets, donskomberse, sagte speelgoed of kussings laat slaap nie.
- Draai jou baba stewig in 'n slaapsakkie toe en sit haar aan die onderkant van die kot. Wanneer jy haar só neerlê, kan sy nie met haar koppie onder die komberse ingly nie.
- Moet liefs nie dat jou pasgebore baba by jou in die bed slaap nie. Jou bed het dalk sagte beddegoed wat die risiko vir wiegiedood verhoog. Plaas egter gerus jou baba se kot in jou kamer.
- Wanneer borsvoeding gevestig is, kan jy haar aan 'n fopspeen bekendstel. Fopspene kan die gevaar van wiegiedood verminder. Onthou om haar fopspeen gereeld te steriliseer.
- Volgens navorsing waaroor in die joernaal Pediatrics berig is, kan borsvoeding die risiko vir wiegiedood met die helfte verminder. In ander studies is bespiegel dat borsmelk help om jou baba te beskerm teen infeksies wat moontlik die voorkoms van wiegiedood kan verhoog.
- Skaf 'n goeie babamonitor aan. Monitors se funksies kan insluit dat jy geluide in die babakamer kan hoor, jou baba op 'n klein skerm kan dophou en ook dat jou baba se asemhaling en beweging met behulp van 'n sensorkussing dopgehou word.
Wanneer jou baba 20 sekondes lank ophou asemhaal of nie beweeg nie, lui die alarm.
Hoor gerus by jou mediese fonds of hulle vir jou monitor sal betaal - sommiges doen dit. Vra 'n ICD-10- en 'n NAPPI-kode by die winkel en stuur dié kodes saam met jou eis aan die mediese fonds.



















