Hulle is mooi, dikwels binne bereik vir 'n naweek-uitstappie en boonop gratis om te ry. Ons het 'n lysie gemaak van 10 ikoniese passe in Suider-Afrika wat jy eenvoudig móét kan aftik op jou lys.
1. Prins Alfredpas
Waar is dit? Die Prins Alfredpas is die R339-grondpad tussen Knysna en Uniondale.
GPS op die kruin: S33.758293 E23.163135
Het ek 'n 4x4 nodig? Jy behoort maklik met 'n 4x2 te kan regkom, maar verlaag die banddruk tot 1,8 bar vir 'n geriefliker rit en beter vastrapvermoë.
Wat maak die pas spesiaal? Dit word beskou as 'n Thomas Bain-meesterstuk, en met meer as 200 skerp draaie is dit 'n gronpad-pretrit soos min. Met 'n lengte van 68 km is dit loshande die langste pas in Suid-Afrika en die tweede oudste pas wat steeds onveranderd gebruik word. Onthou ook, dis die Knysna-omgewing. Dis pragtig! Kyk uit vir murasies langs die pad. Dis glo een van die huise wat Bain gehou het as huisvesting vir die gevangenes wat aan die pas gewerk het.
2. Wildeperdehoekpas, Namakwaland

Waar is dit? Dié pas is deel van die Rooikat-ekoroete binne die Namakwa Nasionale Park, en gaan oor in die Messelpadpas.
GPS op die kruin: S29.944998 E17.632196
Het ek 'n 4x4 nodig? Die pas is baie mak in goeie weer, maar jy gaan 4x4 nodig hê as die reën uitsak.
Wat maak die pas spesiaal? In blommetyd sal jy jou oë nie glo nie, en op 'n goeie dag kan jy die tot Koingnaas en Hondeklipbaai in die weste sien. Dis ook nie regtig 'n hardebaard uitdaging vir bestuurders nie en is 'n lekker gesinsuitstappie - behalwe dalk vir 'n bietjie hoogtevrees hier en daar.
3. Swartbergpas

Waar is dit? Die pas loop deur die Swartberge tussen Oudtshoorn in die suide en Prins Albert in die noorde.
GPS op die kruin: S33.352335 E22.046130
Het ek 'n 4x4 nodig? Daar is mense wat dit in gewone voertuie aanpak, maar jy sal dankbaar wees vir jou 4x4, veral in die winter wanneer die hoër dele gereeld met sneeu bedek is.
Wat maak die pas spesiaal? Dié pas is nie net 'n ikoniese bergpas nie, maar ook 'n nasionale gedenkwaardigheid. 'n Groot deel van die Swartberge, waardeur dit kronkel, is 'n Unesco-erfenisgebied. Dit was Thomas Bain se laaste pas en is tussen 1883 en 1886 gebou. Die geologie, blomme en diere sal jou asem wegslaan. Maak jou gereed vir skerp draaie - soms moet jy eers 'n entjie terugstoot om óm die draai te kom, en geen swaar voertuie of woonwaens word toegelaat nie. Wees op die uitkyk vir die "Pine bush picnic area" - jy sal in daardie omgewing die begin van die 75 km lange 4x4-roete kry (kry 'n permit hiervoor by Cape Nature of die Swartbergpas-natuurreservaat).
'n Paar kilometer verder aan sal jy ook die afdraai na die bekende Gamkaskloof (beter bekend as Die Hel) kry wat ook 'n verpligte avontuur vir 4x4-entoesiaste is.
4. Gamkaskloof (die Hel)

Waar is dit? Jy kry die afdraai na die Gamkaskloof sowat 7 km vanaf die kruin op die Swartbergpas (tussen Oudtshoorn en Prins Albert).
GPS by die begin van die roete: S33.344449 E21.899245
Het ek 'n 4x4 nodig? Dis nie noodsaaklik as dit droog is nie, maar jy het goeie grondvryhoogte nodig. In slegte weer gaan 'n 4x4 jou bas red.
Wat maak die pas spesiaal? Uit die oogpunt van die natuurskoon is dit die hemel, ongeag die intimiderende naam "Die Hel". Daar is honderde kronkels en draaie, tientalle driffies en 'n asemrowende uitsig oor die kloof wat mettertyd voor jou ontvou. En dan die feit dat dit jou gewoonlik 2 ½ uur neem om daai 50 kilometer soontoe af te lê.
Ons beveel dus aan dat jy in een van Cape Nature se pragtige selfsorg-kothuise onder in die kloof oornag.
5. Kliphuiskloofpas

Waar is dit? Tussen Ceres en Calvinia.
GPS op die kruin: S32.201557 E19.463365
Het ek 'n 4x4 nodig? Die pas is uit en uit 'n 4x4-roete en nie vir groentjies bedoel nie.
Wat maak die pas spesiaal? Die roete oor die pas begin by die Doringrivierkloof en strek oor 50 km van ruwe, rotsagtige terrein tot by Agterfontein se Kloof. Veral die laaste ent tot by die kruin verg 'n steil klim oor klipperige grond waar jy jou storie moet ken. Kyk ook uit vir die pragtige (en makker) "ou posroete" tussen Elandsvlei en die Biedouwvallei (tussen Clanwilliam en Wuppertal) in die omgewing.
6. Naudésnekpas

Waar is dit? Die pas is in die omgewing van Rhodes en Maclear in die Oos-Kaap. Dis op 'n punt waar die Maloti-, Drakensberg en Witteberge bymekaarkom.
GPS op die kruin: S30.764752 E28.105529
Het ek 'n 4x4 nodig? In reën- en sneeuweer sal jy nie sonder 'n 4x4 oor die pas kan kom nie.
Wat maak die pas spesiaal? Dis die een kerf wat byna elke 4x4-bestuurder op sy belt wil hê en bied volop haarnaalddraaie. Hou maar die asmapompie byderhand. In die winter is dit byna gewaarborg dat jy mis, sneeu of donderstorms sal teëkom. Naudésnek is die tweede hoogste grondpad in Suid-Afrika en deel van 'n knoets van verskeie ikoniese bergpasse.
Dis net 32,5 km lank, maar laat heelwat tyd toe om dit te ry. Berei jou ook voor vir noodgevalle, want jy sal min ander voertuie op die pas teëkom.
7. Sanipas

Waar is dit? Sanipas is ná die dorpie Himeville in die Drakensberge van KwaZulu-Natal, op die pad na Lesotho. Baie mense dink die pas is in Lesotho, maar jy ry eintlik eers op die kruin deur ons buurland se grens.
GPS op die kruin: S29.584477 E29.285431
Het ek 'n 4x4 nodig? Daar is heelwat bestuurders wat Sani in 4x2's of sagte veldryers pak, maar jy moet dít liefs net in die somer waag. As daar enigsins sneeu of reën geval het, moet jy met 'n 4x4 met goeie grondvryhoogte en die regte bande ry. En as daar ys is, moet jy liewer verby hou, tensy jy sneeukettings het.
Wat maak die pas spesiaal? Alhoewel Sani nie Suid-Afrika se moeilikste pas is nie, is dit een van sy bekendste onder veldryers. Dis een van die mooiste passe wat jy ooit sal ry. Die pad klim skerp teen die Drakensberge uit, met 'n paar haarnaalddraaie aan die bokant wat jou konsentrasie gaan toets. En met elke draai word die wêreld om jou meer sprokiesagtig soos jy die Bergkoninkryk van Lesotho nader.
8. Matebengpas

Waar is dit? Nou hierdie pas is rêrig in Lesotho. Die Matebengpas lê in die suidoostelike hoek van die land, sowat 20 km voor die Sehlabathebe Nasionale Park.
GPS op die kruin: S29.876813 E 28.971114
Het ek 'n 4x4 nodig? Verkieslik, ja. Die pas is redelik steil en hoewel dit maklik sal wees as jy in droë weer ry, is dit nie kinderspeletjies in die reën nie. In dié wêreld verander die weer vinnig en die paaie daarmee saam. As dit eers hier begin sous, hou dit sommer vir 'n paar dae aan. En as dit erg gesneeu het, wel dan het jy probleme.
Wat maak die pas spesiaal? Matebengpas is baie meer ongerep as Sani. Al wat 'n pad in Lesotho is, word deesdae geteer, maar Matebeng kon tot nou toe dit vryspring. Die pas is lekker stil en die uitsigte is net so mooi as die parke in Lesotho.
9. Normandienpas

Waar is dit? Newcastle, KwaZulu-Natal
GPS op die kruin: S27.957016 E29.662677
Het ek 'n 4x4 nodig? In goeie weer sal jy die mas met 'n 4x2 opkom.
Wat maak die pas spesiaal? Dit is ongetwyfeld een van die móét-ry-grondpadpasse in KwaZulu-Natal en bied steil opdraandes, haarnaalddraaie, sigsagpaaie en pragtige uitsigte. Die pas het 'n goeie ryoppervlak en die sowat 35 km sal jou 'n uur besig hou, maar dit gaan 'n lekker uur wees. Pak jou kamera, want jou vriende gaan jou nie glo as jy vir hulle vertel hoe mooi dié wêreld is nie.
10. Van Zylspas

Waar is dit? Van Zylspas is in die Kaokoland, naby Okangwati in die verre noordweste van Namibië.
GPS op die kruin: S17.63638 E12.71013.
Het ek 'n 4x4 nodig? Kry al jou ammunisie gereed, vir hierdie pas het jy laestrek, 'n ewenaarslot, goeie grondvryhoogte en ordentlike bande nodig. Jy moet Van Zylspas ook liefs nie alleen ry nie. Onthou ook, daar is 'n "gentlemen's agreement" dat mense die pas net van oos na wes ry, nie anderkant om nie omdat dit eenvoudig te steil is.
Wat maak die pas spesiaal? Hierdie is een van daai passe waarteen almal hulleself wil meet. Dis op byna elke 4x4-eienaar se emmerskoplys. Die pas het lekker tegniese uitdagings, maar dis ook nie so lank dat jy ure lank met moeilike hindernisse moet sukkel nie. Terwyl jy die pas probeer baasraak, gaan jou oë die heeltyd op die terrein voor jou wees, maar daar is uitkykpunte waar jy 'n mooi uitsig oor die Marienfluss, doer ver onder jou, kan kry.
- Ekstra inligting van www.mountainpassessouthafrica.co.za












