1. Die Parador-hotel op San Marcos-plein
Die Spaanse regering het 'n reeks katedrale, paleise en kastele in luukse hotelle omskep as deel van 'n veldtog om geboue van nasionale belang behoue te laat bly. Drie Parador-hotelle is op die Camino. Die Parador op San Marcos-plein was eeue gelede 'n herberg vir pelgrims en jy kan die simbole oral in die gebou sien. Al slaap jy nie hier nie, kom hierheen vir 'n koffie en om die pelgrimstandbeeld op die plein te sien.

2. Die San Marcos-katedraal en plein
Die klooster by dié katedraal was voorheen die hoofkwartier van die Tempelridders in die streek, en die beeldhouwerk rondom die ingang is 'n prenteverhaal waarby verskeie pelgrimsmotiewe ingesluit is, soos byvoorbeeld die swaard van Santiago en rye en rye van die Camino-skulpe. Die kateldraalmuseum huisves ook etlike pelgrimartefakte van oor die eeue heen.


3. Die León-katedraal
Dié Gotiese katedraal dateer uit die 13de eeu en was 'n inspirasie vir Gaudi se Casa Botines. Op die Plaza Regal voor die katedraal sal jy 'n toeristekantoor kry, maar die amptenare se Engels was maar so-so toe ek daar was. By die een ingang is 'n verweerde beeld van die Santiago Peregrino. Die katedraal word ook die "Katedraal sonder mure" genoem vanweë sy 125 gebrandskilderde vensters. Die katedraal het meer glas en minder stene as enige ander katedraal in Spanje. Trouens, die gebou het soveel vensters dat dit sy struktuur benadeel het, en 'n deel van die katedraal het in die 19de eeu ingestort.
4. Die San Isidoro-katedraal
Benewens die interessante kuns in die katedraal, huisves dit ook een van die Puerta del Perdón, oftewel die Poorte van Vergifnis, op die Camino. In die Middeleeue kon pelgrims wat te siek was om Santiago te haal, "kortpad" vat deur die Poort en dieselfde vergifnis kry as 'n pelgrim wat die hele reis afgelê het. Deesdae sluit hulle net die poorte oop in 'n Heilige Jaar, dus 'n jaar waarin die Jakobus-viering op 'n Sondag val. Ek was onseker oor presies watter deure dié poort was, en die toeristekantoor was nie van veel hulp nie.

5. Die Romeinse muur
Die muur is in die laat 3de of vroeg 4de eeu voltooi, en slegs enkele stukke daarvan is nog te sien. Die grootste stuk wat vandag oor is, kom uit die tydperk van koning Alfonso V (1010).

6. Casa Botines

Gaudi het hierdie Art Nouveau-meesterstuk vir die tekstielmagnate Simon Fernandez en Mariano Andrés ontwerp. Dis in 1892 voltooi. Die boonste vloere was woonstelle, en die onderste vloere was 'n fabrieksruimte. Tydens herstelwerk is Gaudi se oorspronklike planne, nogals in 3D geteken, versteek in die beeld bo die ingang gevind. Dit het die afgelope dekades aan 'n bank behoort, wat die boonste vloer as 'n indrukwekkende konferensievertrek ingerig het, maar die meeste van die vloere word nou as 'n museum benut.












