Reis

Rubriek: Om langs die pad te staan...

(Picasa)

Op skool het die fliek Pay It Forward nogal 'n indruk op my gemaak. Die beginsel is eenvoudig: Jy doen 'n goeie daad vir iemand met die voorwaarde dat hulle dan weer goeie dade vir ander mense sal doen. Maklik.

Met al die gebrekkige geluk wat ek al met motors in my lewe gehad het, glo ek beslis in hierdie beginsel. Dit het alles op universiteit begin.

Ek en my kamermaat, Jeremi, was op pad huis toe met my Rooi Ford Laser ná 'n lang, moeisame kwartaal van swot en klasdraf en toetse skryf.

Ons het ook die vorige aand nét een bier saam met vriende gedrink om die einde van nog 'n kwartaal te vier. Gewapen met 'n boksie kopseerpille en 'n bottel water vat ons toe die pad.

Dis 160 km tussen Bloemfontein en Welkom, en ek het geskat ons brandstof sal ons tot daar bring. Ek het egter nie rekening gehou met die wind wat dié dag kwaai van voor af gewaai het nie.

Die Lasertjie het swaar getrek en op Brandfort besef ons die brandstof gaan nie die paal haal nie.

Geen probleem nie, of hoe? Soos dit egter 'n student betaam, het ons niks geld nie. Alles is natuurlik in handboeke koop en klasnotas fotostateer in…

Ons het albei minder as die verpligte R20 in ons bankrekening oor en besluit om dan maar in die bank in te gaan en al die geld te trek. Sowat R30 se ekstra petrol (dis nou nie met vandag se petrolprys nie) sal ons tuis kry, waar Pa weer kan vol maak.

Die twee vriendelike tannies by Absa het ons storie so gestaan en luister toe ons al die kontant wou trek en net kop geskud. "Ons sal dan die rekeninge moet sluit."

Maar hulle was goeie en gawe Samaritane en hou 'n vinnige geldinsameling agter die toonbank en gee vir ons R40 petrolgeld, wat ons toe by die huis kry.

Ná die vakansie op pad terug het ek weer by die bank stilgehou om hulle terug te betaal, maar nie een van die twee het daardie dag gewerk nie. Die jong vrou wat wel aan diens was, het gelag en gesê ons moet die geld gebruik om iemand anders te help.

Sy het seker ook al die fliek gesien, en dis net daar dat ek besluit het om mense langs die pad te help.

Tot dusver het ek al baie keer stilgehou om iemand te help om 'n band om te ruil, of om te wag dat die enjin afkoel voor ons weer water ingooi, of selfs om te keer dat die battery 'n kortsluiting maak wat die kar kan laat uitbrand.

Toe trou ek. My vrou bring 'n Volkswagen Golfie na die huwelik wat vermoedelik 'n Avis Golfie in sy vorige lewe was. "Driven like a rental," staan beslis op die Golfie se CV.

Die enjin was gaar en het ons baie kopseer en hulp van vriende gekos om hom aan die gang te hou.

Eenmaal het ons van die Strand na Brackenfell getrek. Met die treklorrie op pad na die nuwe huis, laai ek toe ons twee Labradors in die Golfie en vat die pad om anderkant te gaan oopsluit.

Halfpad tussen die Strand en Brackenfell, langs 'n besige hoofweg op 'n bloedige warm somersdag, besluit die waaierband van die Golfie om na die waaierbandhemel te vertrek.

Daar staan ek toe, al my gereedskap is in die treklorrie, daar is geen manier dat hulle langs die pad gaan stop nie, en my vrou antwoord nie haar foon nie.

Met die honde wat met lang tonge deur die oop ruite na vars lug lek, staan ek toe daar.

Terwyl ek moedeloos wonder hoekom ek nog nooit 'n sykous onder die sitplek ingegooi het nie, hou 'n man op 'n poegie by my stil. Ek kry nou nog skaam dat ek aanvanklik gedink het hier kom moeilikheid.

"How can I be of assistance? Seeing as I am a Golf specialist," laat waai hy met 'n breë glimlag.

Hy hou 'n stukkie papier na my uit - sy besigheidskaartjie. "Ross *handyman, *mechanic,* mover and shaker. **For general handymanwork, moving house, vehicle repairs: **Golf-specialist** NO JOB TOO SMALL."

Hy verneem na wat skort en trek weg met 'n spoed om 'n waaierband te kry. 'n Halfuur later stop hy weer by my, sit in 'n oogwink 'n nuwe waaierband op en glimlag maar net toe ek 'n paar note in sy hand druk.

"Please remember me, my lanie, ek doen enige werk."

Onlangs het ek die kans gekry om Ross se goeie daad terug te betaal. Vroegoggend op pad werk toe met die son wat net-net begin kop uitsteek, sien ek 'n silwer Fortuner langs die pad staan.

Eers het dit gelyk asof net een wiel pap is, maar soos ek verbyry, sien ek al vier is pap.

Dis 'n stillerige straat en ek kry vinnig omdraaiplek.

"Is julle manne oraait?"

Twee paar bloedbelope oë loer deur die venster.

"Jy kan ons nie dalk help nie?" vra die bestuurder en ek stem in om gou my kompressor by die huis te gaan haal.

Die twee broers was die vorige aand by 'n funksie waar die wyn geloop het. En omdat Kleinboet by Ouboet kom kuier het, was dit 'n gefuif in die oortreffende trap, vertel hulle my terwyl die kompressor pomp.

Ná die partytjie het hulle die Fortuner se sandryvaardighede op 'n kol sand gaan oefen, vasgeval en toe besluit om die bande af te blaas. Maar heeltemal te ver. Dié dat hulle nou al vier uur lank langs die pad staan en wag vir ander pêl om van sy huis af te kom om te kom help.

Met bande wat weer styf genoeg is om veilig by die vulstasie te kom, skei ons paadjies met Ouboet en Kleinboet wat nie genoeg keer dankie kan sê en kan waai nie.

Ek vermoed die kassier van die 24-uur-winkel by die vulstasie was dalk dié keer die gelukkige wenner van die verskuldigde guns, want dié twee sou enigiets betaal vir 'n pakkie kopseerpille…

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM